Met sy jongste enkelsnit, “Seerower”, neem Louis van Lill luisteraars op ’n reis na die rowwe, maar eerlike wêreld van die visserman. Die lied is geïnspireer deur Thys Rower, ’n vriend wat Louis al sowat 25 jaar ken, en staan ook as ’n huldeblyk aan al die vissermanne wat aanklank vind by die see-leefstyl.
“Ek is baie lief vir die see en sy mense,” vertel Louis. “Maar ek gaan self nie baie see toe nie. Ek love seekos… en vang bietjie vis as ek een keer ’n jaar kans kry.”
Die tema is duidelik: vissermanne se bestaan is harde fisiese werk, deurdrenk met sout, son en pyn – en nie vir almal bedoel nie.
Die lirieke van “Seerower” skets ’n lewensgetroue beeld van die visserman se dae en nagte. Van kreef, galjoen, geelstert en perlemoen tot die lang aande waar die hande en liggame rou geskuur word deur ure se arbeid.
Die koor beklemtoon die onveranderlike band tussen visserman en see:
“Tussen die branders, hy sal nooit verander.
Hy’s van die see, die sout, die sonskyn en die sand.”
Louis verduidelik dat die woorde oor drink – “suip” – dalk woes klink, maar dat dit deel is van die visser se manier om die pyn van die see se eise weg te drink. Videograaf Morné het dit eerstehands beleef toe hy saam met Louis op ’n groot visserboot gegaan het: “Hy het gesien waaroor dit regtig gaan.”
Louis van Lill is op 2 Oktober 1986 in Kimberley gebore, maar dit is in Redelinghuys, ’n klein dorpie aan die Weskus, waar sy liefde vir musiek en die see regtig vorm aangeneem het. Daar het hy grootgeword met die klanke van The Eagles, Deep Purple en Queen, en sy pa se ou Gibson-kitaar het die vonk laat slaan vir ’n lewenslange passie.
Louis se vorige enkelsnit, “Druppels”, het ’n heel ander toon aangegee – ’n diep persoonlike ballade wat spruit uit die verlies van sy broer toe hy net 17 was. Dit was ’n rou, emosionele lied wat die pyn van afskeid en die soeke na hoop vasgevang het.
“Seerower” is egter ’n uitwaartse blik – nie op innerlike verlies nie, maar op die harde realiteit van ’n gemeenskap wat hy van kleins af leer ken het. Dit is Weskus deur en deur: eerlik, ruw, maar deurdrenk met trots.
Met “Seerower” bring Louis van Lill hulde aan die mense van die see – aan die vissermanne wie se verhale dikwels ongehoor bly. Dit is ’n lied oor die sout en die son, die pyn en die trots, die wyn en die water.
“Ek het nog altyd geskryf oor die see en die vissermanne,” sê Louis. “Dis heeltemal iets anders as ‘Druppels’, maar dit is waarvandaan ek kom… Weskuskind, Weskusklank.”











