Die ikoniese Afrikaanse sanger en liedjieskrywer Dozi keer terug met ’n kragtige nuwe enkelsnit, Hoor Jy Afrika Roep—’n lied wat diep resoneer met almal wat die ritme, geure en onmiskenbare siel van Afrika in hulle bloed dra.
Meer as net ’n lied, is Hoor Jy Afrika Roep ’n emosionele eerbetoon aan die mense wat hul harte in Afrika agtergelaat het, selfs al woon hulle vandag oorsee. Dozi vertel dat hy deur die jare met talle Suid-Afrikaners in die buiteland gesels het—mense wat erken hoe hulle verlang, hoe hulle hartseer bly, maar steeds aanhou glo dat dit “veiliger” is om elders te woon.
“Ek glo die hele wêreld is onveilig—maak nie saak of jy in Johannesburg of Timbaktu bly nie. Jou tyd is jou tyd, en jou streep is klaar vir jou getrek.” sê Dozi. Hy deel ’n aangrypende storie van ’n man wat na Frankryk geëmigreer het vir ’n beter, veiliger lewe—maar op sy derde aand in die buiteland in ’n nagklub geskiet is.
“Dit wys jou net,” voeg hy by, “as dit jou tyd is, dan is dit jou tyd. Ek glo jy moet bly waar jou hart is.”
Hoor Jy Afrika Roep begin met die kenmerkende geluide van die bospatrys en die visarend—klanke wat generasies lank as die stem van Afrika beskou word.
“Daardie geluide is uniek aan Afrika. Jy hoor dit nêrens anders in die wêreld nie. Dit is dáár waar Afrika jou roep,” sê Dozi.
Die liedjie se lirieke, wat Dozi se rou eerlikheid en diep verbondenheid met sy land weerspieël, roep luisteraars om terug te keer na hul wortels—of dit fisies, geestelik of emosioneel is.
In ’n tyd waar veiligheid, emigrasie en onsekerheid wêreldwyd gesprekspunte is, bring Dozi ’n eenvoudige, maar diep waar boodskap:
Jou hart weet waar jy hoort. En Afrika roep altyd terug.
Hoor Jy Afrika Roep vang die rou emosie vas van mense wat tussen lande leef—die verlange, die skuldgevoel, die nostalgie, maar bowenal die roep van die kontinent wat nooit stil word nie.












