Die gewilde Afrikaanse sanger en liedjieskrywer WG Nel is terug met ’n vars, maar diep nostalgiese enkelsnit, “Roadtrip”, wat op 15 Mei vrygestel word. Met hierdie nuwe lied nooi WG luisteraars om vir ’n paar minute weg te breek van die gejaag van die alledaagse lewe — terug na eenvoud, vryheid en die oop pad.
“Roadtrip” is meer as net ’n lied; dit is ’n gevoel. Dit roep herinneringe op van laatmiddag-ritte, stofpaaie wat onder jou bande sing, en daardie bekende reuk van ’n braaivleisvuur in die verte. Die lied vang die essensie van Suid-Afrikaanse kultuur vas — van “pak die stokke, koeler” tot die spontane besluit om net te ry, sonder ’n plan of bestemming.
Volgens WG Nel het die inspirasie vir die lied gekom uit ’n oomblik van oorweldiging:
“Ek dink die gevoel van oorwerk was die dryf vir die song. Op daai punt wou ek my foon afsit en begin ry. Waarnatoe het ek nie geweet nie, maar dit sou ook nie eers saak maak nie.”
Hierdie tema van ontsnapping en eenvoud loop soos ’n goue draad deur die lied. Met lirieke soos “Ons weet nie waar ons gaan, ons vat die lang pad aan”, weerspieël WG sy eie benadering tot die lewe — spontaan, eerlik en sonder vrees om soms net te “knyp my oë toe en spring”.
Die lied bring ook ’n warm, menslike element na vore — die belangrikheid van familie, vriende en saamwees. Die verwysing na “Dankie Oupa en Ouma Auf Wiedersehen” vertel die storie van ouers wat vir ’n slag kan wegkom terwyl die grootouers die kinders oppas — ’n herkenbare en geliefde toneel vir baie Suid-Afrikaners.
WG se liefde vir Afrikaans en plaaslike kultuur staan sentraal in “Roadtrip”:
“EK IS AFRIKAANS, murg en been,” sê hy. Hierdie egtheid resoneer deur elke noot en maak die lied onmiddellik herkenbaar en opreg.
Musikaal bied “Roadtrip” iets nuuts van WG Nel — ’n meer ontspanne, “laid-back” klank wat steeds sy kenmerkende styl dra. Die produksie, onder leiding van Hugo Ludik by Muse Studio, gee die lied ’n vars, maar tydlose gevoel.
Die gepaardgaande “home-made” musiekvideo, geskiet in Inhambane se Barra Beach tydens ’n familievakansie, versterk die nostalgiese atmosfeer en wys presies hoe die lied beleef moet word — kaalvoet, son op jou vel, en sonder ’n horlosie.
Met “Roadtrip” hoop WG Nel om iets besonders by sy gehoor aan te raak:
“Ek hoop dit bring memories terug van plekke waar hulle was en die mense waarmee hulle die geleenthede kon deel.”
In ’n wêreld waar tyd al hoe vinniger beweeg, dien “Roadtrip” as ’n sagte herinnering: tyd kan nie gekoop word nie. Soms moet mens net stop, asemhaal, en weer onthou wie jy is — en waarheen jy oppad is.
As WG hierdie ervaring in een woord moet opsom?
“Sorgloosheid.”











