Wanneer ’n kunstenaar besluit om ’n lied soos “Suspicious Minds” aan te pak, stap hy op heilige grond. Dit is immers een van Elvis Presley se mees ikoniese treffers – ’n lied wat dekades lank gehore wêreldwyd geraak het. Tog is dit presies dié uitdaging wat Ray Dylan met oorgawe aangepak het in sy nuwe, kontemporêre weergawe van die tydlose treffer.
Vir Ray was die keuse nie bloot ’n musikale besluit nie, maar ’n emosionele een. “Ek het nog altyd gevoel dié lied dra ’n ongelooflike eerlike emosie oor. Dit is rou, kwesbaar en universeel—iets waarmee almal kan identifiseer. Ek wou dit op ’n manier doen wat daardie gevoel behou, maar dit ook my eie maak,” vertel hy.
Elvis Presley se invloed op Ray se loopbaan is diep gewortel. “Elvis is ’n legende. Sy musiek het generasies beïnvloed en my ook. Vir my verteenwoordig hy passie, styl en ’n tydlose klank wat nooit uit die mode gaan nie.”
Die idee om ’n Elvis-lied te cover het al lank by hom gebroei. Soos baie kunstenaars het hy gedroom om hulde te bring aan een van sy grootste invloede. Die oomblik van sekerheid het egter eers later gekom. “Ek het die lied weer gehoor en besef hoe relevant die lirieke vandag nog is. Dit het my laat dink: Hierdie storie moet ek vertel soos ek dit voel.”
Opgeneem in sy eie RDM Studio, saam met sy span by Vonk, het Ray besluit om die produksie effens te moderniseer. Sy weergawe is minder retro, met ’n meer kontemporêre aanslag en sy kenmerkende vokale styl wat die emosie vars laat voel. “Die grootste uitdaging was om die balans te vind tussen eerbetoon en oorspronklikheid. Jy wil nie die gevoel verloor nie, maar jy wil ook nie net kopieer nie.”
Die lied se kern lê in sy universele tema: wantroue in ’n verhouding. Die bekende reël “We can’t go on together with suspicious minds” tref steeds diep. Volgens Ray gaan die lied oor daardie “trap” tussen liefde en twyfel – oor mense wat mekaar liefhet, maar sukkel om mekaar volkome te vertrou. “Ek dink dis albei: liefde en pyn. Dis liefde wat seer kry en mense wat probeer om daardie liefde te red.”
Toe hy dit gesing het, was die oorheersende emosie vir hom kwetsbaarheid. En hoewel daar altyd ’n mate van vrees vir kritiek is wanneer jy ’n klassieke lied aanpak, glo hy dat eerlikheid swaarder weeg as perfeksie. “Jy kan nie bang wees om eerlik te wees as kunstenaar nie.”
Ray sien hierdie vrystelling as ’n natuurlike voortsetting van sy musiekreis – veral ná sy Roy Orbison-huldeblyk. “Dit wys waar my wortels lê, maar ook hoe ek daardie invloede meng met my eie styl en klank. Ek sien dit as ’n brug tussen generasies – om klassieke liedjies weer lewendig te maak vir vandag se gehoor.”
Nostalgie speel ’n groot rol, maar hy glo goeie musiek ken geen ouderdom nie. Hy sing reeds “Suspicious Minds” live, en volgens hom dra dit ’n besondere gewig op die verhoog. “Ek hoop mense sing saam, voel saam en neem iets emosioneel saam huis toe.”
In een sin beskryf Ray die lied as: “’n Kragtige storie van liefde wat teen twyfel baklei.”
En vir dié wat nog huiwer om dit te luister? Sy boodskap is eenvoudig: “Gee dit ’n kans—jy mag dalk iets van jouself daarin hoor.”













