Optredes

  • Tot Daar Waar Die Lig Is
  • Twee Klein Oseane
  • KleinGroenBlohm
  • Noord Tot Suid
  • Uiteindelik
Jul 17, 2026

Vrede En Net Francois Vat Saam ’N Tree Terug Met Eerlike Nuwe Enkelsnit

“’n Tree Terug” herinner luisteraars dat mens soms moet stilstaan, terugkyk en vrede maak voordat jy werklik vorentoe kan beweeg

Vrede en Net Francois span kragte saam vir die nuwe enkelsnit, “’n Tree Terug” — ’n nostalgiese folk-rock-lied wat eerlik kyk na groei, verhoudings, tyd en die moeilike besluite wat soms nodig is om weer jouself te kies.

Met sy warm harmonieë, persoonlike lirieke, subtiele country-invloede en die kenmerkende terugkeer van Vrede se bekfluitjie, bring die lied twee musikale wêrelde bymekaar sonder dat enigeen van die kunstenaars se identiteit verlore gaan.

“’n Tree Terug” begin met die treffende uitnodiging: “Saggies vat ons ’n tree terug.” Volgens Storm Opperman van Vrede gaan dié woorde oor persoonlike refleksie sonder vertoon of verduideliking.

“Dit gaan daaroor om persoonlik oor jou lewe te kyk, sonder om vir iemand te vertel of ’n groot toneel daarvan te maak,” verduidelik hy. “Wanneer jy ’n tree terug gee, kan jy die groter prentjie beter sien.”

Vir Net Francois lê die oorsprong van die lied in die moeilike proses om iets agter te laat — selfs wanneer ’n mens weet dat dit nodig is.

“Vir my was die oorspronklike gedagte die gevoel van iets wat jy moet agterlaat, maar wat nie altyd maklik is om te laat gaan nie,” vertel hy. “Die sterkste gevoel in die lied is om vrede te maak met iets wat verby is, dit te aanvaar en terselfdertyd opgewonde te wees oor wat nog voorlê.”

Hoewel die kunstenaars aanvanklik verskillende verse vir die lied geskryf het, het die sentrale tema van terugkyk, aanvaar en vorentoe beweeg uiteindelik die rigting bepaal. Ná ’n lang soektog na die regte titel, het “’n Tree Terug” vanselfsprekend begin voel.

“Ons het byna twee maande lank na ’n titel gesoek, maar uiteindelik was ‘Tree Terug’ die enigste opsie,” sê Net Francois.

Die samewerking het ontstaan nadat Net Francois by Vonk Musiek aangesluit en ’n onmiddellike musikale verbintenis met die lede van Vrede gevorm het.

“Franna en Storm het my met ope arms ontvang,” vertel Net Francois. “Hulle is altyd my tweede paar ore en van my beste raadgewers. Selfs voordat ek by Vonk aangekom het, was Vrede een van my gunstelinggroepe.”

Storm vertel dat hulle Net Francois — wat hy ook as Viv ken — ontmoet het en vinnig goeie vriende geword het.

“Ons is mal oor sy band, Kerkstraat, en wou graag sy kreatiewe brein nader trek en saam met hom ’n lied skryf,” sê hy.

Die lied het werklik begin vorm aanneem toe die drie kunstenaars saam in die ateljee begin speel en eksperimenteer het. Veral die baslyn het nuwe idees en inspirasie ontsluit.

“Ek het met die aanvanklike idee na Storm toe gegaan en hom en Francois gevra om my te help om daaraan te skryf,” vertel Net Francois. “Ons het saam in die ateljee begin speel en dit was besonders. Die baslyn het baie gevoel en inspirasie by ons wakker gemaak, en van daar af het alles natuurlik gevloei.”

Die kunstenaars het ook nie vooraf streng besluit wie watter dele sou sing nie. Die verdeling het organies gebeur op grond van die emosie en energie van elke gedeelte.

Volgens Net Francois was dit vanselfsprekend dat Storm die lied sou open.

“Storm het ’n fantastiese stem en dit het natuurlik gevoel om hom eerste te laat sing. Francois se intieme stem pas perfek by die rustiger gedeelte aan die einde, en ek bevind myself maar tussenin.”

Nostalgie vorm ’n belangrike deel van “’n Tree Terug”. Die kunstenaars kyk terug na fases van die lewe wat destyds alledaags gevoel het, maar later nuwe betekenis kry.

Die reël “Wens ek kon geweet het dat dit die goeie ou dae was” vang daardie gevoel vas — die besef dat mense dikwels eers later verstaan hoe besonders ’n bepaalde tydperk werklik was.

“Vir my is die goeie ou dae tye sonder druk en tweede gedagtes,” sê Net Francois. “Dit is ’n tyd voordat ’n mens alles begin oordink het.”

