Optredes

  • Oos Wes Tuis Bes!
Feb 20, 2026

Anton Myburgh Bring Hulde Aan Die Manne Van Die Pad Met Nuwe Enkelsnit “Lorrie Man”

Anton Myburgh stel sy splinternuwe enkelsnit, “Lorrie man,” bekend – ’n roerende huldeblyk aan die ikoniese vragmotorbestuurders wat Suid-Afrika se paaie aandurf en die land aan die beweeg hou.

“Lorrie man” is geskryf uit die perspektief van daardie klein seuntjie wat altyd ’n lorriebestuurder wou wees. As kinders was ons gefassineer deur die groot lorries met hul lang neuse, die dreun van enjins en die sterk, stil ooms agter die stuur. Hulle het soos helde gelyk – onverskrokke en vry, meesters van die oop pad.

Soos ons ouer geword het, het ons egter begin verstaan dat daar ook ’n ander kant aan dié droom is: die lang ure weg van die huis, die verlang van geliefdes en die verlange wat saamry tussen draaie en swaaie. Dit is juis hierdie kontras – bewondering en realiteit – wat Anton met deernis en eerlikheid in “Lorrie man” vasvang.

Anton vertel:

“Ek het die lied oorspronklik vir iemand spesifiek geskryf, maar die tema bly universeel – dit gaan oor hoe geliefd hierdie man is met sy lorrie en veral met sy hooter wanneer hy by die plaas aankom om goed op te tel of af te laai. Daardie oomblik wanneer almal weet: hier kom hy.”

Met lirieke soos:

“Deur die draaie en die swaaie / Kruis en dwars reg oor die land
Ry sy Lorrie sal die paaie / Hy regeer met luister hand”

skilder die lied ’n prentjie van ’n man wat met trots en toewyding sy werk doen – iemand wat niks gehad het nie en met “bloed, sweet en trane” sy pad gebou het. ’n Man wie se greep sterk en eerlik is, en wie se woord sy woord is.

“Lorrie man” is nie net ’n lied oor vragmotorbestuurders nie; dit is ’n ode aan harde werk, integriteit en opoffering. Dit vier die manne (en vroue) wat die lang paaie aandurf sodat ander hul drome kan leef – die wag by die stoor, die stof van die plaaswerf en die geduldige oë wat oor die horison loer vir daardie bekende trok om te verskyn.

Met sy kenmerkende eerlike aanslag en diep gewortelde storievertelling, lewer Anton Myburgh ’n snit wat nostalgie en respek kombineer in ’n kragtige, sing-saam refrein wat lank na die laaste noot nog eggo.

Volg vir Anton Myburgh op:

PUBLISITEIT & BEMARKING :
Vonk Musiek
Ashley Du Toit
Sel: 083 963 3055
E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

PLATEMAATSKAPPY :
Vonk Musiek
Francois Roux
Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
E-pos : francois@vonkmusiek.co.za

Optredes

  • Oos Wes Tuis Bes!