In ’n tyd waar nuusopskrifte swaar dra en baie mense stil-stil hul eie storms trotseer, bring Arno Jordaan ’n lied wat soos ’n sagte hand op die skouer voel. Sy nuwe enkelsnit, “LIG BLY LIG,” is meer as net nog ’n vrystelling – dit is ’n herinnering dat hoop nie verdwyn wanneer dit donker raak nie.
“Vir my beteken lig hoop en rigting,” sê Arno. “Die storie moes vertel word omdat mense moet onthou hulle is nie alleen nie.”
Met hierdie eenvoudige maar diep betekenis vorm “LIG BLY LIS ” ’n anker vir luisteraars wat dalk voel hulle dryf. As hy die kern van die lied in een sin moet vasvang, stel hy dit só: “Jy is sterker as wat jy dink.”
Wat “LIG BLY LIG” besonders maak, is dat dit hoop nie uitbeeld as iets luid of dramaties nie. Inteendeel. “Ware hoop skree nie,” verduidelik Arno. “Dit fluister en hou aan brand.”
Hierdie idee word pragtig vasgevang in lirieke soos:
“Lig wat is lig, dis daai glimlag na ’n lang donker nag
Dis daai klein vonk wat sê jy sal wag.”
Dit is die soort hoop wat stil in jou bors bly glo wanneer alles rondom jou onseker voel. Die lied vertel stories van gewone mense – ’n kind wat droom sonder vrees, ’n pa wat weer sy seun omhels, ’n vrou wat elke dag weer opstaan al breek die wêreld haar planne af.
“Lig leef in gewone mense, gewone dade, elke dag,” sê Arno. “’n Ligdraer is iemand wat kies om goed te bly doen al is dit moeilik.”
Een van die mees aangrypende reëls in die lied lui:
“Elke wond het ’n storie, en elke traan dra lig in hom.”
Hierdie woorde het ontstaan uit ’n diep besef dat seer nie verniet is nie. “Seer vorm lig in ons,” verduidelik Arno. Hy glo dat moeilike tye dikwels die krag in ons openbaar wat ons nooit geweet het ons het nie.
“Mense onderskat hoe sterk hulle is,” sê hy. “Maar storms wys vir jou wat in jou woon.”
Dit is juis hoekom die woorde “hou vas, hou aan” vir hom persoonlik die diepste sny wanneer hy die lied sing. Dit is nie net ’n liriek nie – dit is ’n lewenshouding.
Die tweede deel van die lied skuif die fokus na vrede.
“Vrede wat is vrede, dis wanneer jy jouself vergewe.”
Vir Arno is lig en vrede onafskeidbaar. “Lig bring vrede; vrede laat lig groei,” sê hy. Tog erken hy dat selfvergifnis vir baie mense die moeilikste deel is. “Ons onthou ons foute harder as ons genade.”
Met hierdie eerlike erkenning raak “LIG” aan iets universeel: die stryd om genoeg te voel, om jouself toe te laat om mens te wees – nie perfek nie, maar teenwoordig.
“LIG BLY LIG” is geskryf vir almal wat al op ’n punt gekom het waar hulle gevoel het: Ek kan nie meer nie.
Arno hoop dat wanneer iemand alleen in hul motor sit en die lied speel, daar ’n eenvoudige maar kragtige besef sal kom: Ek gaan oukei wees.
Hy glo die lied kan ’n sagte plek wees om weer asem te haal – selfs al is jy nog nie heeltemal “okay” nie.
As “LIG BLY LIG” ’n brief aan sy jonger self was, sou dit sê: “Jy gaan deurkom – moenie opgee nie.”
En as daar een reaksie is wat hy die graagste van aanhangers wil hoor, is dit nie noodwendig trane of stilte nie – maar hoop. Trouens, as hy mense kon vra om net een woord te deel nadat hulle geluister het, sou dit wees: Hoop.
Met die kragtige woorde:
“Lig bly lig al brand die wêreld af,”
lewer Arno Jordaan ’n tydlose waarheid: donkerte het nooit die laaste sê nie.
Met “LIG BLY LIG ” bewys hy weer waarom sy musiek oor jare heen soveel harte geraak het – dit praat eerlik, dit verstaan menswees, en dit herinner jou dat daar altyd ’n vonk is wat bly brand.
Want uiteindelik, soos Arno self sê:
Lig is altyd sterker as donker – in musiek en in die lewe.












