Met sy eerste Afrikaanse vrystelling, “Lankal te Laat”, betree Dian Roux ’n nuwe hoofstuk – nie net in sy loopbaan nie, maar ook in sy persoonlike verhaal. Die lied, geïnspireer deur ’n verhouding wat einde laasjaar tot ’n einde gekom het, is ’n rou en eerlike verwerking van liefde, trots, spyt en uiteindelike aanvaarding.
Interessant genoeg is ’n akoestiese weergawe van “Lankal te Laat” eerste vrygestel, wat reeds meer as 385 000 kykbeurte op Facebook behaal het. Die sterk reaksie bevestig dat die lied ’n diep snaar by luisteraars raak – nog voordat die amptelike weergawe sy weg na digitale platforms gevind het.
“Lankal te Laat” het ontstaan uit ’n diep persoonlike ervaring. Ná die verbrokkeling van die verhouding het Dian vir weke lank geworstel met alles wat gesê kon word, maar nooit gesê is nie.
“Ek het besef spyt kom altyd te laat,” vertel hy. “Toe begin ek dadelik die woorde neerpen.”
Die titel dra vir Dian ’n diep emosionele betekenis. Dit simboliseer die besef dat sekere dinge moet gebeur – al maak dit seer.
“Jy mag dalk berou voel, maar waar jy huidiglik is, is waar en wie jy moet wees. En dis genoeg.”
Met lirieke soos:
“So kom ons laat val net ons trots, en stop hierdie oorlog vanaand,”
vang Dian die intensiteit van twee mense wat op die rand van afskeid staan.
Die lied voel soos ’n laaste gesprek – en dit was presies sy doel.
“100%,” sê hy. “Dis direk gemik op daardie finale oomblik tussen twee mense wat groet.”
Die verwysing na “geraamtes wat finaal uit die kas is” simboliseer die donkerste dele wat twee mense van mekaar leer ken het – en die moeilike realiteit dat daardie hele siklus weer eendag met iemand anders van voor af begin moet word.
’n Sterk tema van trots en emosionele oorlog loop deur die lied. Dian glo dit is iets wat veral sy generasie raak.
“Sosiale media veroorsaak baie onsekerheid in mense se harte. Trots hou mense vas in ’n oorlog wat dalk nooit nodig was nie.”
Wanneer hy sing:
“Was ons nooit beskore, gemaak dat ons paaie sou kruis,”
is dit nie bloot hartseer nie – dit is berusting. ’n Aanvaarding dat nie alle liefdes bestem is om te bly nie.
Die mees emosionele oomblik vir Dian was die laaste reël van die lied:
“Nog een keer ek’s lief vir jou sê, maar ons weet dis lankal te laat.”
“Dit was die moeilikste deel om te skryf,” erken hy. “Liedjieskryf is vir my soos terapie – dis maklik om dit neer te pen. Maar om dit uit te sit in die wêreld, veral as my eerste Afrikaanse lied, was die moeiliker deel.”
Dian se liefde vir musiek het reeds op ’n jong ouderdom begin. Hy is sterk geïnspireer deur Ed Sheeran, en het ure spandeer om na sy musiek te luister. Daardie inspirasie het hom gemotiveer om self te begin skryf – aanvanklik met behulp van ’n kitaar-toep op sy selfoon, waarmee hy vir twee weke lank aanhoudend liedjies geskryf het.
Musiek lê ook diep gewortel in sy familie. Sy oupa was ’n groot musiekliefhebber met verskeie kitare. Omdat Dian in die Kaap grootgeword het en sy oupa in Gauteng gebly het, was daar altyd ’n afstand tussen hom en daardie instrumente. Tydens een besoek het hy sy ouma gevra of hy een van die kitare kon leen.
Hy het homself binne een week geleer kitaar speel. Kort daarna het sy ouma besluit om vir hom sy oupa se kitaar permanent te gee – ’n simboliese begin van wat later sy loopbaan sou word.
Vandag bring Dian daardie selfde rou passie na sy verhoogoptredes. Hy doen live shows met ’n loop pedal, waar hy elke element self opneem en bou – presies soos sy groot inspirasie, Ed Sheeran. Dit skep ’n dinamiese, egte en meesleurende ervaring waar die gehoor sien hoe ’n lied laag vir laag voor hul oë vorm aanneem.
Hoewel Dian se musiek nog altyd sterk akoesties was, bring “Lankal te Laat” ’n duidelike skuif na ’n folk-pop klank – minder pop, meer rou emosie.
“Hoe meer eenvoudig en rou, hoe beter,” sê hy oor die atmosfeer wat hy in die ateljee wou vasvang.
As hy die lied as ’n toneel moes beskryf?
“’n Bietjie soos Ross en Rachel in Friends,” lag hy, “waar almal hoop hulle moet saam wees, al vat dit jare voor hulle uiteindelik by mekaar uitkom.”
Vir Dian is hierdie enkelsnit meer as net ’n verwerking van ’n verhouding – dit is afsluiting én begin.
“Soos ’n verhouding eindig, begin my loopbaan afskop. ‘Lankal te Laat’ is daardie skakel.”
Hy hoop die lied sal anders resoneer met elke luisteraar – veral dié wat al deur gebroke liefde is.
“’n Goeie lied vang ’n duisend mense elkeen op ’n ander manier.”
Sy boodskap aan luisteraars wat hulself in die storie herken:
“Alles werk altyd uit soos dit moet, al voel jy hoe hartseer of kwaad of seergemaak. Dis nooit te laat om jouself weer op te bou nie.”
“Lankal te Laat” is gerig aan sy vorige verhouding, maar spreek tot enigeen wat al moes groet. Dit is ’n eerlike erkenning dat mense soms te lank in verkeerde verhoudings bly uit vrees om los te laat – maar dat daar vrede lê in gehoorsaam wees aan die pad wat vir jou bestem is.
Met hierdie vrystelling deel Dian Roux een van sy mees kwesbare dele – vreesaanjaend, maar ook bevrydend. En in sy eie taal, met ’n folk-akoestiese hartklop, bewys hy dat sommige eindes die begin van iets groter kan wees.











