Optredes

  • KleinGroenBlohm
  • Noord Tot Suid
  • Uiteindelik
Okt 23, 2026

Carl Kitshoff: “Ek Het As Jong Man Die Here Verloor, Maar Hy Het My Bly Terugroep”

Met sy nuwe enkelsnit, “Verlore Kind”, wat Vrydag 23 Oktober 2026 verskyn, deel Carl Kitshoff ’n persoonlike getuienis oor verkeerde keuses, tweede kanse en die onvoorwaardelike liefde van God. Dis ’n lied vir elkeen wat al gevoel het hulle het te ver afgedwaal om weer huis toe te kom.

Die inspirasie vir “Verlore Kind” kom uit die bekende Bybelse gelykenis van die verlore seun, maar vir Carl Kitshoff is dit veel meer as net ’n verhaal uit die Bybel. Dit is ook sy eie storie.

Gedurende 2025 het Carl verskeie mense bygestaan wat, soos hy dit beskryf, weens verkeerde keuses, seer en moeilike omstandighede van God af weggedwaal het. Hulle verhale het hom laat terugdink aan sy eie lewenspad en uiteindelik die inspirasie geword vir ’n lied waarin hy sy eie ervaring deel.

“Dit is baie deel van my storie. Ek het as ’n jong man die Here verloor in my slegte keuses, maar Hy het aangehou om my terug te roep,” vertel Carl.

Met “Verlore Kind” neem hy luisteraars op ’n reis deur donkerte, skaamte en gebrokenheid, maar uiteindelik ook na herstel, aanvaarding en hoop.

Volgens Carl probeer mense dikwels van hul seer ontsnap deur keuses te maak wat tydelike verligting bied, maar hulle uiteindelik verder van hul geloof en hulself laat wegbeweeg.

“Ons almal is op soek na lig, maar ons leef in ’n donker en gebroke wêreld. Die hoop waarna ons soek, is nie in die wêreld om ons nie, maar in Jesus.”

Tog is dit juis die boodskap van hoop wat die hart van die lied vorm.

Een van die belangrikste reëls in “Verlore Kind” is die eenvoudige uitnodiging: “Hier by My is jy veilig.”

Vir Carl som hierdie woorde die hele boodskap van die lied op.

“Die Here se uitnodiging is altyd oop vir ons. Dis soos ’n Pa wat op die stoep wag vir Sy seun of dogter om huis toe te kom.”

Die lied gaan egter nie net oor die pad terug nie, maar ook oor wat gebeur wanneer iemand uiteindelik huis toe kom.

Carl verduidelik dat die verhaal van die verlore seun hom opnuut laat besef het hoe belangrik identiteit en aanvaarding is.

“As verlore kinders huis toe kom, moet hulle identiteit verander van verlore na heeltemal raakgesien en gekies.”

Dié gedagte word verder vasgevang in die woorde “U ken my naam, U sien my hart, U kies my dan nog steeds.”

“Ons harte is soms vuil en onrein. Niemand van ons is perfek nie, maar God kies ons nog steeds,” sê hy.

Hoewel dit nie altyd maklik is om so openlik oor sy eie foute en verlede te skryf nie, glo Carl dat eerlikheid juis die krag van die lied is. Hy beskryf “Verlore Kind” in die eerste plek as ’n getuienis van die genade wat hy self ervaar het.

“Sy genade is te groot om in woorde te beskryf. Die feit dat ek Sy seun kan wees en dat Hy soos ’n Vader na Sy kinders kyk, is waarop ek my hele lewe bou.”

Vir Carl is musiek nie bloot ’n manier om sy eie verhaal te vertel nie, maar ook ’n geleentheid om ander mense te bereik wat dalk met dieselfde vrae, twyfel en seer worstel.

“My hoop is dat mense deur my musiek sal sien daar is hoop; dat daar ’n God is wat bestaan en wat liefhet.”

As hy een boodskap aan iemand kon oordra wat vandag voel hulle het reeds te ver afgedwaal, sou dit wees dat geen fout of seer groter as God se genade is nie.

“Die Here staan altyd met oop arms. Dit maak nie saak hoeveel foute of seer jy het nie.”

Met “Verlore Kind” hoop Carl om luisteraars daaraan te herinner dat hulle nie deur hul verlede of verkeerde keuses gedefinieer hoef te word nie, en dat daar altyd hoop op ’n nuwe begin is.

Want wanneer die laaste note van die lied stil word, is daar een gedagte wat hy hoop by elke luisteraar sal bly:

“Daar moet meer vir my ook wees.”

Volg vir Carl Kitshoff op:

PUBLISITEIT & BEMARKING :
Vonk Musiek
Ashley Du Toit
Sel: 083 963 3055
E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

PLATEMAATSKAPPY :
Vonk Musiek
Francois Roux
Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
E-pos : francois@vonkmusiek.co.za

Optredes

  • KleinGroenBlohm
  • Noord Tot Suid
  • Uiteindelik