Met sy jongste enkelsnit, “Piekniek in die Tuin”, bring Gift Matjila ’n lied vol warmte, vrede en hoop – ’n sielvolle uitnodiging om weer in liefde en eenvoud vastrapplek te kry. Die lied is ’n intieme samevloeiing van romantiese beeldspraak, spirituele diepte en huislike simboliek wat luisteraars reg in hul harte tref.
In die lied vertel Matjila oor ’n eenvoudige, maar betekenisvolle beeld: ’n piekniek in die tuin. Hy beskryf dit as “’n rustige, veilige plek – ’n koelteplek waar jy net kan afskakel saam met jou geliefde.”
Die lirieke van “Piekniek in die Tuin” is deurdring van sterk beeldspraak en spirituele temas. In een van die kernreëls sing hy: “Ek wil sade uit kan gooi om iets mooi te word.” Hieroor sê Gift:
“Vir my beteken dit om liefde, vriendskap en tyd saam te saai. Die Bybel sê: wat jy saai, sal jy maai. Ek glo ons moet goeie sade saai – vir onsself én vir die mense rondom ons.”
Die “pre-chorus”, “Vir die wat nog liefhet, die wat nog dans, die wat nog lag”, is geskryf saam met die bekende kunstenaar Jan Rhaap. Volgens Matjila is dit ’n huldeblyk aan almal wat steeds aan die mooi glo, selfs in ’n wêreld wat soms gebroke voel.
“Ek bid nog vir liefde, ek bid nog vir vrede” – dra ’n universele boodskap. “Ek voel ons almal moet aan iets vashou,” verduidelik Matjila. “Hierdie gebed is vir elkeen van ons – vir liefde, vir vrede, vir lewe.”
Die lied is gekenmerk deur visuele beelde soos “’n vol glasie wyn” en “maanlig wat my kom haal.” Matjila sê die Heilige Gees is altyd ’n bron van inspirasie, wat sy musiek ’n natuurlike spirituele dimensie gee.
Die slotreël, “Op hierdie hart staan jou naam”, is volgens hom ’n persoonlike bekentenis: “Dit gaan daaroor om jou geliefde se naam nie net in jou hart te dra nie, maar jy moet dit so uitkerf dat jy altyd weet waar vandaan jy kom.”
Gift het saam met ’n span talentvolle musikante aan die produksie gewerk. “Die klank het natuurlik by die woorde gepas,” sê hy. “Ons wou ’n lied skep wat sag, intiem en hoopvol is – ’n ware liefdeslied.”
Met “Piekniek in die Tuin” hoop Matjila dat luisteraars hul eie verhale in die lied sal hoor. “Ek hoop dit word deel van almal se liefdesverhaal,” sê hy.











