Die geliefde Afrikaanse sanger en liedjieskrywer Len Muller, bekend vir sy diepgaande lirieke en roerende musiek, het ’n nuwe hoofstuk in sy musiekreis geskryf met die vrystelling van sy jongste enkelsnit, “Alles van My”, saam met die talentvolle Taye. Hierdie duet is meer as net ’n lied – dit is ’n eerlike gesprek oor liefde, geloof en oorgawe.
“Alles van My” het sy oorsprong in Len se soeke na ’n eerlike uitdrukking van ware liefde en oorgawe.
“Die lied is gebore uit ’n behoefte om weer oor te gee en nuut lief te hê. Liefde kan nie halfpad werk nie – jy moet alles gee, jou hele hart en jou hele lewe,” verduidelik Len.
Met ’n vars popklank en subtiele 80’s-invloede, is die lied ’n perfekte kombinasie van moderne produksie en rou eerlikheid. Die lirieke, soos “Alles van my soek alles van jou” en “Loop ek op die water met my oë op Jou”, dra ’n boodskap van hoop, geloof en die krag van liefde wat alles oorwin.
Taye, wat onlangs groot gedoop is en deur ’n tyd van groot verandering beweeg het, bring ’n unieke en brose sagtheid na die duet.
“Len se musiek is baie oop en eerlik – dit het my aangetrek om ook ’n deel van my te wys wat nie almal sien nie. Hier het ek my sagte kant gewys, en ek hoop dit help mense om weer nader aan God te beweeg,” sê sy.
“Ek het Taye raakgesien toe sy een van my liedjies op TikTok gesing het. Toe ons begin gesels en sy haar storie deel, het ek geweet dit is die regte tyd en die regte stem. Sy het vars energie en rou eerlikheid ingebring wat die boodskap net sterker gemaak het.”
Alhoewel Len en Taye ver van mekaar af woon, het tegnologie die samewerking moontlik gemaak. Met video calls, digitale klankuitruilings en Gideon Botes as vervaardiger, het die liedjie ’n balans gevind tussen studio-kuns en afstandsamewerking.
“Dit was asof dit bedoel was – ons stemme het net natuurlik saamgesmelt,” sê Taye.
“Alles van My” is uiteindelik meer as net ’n liefdeslied. Dit is ’n dialoog tussen twee stemme – ’n man en ’n vrou – wat oor liefde, geloof en hoop praat. Dit herinner luisteraars dat ware liefde altyd ’n keuse is, en dat geloof jou kan dra selfs wanneer storms woed.
Vir Taye is die boodskap diep persoonlik:
“Die liriek ‘Loop ek op die water met my oë op Jou’ resoneer die sterkste met my. Dit herinner my daaraan om altyd my fokus op God te hou, want Hy is altyd daar – ongeag die storms.”