Storm beskou verskillende fases van sy lewe as afsonderlike hoofstukke.

“Daardie herinneringe voel soms soos ’n ander lewe,” verduidelik hy. “Een hoofstuk moet afgesluit word voordat ’n nuwe een kan begin.”

Die lied kyk egter nie net met verlange terug nie. Dit gaan ook oor die besluite wat mense moet neem om hulself te beskerm en vorentoe te beweeg. Vir Storm is een van die belangrikste boodskappe dat nie almal in ’n mens se lewe jou groei en sukses ondersteun nie.

“Soms moet ’n mens mense wat nie wil hê jy moet floreer nie, uit jou lewe verwyder,” sê hy. “Daar is verhoudings wat nie waarde bring nie en mense wat jou energie tap. Die lied gaan vir my nie noodwendig oor romantiese liefde nie, maar oor enige verhouding wat jou terughou.”

Net Francois glo dat die lied doelbewus oop genoeg gelaat is sodat elke luisteraar sy of haar eie betekenis daarin kan vind.

“Dit kan oor liefde, vriendskap, vergifnis of iets groter gaan,” sê hy. “Ons wil hê mense moet dit interpreteer volgens hul eie ervarings.”

Een van die lied se sentrale lirieke, “Beter bestaan nie sonder lesse nie,” som die kernboodskap van die enkelsnit op.

“’n Mens moenie bang wees om lesse te leer nie,” sê Net Francois. “Ons leer deur foute te maak. Selfs wanneer iets seermaak, kan ’n mens steeds iets positief daaruit neem.”

Die lied se beeld van tyd wat “soos geld in ons sakke brand” beklemtoon ook hoe maklik mense hul kosbaarste hulpbron vermors.

“Tyd mors en geld mors is amper dieselfde ding,” sê Storm. “Die verskil is dat ’n mens weer geld kan maak, maar jy kan nooit tyd terugkry nie.”

Vir Net Francois is tyd iets wat slegs aan mense geleen word.

“Wanneer iets in jou sak brand, weet jy dat jy dit moet gebruik. Tyd is geleen, en daarom moet ons dit benut.”

Musikaal beskryf Storm “’n Tree Terug” as folk-rock met ’n sterker country-gevoel as sommige van Vrede se vorige vrystellings. Vrede bring hul gevestigde skryfstyl, stemme, ervaring en die bekfluitjie na die lied, terwyl Net Francois vars produksie-elemente, ’n alternatiewe aanslag en ’n effens sterker rock-klank byvoeg.

Vir Net Francois verskil die lied merkbaar van sy meer retro-pop-georiënteerde musiek.

“Daar is steeds van daardie invloede in die lied, maar vir my was dit belangrik om Vrede se klank te respekteer en reg vas te vang,” verduidelik hy. “Dat hulle my nie net as ’n medemusikant nie, maar ook as vervaardiger vertrou het, is vir my ’n ongelooflike voorreg en eer.”

Die samewerking het volgens die kunstenaars bevestig dat musiek dikwels ’n gemeenskaplike taal word, selfs tussen mense met verskillende agtergronde en musikale benaderings.

“Samewerkings is altyd besonders,” sê Storm. “Al verskil mense buite die ateljee, praat almal dieselfde taal wanneer die musiek begin.”

Met “’n Tree Terug” hoop Vrede en Net Francois dat luisteraars vir ’n oomblik sal stilstaan en oor hul eie lewe, verhoudings en keuses sal nadink.

“Dit is nie verkeerd om uit ’n situasie terug te tree wanneer dit jou seermaak nie,” sê Net Francois. “As die lied iemand laat besef dat hy of sy iets kan los, ’n les daaruit kan neem en steeds met hoop vorentoe kan beweeg, het die lied sy doel bereik.”

Hoewel daar nog geen vaste planne vir ’n volgende samewerking aangekondig is nie, is albei kunstenaars positief oor die moontlikheid.

“Ek hoop beslis so,” sê Net Francois. “Ons moet sommer meer vertonings saam doen — of dalk moet ek die volgende lied saam met die manne in die Kaap gaan maak.”

“’n Tree Terug” is ’n eerlike herinnering dat vorentoe beweeg nie altyd beteken om harder of vinniger te probeer nie. Soms begin groei juis wanneer ’n mens saggies stilstaan, terugkyk en die moed vind om een tree terug te gee.

 

Volg vir Vrede op:

PUBLISITEIT & BEMARKING :
Vonk Musiek
Ashley Du Toit
Sel: 083 963 3055
E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

PLATEMAATSKAPPY :
Vonk Musiek
Francois Roux
Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
E-pos : francois@vonkmusiek.co.za

Optredes

  • Tot Daar Waar Die Lig Is
  • Twee Klein Oseane
  • KleinGroenBlohm
  • Noord Tot Suid
  • Uiteindelik