Nov 28, 2025

Brandon Miles Vier Kuierkultuur En Vriendskap Met Sy Nuwe Enkelsnit: “Vat Vas”

Brandon Miles is terug met ’n splinternuwe enkelsnit wat die hart van elke Suid-Afrikaanse kuier vasvang. Sy jongste lied, “Vat Vas”, is ’n energieke, feel-good kuieranthem wat luisteraars onmiddellik in ’n beter bui plaas – die soort lied wat jou laat lag, saam sing en sommer gou weer jou pêlle nader trek.

Die inspirasie vir “Vat Vas” het spontaan ontstaan tydens ’n kuier tussen Brandon en ’n goeie vriend.
“Ons het altyd gesê, ‘kom ons vat vas’, want dis so ’n lekker sêding,” verduidelik Brandon. “Toe dink ons… hoekom skryf ons nie sommer ’n hele liedjie daaroor nie? Die lirieke is gebou rondom lekker tye, herinneringe en lekker memories wat ons al saam beleef het. Dis regtig net ’n lied om ’n goeie tyd vas te vang.”

Die lied is saam met ’n vriend geskryf – ’n natuurlike uitbreiding van die gevoel van kameraadskap wat sentraal staan tot die tema.
“Dit is definitief ’n kuierliedjie,” sê Brandon. “Ons wou hê mense moet iets hê om te speel as die vure aan is, die cooler gelaai is en die manne en meisies regstaan vir ’n laatnag dans.”

“Vat Vas” val in die alternatiewe Afrikaans pop-rock-spektrum, met sterk fokus op kitaarwerk wat jou voete laat beweeg. Die lied is saam met Fred den Hartog en Armand geskep en binne net één dag by Fred se ateljee opgeneem.

“Ons het vinnig gewerk – alles moes perfek bymekaar kom,” sê Brandon. “Die kitare was ’n groot fokuspunt… ’n lekker riff laat sommer enige iemand lus raak om te dans.”

Die frase “drop die clutch” in die lied is gebaseer op ’n ou grappie tussen Brandon en sy vriende.

“Ons het ’n ou bakkie gehad wat nie wou afsit nie,” lag hy. “Jy moes vinnig die clutch drop en die briek trap om hom af te sit. Dit het sulke groot stories opgelewer – so ons het dit sommer in die lied ingeskryf.”

Die resultaat? ’n Lied propvol inside jokes, kultuur, herinneringe en die tipe stories wat elke vriendekring êrens herken.

Vir Brandon is “Vat Vas” méér as net ’n partytjietune.
“Dis om vriende, kuier en mense se connect met mekaar op te som. Die lewe is te kort – vat vas aan mekaar en aan die oomblikke.”

Hy plaas ook klem op die waarde van mensgemaakte kuns in ’n era van vinnige AI-produksie.
“AI kan vir jou ’n liedjie skryf, maar dit kan nooit die human touch wegvat van om met ’n pen en papier jou emosie vas te vang nie.”

Volg vir Ampie op:

PUBLISITEIT & BEMARKING :
Vonk Musiek
Ashley Du Toit
Sel: 083 963 3055
E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

PLATEMAATSKAPPY :
Vonk Musiek
Francois Roux
Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
E-pos : francois@vonkmusiek.co.za