Met die vrystelling van sy nuwe enkelsnit, “Daar Sal Jy My Kry”, nooi Fanus Pienaar luisteraars na die plek waar hy die meeste homself voel — tussen grondpaaie, kameeldoringbome, kampvure en die onvervangbare stilte van die Bosveld.
Die opgewekte, eg Suid-Afrikaanse lied vier avontuur, vriendskap en die eenvoudige vreugdes van die lewe, maar dra terselfdertyd ’n besonder persoonlike boodskap oor identiteit, behoort en nalatenskap. Vir Fanus is dit veel meer as net ’n lekker saamsinglied; dit is ’n liefdesbrief aan die plek wat sy lewe gevorm het.
“Die idee het eintlik uit my eie lewe ontstaan. Die Bosveld is al van kleins af deel van wie ek is. My oupa en my pa het my liefde vir die natuur en die Krugerwildtuin gekweek, en later het ek self op ’n wildsplaas en in Tzaneen gewoon. Ek wou ’n lied skryf wat nie net oor ’n plek gaan nie, maar oor die gevoel wat daardie wêreld vir my gee,” vertel hy.
Daardie liefde word duidelik weerspieël in die lied se lirieke, wat luisteraars dadelik na ’n bekende Bosveld-toneel vervoer: goeie vriende wat saam om ’n harde koolvuur kuier, ’n yskoue bier, koedoes tussen die bome, buffels in die lang gras en grondpaaie wat onder die Afrika-son uitstrek.
Volgens Fanus is dit juis in hierdie wêreld waar hy die gelukkigste en die meeste tuis voel.
“Daar is iets besonders daaraan om saam met goeie vriende om ’n kampvuur te sit, stories te vertel en net die eenvoud van die lewe te geniet. Dis die wêreld waarin ek myself altyd weer vind.”
Die Bosveld verteenwoordig vir hom egter nie net lekker kuier en avontuur nie. Dit is ook ’n plek van innerlike rus, waar die geraas van die alledaagse lewe stil word en hy weer perspektief kan kry.
“Wanneer ek in die Bosveld is, voel dit of die geraas van die wêreld stil raak. Dis waar ek weer asemhaal, perspektief kry en herinner word aan wat regtig belangrik is. Dis ook waar ek die grootheid van ons Skepper beleef.”
Fanus wou met die lied die besondere beelde en klanke vasvang wat die Bosveld vir hom definieer — die stof op ’n grondpad, die reuk van ’n vuur, die roep van ’n visarend en die diere wat deel vorm van hierdie unieke landskap. In sy persoonlike beskrywing van die lied vertel hy dat hierdie beelde nie bloot lirieke is nie, maar herinneringe en ervarings wat diep in sy eie lewe gewortel is.
Die koedoe en buffel dra ook elkeen ’n besondere simboliek.
“Vir my verteenwoordig die koedoe die stilte en vrede van die Bosveld — sag, nederig en amper onsigbaar tussen die doringbome. Die buffel simboliseer weer die krag, vasbyt en kameraadskap wat jy net in die Bosveld leer ken. Albei is anders, maar albei hoort onlosmaaklik daar. Dis presies soos die Bosveld self — tegelyk sag en sterk.”
Hoewel “Daar Sal Jy My Kry” ’n vrolike ritme en aansteeklike refrein het, lê daar ook ’n dieper emosionele laag onder die oppervlak. Die brug van die lied, waarin Fanus sing dat sy as eendag in die hart van die Bosveld gestrooi moet word, is vir hom die mees persoonlike gedeelte.
“Daardie gedeelte gaan nie oor die dood nie, maar oor hoe diep my liefde vir daardie wêreld is. Die Bosveld het so ’n groot deel van my lewe geword dat dit amper soos my tweede tuiste voel. As ek eendag moet rus, sal dit vir my ’n voorreg wees om simbolies deel van daardie plek te bly. My geliefdes weet ook dat dit een van my wense is.”
Hierdie sentiment word in die lirieke versterk deur die beeld van ’n laaste rusplek tussen kameeldoringbome in die hart van die Bosveld.
Fanus het doelbewus probeer om ’n balans te skep tussen die lied se opgewekte kuiergevoel en die stiller oomblikke van nadenke.
“Ek het die lied geskryf soos ek die Bosveld ervaar. Daar is ongelooflik baie pret, lag en kuier, maar daar is ook oomblikke van stilte waarin jy diep nadink. Ek dink die lied weerspieël daardie balans baie natuurlik.”
Die titel en herhalende woorde, “Daar sal jy my kry”, dien amper as ’n verklaring van wie Fanus werklik is. Dit vertel van ’n man wie se hart by die natuur, opregte vriendskappe en eenvoudige, betekenisvolle oomblikke lê.
“Hierdie lied is waarskynlik die eerlikste weerspieëling van wie ek as mens is. Ek hou van die eenvoudige dinge in die lewe, van die natuur, goeie mense en egte oomblikke. As jy wil weet wie Fanus Pienaar regtig is, begin by hierdie lied.”
Vir die perfekte luisterervaring stel Fanus ’n kampvuur saam met goeie vriende in die Bosveld voor — verkieslik in die Krugerwildtuin, van die Timbavati-omgewing tot by Olifantskamp. Tog glo hy dat die lied oral gehoor kan word waar mense die vryheid van die oop pad en goeie geselskap geniet.
Die visuele aard van die lirieke het ook ’n duidelike prentjie vir die musiekvideo geskep. Fanus sien groot Bosveld-landskappe, grondpaaie, wild, sonsondergange en mense wat saam om ’n kampvuur kuier. Die doel is om ’n egte, ongekunstelde visuele verhaal te vertel wat die warmte en emosie van die lied verder versterk.
Uiteindelik hoop Fanus dat “Daar Sal Jy My Kry” vir luisteraars meer as net ’n nuwe lied sal word.
“Ek wil hê dit moet ’n herinnering wees aan hul eie spesiale plek, hul eie mense en hul eie stories. As ’n hele gehoor saam die refrein sing en almal dink aan hul eie Bosveld-herinneringe, of as iemand dit kliphard op ’n grondpad luister en daardie gevoel van vrede beleef, dan het die lied presies gedoen waarvoor ek dit geskryf het.”
Met sy aansteeklike refrein, herkenbare Suid-Afrikaanse beelde en opregte emosionele kern, is “Daar Sal Jy My Kry” ’n viering van die Bosveld én van die plekke waar mense telkens weer hulself vind.
















