Okt 31, 2025

Mari Bosman Bring Lag, Lewe En Boere-Pop Met Haar Nuwe Enkelsnit “Stienie”

Afrikaanse sangeres en liedjieskrywer Mari Bosman is terug met ’n vrolike, lewenslustige nuwe enkelsnit getiteld “Stienie” – ’n liedjie wat Afrikaanse humor, storievertelling en boeremusiek-ritmes perfek saamsnoer in ’n moderne boere-pop klank.

Hoewel Tant Stienie nie op ’n spesifieke persoon gebaseer is nie, dra sy baie van die eienskappe van die ikoniese karakter uit die TV-reeks Agter Elke Man. “Sy’s daardie tipiese boere-tannie wat nie nonsens vat nie,” sê Mari. “’n Sterk vrou met opinies, grit en baie hart.”

Met haar tipiese tong-in-die-kies styl, wou Mari iets ligsinnigs en vroliks aan haar aanhangers bied. “Ek dink Suid-Afrika kort nou ’n bietjie lag en ’n lekker saamsing-liedjie – dis mos die tyd van die jaar waar almal so ’n bietjie gedaan is.”

Wat Stienie besonders maak, is hoe herkenbaar sy is. “Ek dink baie mense ken ’n tant Stienie en ’n oom Daan – daardie paartjies wat al jare saam is, soms baklei, maar tog nie sonder mekaar kan nie,” verduidelik Mari. “Dis ’n ode aan daardie tipiese Afrikaanse huwelik – vol liefde, humor en ’n bietjie drama!”

Met lirieke soos “Sy kan ’n bees in ’n blikkie boellie-beef in skop”, wys Mari haar natuurlike sin vir humor en woordspel. Sy lag: “Daardie reël het my behoorlik laat giggel toe ek dit geskryf het!”

Mari beskryf die styl van Stienie as boere-pop – ’n kombinasie van moderne popproduksie en die energieke ritmes van tradisionele boeremusiek. Die lied is vervaardig deur Morné Barnard, met ’n musiekvideo geskiet deur Morné Coetzee van Vonk Musiek.

“Ek wou hê die humor moes gebalanseer word met goeie musiekproduksie,” sê Mari. “Dis een ding om ’n snaakse liedjie uit te bring, maar die klank en visuele moet steeds professioneel wees. Ek dink ons het dit reggekry.”

In die lied tref luisteraars ’n toneel wat so eg Afrikaans is dat dit byna soos ’n kortfilm voel: Tant Stienie, die ferm vrou van die plaas, en haar man Oom Daan, wat net nie sy dop en kroeg kan los nie.
“Dis ’n speelse botsing tussen liefde en koppigheid,” sê Mari. “Hulle verskil soms, maar bly saam – foute en al.”

Vir Mari is Tant Stienie meer as net ’n karakter – sy is ’n simbool. “Afrikaanse tannies is sterk. Hulle glo in goeie waardes, werk hard en hou aan, maak nie saak wat nie. Ek dink baie mense gaan in Stienie hulself of iemand wat hulle ken, herken.”

En vir aanhangers wat wonder of daar meer sulke karakterliedjies op pad is – die antwoord is ja! “Kom ons kyk hoe die Afrikaners op Stienie reageer,” sê Mari met ’n glimlag. “Maar ek hoop om hierdie boere-pop genre nog lank vol te hou!”

Volg vir Mari Bosman op:

PUBLISITEIT & BEMARKING :
Vonk Musiek
Ashley Du Toit
Sel: 083 963 3055
E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

PLATEMAATSKAPPY :
Vonk Musiek
Francois Roux
Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
E-pos : francois@vonkmusiek.co.za