Optredes

  • Tot Daar Waar Die Lig Is
  • Twee Klein Oseane
  • KleinGroenBlohm
  • Noord Tot Suid
  • Uiteindelik
Aug 14, 2026

Leoné Hak Met Haar Nuwe Enkelsnit “Hakkkk In” Reg In Die Hart Van Luisteraars In

Daar is liedjies wat jou laat glimlag, en dan is daar liedjies wat met ’n ligte aanslag ’n baie dieper boodskap in jou hart kom los. Die jong opkomende kunstenaar Leoné se nuwe enkelsnit, “Hakkkk In”, doen presies dit.

Met ’n speelse titel, ’n aansteeklike koor en ’n storie wat flirt, humor en opregte liefde saamweef, is “Hakkkk In” ’n vars popliedjie oor aanvaarding, eienaardighede en die tipe liefde wat nie wag vir perfeksie nie.

Vir die 16-jarige sangeres en liedjieskrywer van Wellington het die idee vir die lied op ’n heel spontane manier ontstaan.

“Dis eintlik nogal ’n funny storie,” vertel Leoné. “Ek was op pad terug van ’n fees in Balfour en het agter in die kar gesit. Ek het heeltyd gedink aan die ou wat my soundcheck daardie dag gedoen het. Toe begin ek net op my kitaar tokkel, en toe begin die idee vir ‘Hakkkk In’ vorm. Partykeer kom die beste liedjies op die mees random tye!”

Die lied is geïnspireer deur daardie spesifieke ontmoeting – ’n vriendelike jong man wat haar soundcheck behartig het en, soos sy later opgemerk het, ’n bietjie gehakkel het. Vir Leoné was dit egter nie iets wat hom minder gemaak het nie. Inteendeel, dit was juis sy vriendelikheid, gemaklikheid en opregtheid wat by haar vasgesteek het.

“Hy het net vasgehak in my brein… en ook in my hart,” sê sy. “Omdat hy hakkel, het alles net begin saamval. Skielik het die idee vir ‘Hakkkk In’ net sin gemaak.”

Met lirieke soos “al hakkkkkkel jy ’n bietjie, hak hier in by my” en “jy klink mooi vir my”, draai Leoné die idee van ’n onsekerheid om en maak dit iets liefdevol, mooi en menslik. Die lied vier daardie klein dinge wat mense soms van hulself wil wegsteek, en herinner luisteraars dat liefde nie oor foutloosheid gaan nie.

Volgens Leoné is die kernboodskap van die lied eenvoudig, maar kragtig: “You are perfect within your imperfections.”

“Ek wou hê mense moet voel hulle hoef nie perfek te wees om liefde te verdien nie,” verduidelik sy. “Ons almal het dinge wat ons anders maak, onsekerhede of goed wat ons wens ons kon verander. Maar die regte mense gaan nie daarvoor wegstap nie – hulle gaan juis daardie dele van jou raaksien en steeds kies om by jou te bly.”

Hoewel “Hakkkk In” met ’n flirterige, ligte energie begin, ontwikkel die lied na iets baie meer betekenisvol. Die speelse begin word later ’n sagte belofte van verbintenis, veral in die liriek: “Hand in hand stap ons saam deur die lewe.”

Vir Leoné gaan ware liefde oor meer as net ’n romantiese gevoel. Dit gaan oor kies, bly en aanvaar.

“Ware verbintenis gaan vir my oor volle commitment,” sê sy. “Nie om net daar te wees wanneer alles maklik is nie, maar om langs iemand te bly staan, selfs wanneer die lewe moeilik raak. Jy kies daardie persoon, elke dag, deur die goeie én die moeilike tye.”

Die lied se klank is lig, vars en maklik om saam te sing, met ’n refrein wat vinnig in jou kop bly vassteek. Tog lê daar agter die oulike woordspel en aansteeklike melodie ’n boodskap wat vir Leoné baie persoonlik is. Sy hoop dat mense wat soms anders, ongemaklik of onseker voel, hulleself met meer genade sal sien wanneer hulle na die lied luister.

“Ek hoop hulle verstaan dis okay om nie perfek te wees nie,” sê sy. “Dis okay om foute te hê. Meeste van die tyd is dit nie eers dat daar iets fout is met ons nie – ons is net onseker oor onsself. Ek hoop die lied help mense om hulleself ’n bietjie meer met genade te sien.”

Vir paartjies hoop sy “Hakkkk In” sal meer wees as net ’n oulike liefdeslied. Sy hoop dit sal hulle herinner om mekaar lief te hê soos hulle is, met al die klein foute, gewoontes en eienaardighede wat elke mens uniek maak.

“Ware liefde wag nie vir perfeksie nie; dit kies mekaar elke dag,” sê sy. “En natuurlik hoop ek die lied gee hulle sommer ’n verskoning om ’n bietjie te sokkie!”

Leoné is ’n jong kunstenaar met ’n groot hart vir musiek en ’n duidelike doel. Sy het reeds op vyfjarige ouderdom met formele opleiding en verhoogoptredes begin en het sedertdien haar liefde vir sang, skryf en optree verder ontwikkel. As ’n kranige liedjieskrywer skep sy haar eie oorspronklike materiaal en gebruik sy musiek as ’n manier om stories te vertel wat mense kan raak.

Vir hierdie Wellingtonse kunstenaar is musiek nie net ’n droom nie, maar ’n roeping. Sy wil luisteraars inspireer, hoop gee en ’n positiewe verskil in mense se lewens maak.

“Hakkkk In” pas perfek by wie Leoné tans as kunstenaar is: liefdevol, eerlik, speels, menslik en altyd op soek na die dieper betekenis agter ’n melodie.

“Ek hoop mense onthou dat ek liefdevol is, eerlik is en ook net mens is,” sê sy. “Ek het my eie foute en onsekerhede, nes enige iemand anders. Ek wil nie net liedjies maak wat lekker klink nie; ek wil liedjies maak wat iets in mense se harte los.”

Met “Hakkkk In” bewys Leoné dat ’n lied speels en prettig kan wees, maar steeds ’n boodskap kan dra wat bly. Dit is ’n vars, romantiese popsnit oor iemand wat nie perfek hoef te wees om mooi te klink nie – en oor liefde wat sê: hak hier in, net soos jy is.

Volg vir Leoné op:

PUBLISITEIT & BEMARKING :
Vonk Musiek
Ashley Du Toit
Sel: 083 963 3055
E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

PLATEMAATSKAPPY :
Vonk Musiek
Francois Roux
Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
E-pos : francois@vonkmusiek.co.za

Optredes

  • Tot Daar Waar Die Lig Is
  • Twee Klein Oseane
  • KleinGroenBlohm
  • Noord Tot Suid
  • Uiteindelik