Die somer se amptelike partytjie-temalied is hier – en dit kom uit die hand van niemand anders nie as Tino, met sy vars en energieke nuwe enkelsnit “Op En Dop”. Hierdie lied is gemaak om jou glas te lig, jou skoene af te skop, en die dansvloer warm te hou tot die son opkom.
Tino vertel dat die idee vir die liedjie gebore is uit sy studentejare in Stellenbosch:
“Daardie tipiese Suid-Afrikaanse kuieraande, waar almal net saam lag, gesels en musiek luister. Ek wou daardie vibe in ’n liedjie vasvang – die gevoel van vryheid, energie en om in die oomblik te leef. Ek dink ons het dit reggekry!”
Met lirieke soos “waar dink jy was ek gisteraand / waar dink jy kom ek nou vandaan” en die aansteeklike koor “ayyoooo / ons gaan net op / ons gaan net dop”, is dit duidelik dat “Op En Dop” gemaak is vir daardie onvergeetlike aand saam met jou beste pelle.
Of dit nou by ’n braaivuur, ’n somerpartytjie of op die klub se dansvloer is – hierdie lied is bedoel om die soundtrack van jou jol te word.
Musikaal is dit die perfekte kombinasie van moderne dans-elemente en organiese kuierklanke, danksy die handewerk van vervaardiger Tertius.
“Ons het van die begin af gegaan vir ’n groot, energieke klank met elektriese kitare en dromme wat jou net wil laat spring. Dis ’n regte party-banger met ’n Suid-Afrikaanse kuierhart,” verduidelik Tino.
Agter die grappige lirieke en jolige atmosfeer lê ’n lewensfilosofie van vreugde en dankbaarheid.
“Vir my beteken Op En Dop om altyd die energie hoog te hou en die lewe te vier. Of jy nou cheers maak op klein oorwinnings of groot oomblikke – leef voluit en gaan groot,” sê Tino.
Tino verklap dat meer musiek aan die kom is, met dieselfde energieke gees en selfs verrassende collabs in die nabye toekoms.
Vir nou is dit egter tyd om jou vriende bymekaar te maak, die volume oop te draai, en soos Tino sê:
“Cheers vanaand – op alles wat bestaan!”












