Mar 13, 2026

Wynand Strydom bring nostalgie tot lewe met nuwe enkelsnit “Gister se Spore”

Die geliefde Afrikaanse kunstenaar Wynand Strydom neem luisteraars op ’n emosionele reis terug na eenvoudiger dae met sy nuwe enkelsnit “Gister se Spore” — ’n lied wat diep gewortel is in nostalgie, herinneringe en die spore wat ons verlede op ons lewenspad laat.

Volgens Strydom is die lied gebore uit ’n plek van opregte verlange na ’n tyd wat eens bekend en veilig gevoel het. “Gister se Spore is 100% gebore uit ’n plek van nostalgie — die verlange na dinge wat eens op ’n tyd vir my bekend was,” vertel hy.

Die lirieke skets ’n wêreld van kinderdae waar dinge eenvoudiger gevoel het — ’n tyd van gebede voor etes, koekies uit Ma se kombuis, boomhuise, dam-swemmery en sport-uitsendings op die radio. Hierdie beelde, saam met kulturele verwysings soos Dok Craven, Northstar tekkies en Oranje Blanje Blou, skep ’n nostalgiese prentjie van ’n spesifieke era in Suid-Afrika se geskiedenis.

Vir Strydom is “gister se spore” meer as net herinneringe. “Dit is spore wat my gemaak en gevorm het — ’n gevoel van hoort,” verduidelik hy. Die lied reflekteer op die rol wat geloof, familie en tradisie speel in die vorming van ’n mens se identiteit en hoe hierdie waardes dikwels die kern van ons lewensverhale bly.

Hoewel die lied sterk fokus op sy eie grootwordjare, glo Strydom dat die tema universeel is. “Elke mens op hierdie aarde trap sy eie spore,” sê hy. “Hierdie lied is vir almal wat dalk al van hul eie spore vergeet het.”

Die produksie van “Gister se Spore” ondersteun die nostalgiese tema met ’n tradisionele, maar opgewekte klank. Volgens Strydom was dit belangrik dat die lied nie net hartseer terugkyk na die verlede nie, maar eerder ’n gevoel van dankbaarheid en positiewe herinneringe skep.

“Ek wou hê mense moet trots, dankbaarheid en verlange voel wanneer hulle die koor hoor,” sê hy.

Wynand glo die lied kan ook ’n breër gesprek oopmaak oor hoe mense na hul verlede kyk. “Dit gaan nie noodwendig ons siening van vandag verander nie, maar dit gee ’n mens die kans om vir ’n oomblik stil te staan en te dink: waar kom ek vandaan?”

“Gister se Spore” bly getrou aan Strydom se kenmerkende styl van storievertel deur musiek, iets waarvoor hy oor jare heen bekend geword het.

Die enkelsnit vorm deel van ’n groter projek — ’n versameling van ou en nuwe liedjies wat op 31 Mei vrygestel sal word.

Met hierdie vrystelling herinner Wynand Strydom luisteraars dat die spore van gister steeds ’n rol speel in wie ons vandag is.

Soos hy dit self vir die media opsom:
“Gister se Spore – terug na nostalgie en sorgelose dae.”

Volg vir Wynand Strydom op:

PUBLISITEIT & BEMARKING :
Vonk Musiek
Ashley Du Toit
Sel: 083 963 3055
E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

PLATEMAATSKAPPY :
Vonk Musiek
Francois Roux
Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
E-pos : francois@vonkmusiek.co.za