Okt 24, 2025

Ampie En Tuin Verenig Stemme En Stories In Nuwe Lied “Konfetti Sonder Kleur”

Die Gewilde Afrikaanse sanger en liedjieskrywer Ampie het hande gevat met die opkomende kunstenaar Tuin om die hartroerende lied “Konfetti sonder kleur” aan luisteraars bekend te stel. Hierdie lied, oorspronklik deur Tuin geskryf vir die FAK Skryfit-kompetisie, bring ’n kragtige boodskap van geloof, kwesbaarheid, genesing en hoop.

“Hier is ek, jou donker is okay met my” – só begin die lied, wat onmiddellik luisteraars intrek in ’n eerlike en rou gesprek oor pyn en aanvaarding. Met beeldryke lirieke soos “konfetti sonder kleur” en “dat die maan vir die son plek maak”, vang Tuin se skryfwerk universele temas van stryd, genesing en uiteindelike lig vas

Volgens Tuin simboliseer die beeld van konfetti sonder kleur die donker, gebroke dele van die menslike ervaring, maar ook die moontlikheid om dit weer kleurvol en hoopvol te maak:

“My gebed is dat mense in die ‘swart’ sal vasbyt, want in die grys leer ons. Daar ontdek jy hoop en die belofte dat lig altyd deur donker breek.”

Hoewel Ampie nederig bly oor sy aandeel in die skryfproses, speel hy ’n belangrike rol as mentor en musikale raadgewer:

“Die lied was 80% klaar toe Tuin dit na my bring. Ek het net hier en daar gehelp met akkoorde, tempo en sleutel. Sy is ’n briljante liedjieskrywer in eie reg – ek glo haar talent gaan net meer en meer na vore tree.”

Ampie beskryf Tuin se skryfwerk as uniek en vergelyk haar vernuf met dié van Hunter Kennedy:

“Sy sê dinge op maniere waaraan ek nooit sou dink nie – dis subtiel maar trefseker.”

Vir Tuin is Ampie se mentorskap van onskatbare waarde:

“Ampie is soos ’n Mastercard – sy wysheid oor die industrie, die fyn kuns van lirieke en melodie, en sy groot hart. Hy het nie net by die kompetisie gestop nie; hy het my loopbaan ’n nuwe rigting gegee.”

“Konfetti sonder kleur” spreek sterk temas van geloof aan, insluitend die aangrypende vraag: “Is God nog lief vir jou?” Ampie meen die lied is meer as musiek – dit is ’n boodskap vir ’n wêreld in ’n tyd van groot verandering:

“Ek glo ons is deel van ’n groep instrumente wat God se woord subtiel verkondig, wat mense weer herinner aan sy Grootheid.”

Albei kunstenaars is oop vir verdere projekte, maar Ampie beklemtoon die belangrikheid dat Tuin eers self blom:

“Wanneer sy eendag haar voete gevind het, sal ek beslis weer met haar wil werk.”

Tuin se antwoord is entoesiasties en spontaan:

“Enige dag, enige tyd, enige plek sal ek weer saam Ampie werk. What a guy!”

Volg vir op:

PUBLISITEIT & BEMARKING :
Vonk Musiek
Ashley Du Toit
Sel: 083 963 3055
E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

PLATEMAATSKAPPY :
Vonk Musiek
Francois Roux
Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
E-pos : francois@vonkmusiek.co.za