Feb 14, 2025

WG Nel Steek Die Vlam Van Liefde Aan Met “Kaggelvuur”

Die Suid-Afrikaanse sanger en liedjieskrywer WG Nel stel op 14 Februarie 2024 sy nuutste enkelsnit, “Kaggelvuur,” vry. Hierdie liedjie is ‘n ode aan die klein, egte oomblikke in ‘n verhouding – die soort liefde wat agter geslote deure floreer en in die eenvoud van die alledaagse gevind word.

WG Nel vertel dat die inspirasie vir “Kaggelvuur” uit sy eie huwelik kom. Hy en sy vrou, Anisca, is die tipe paartjie wat “middernag die yskas bekruip” om iets te peusel, ‘n speelse ritueel wat deel geword het van hul verhouding. Die liedjie vang daardie warmte en intimiteit vas – ‘n naweek tuis, die kaggelvuur wat knetter, en twee mense wat net hulleself kan wees saam.

Die kreatiewe proses agter die liedjie het natuurlik gevloei. Van die lirieke tot die melodie, alles het op die regte plek ingeval. Aanvanklik het WG Nel gedink om die liedjie “Lekker” te noem, maar “Kaggelvuur” het uiteindelik die essensie van die lied beter vasgevang. Dit is nie ‘n sokkie-lied of ‘n ballade nie, maar ‘n luisterlied met ‘n dieper ondertoon – een wat mense aan hul eie verhoudings sal herinner.

WG Nel het die snit saam met Tersius Human van CoolerBox Studios vervaardig. Dit was vir hom ‘n spesiale ervaring om weer saam met Human te werk. Hy waardeer ook die span van Vonk Musiek, wat help om sy visie tot lewe te bring, veral met die musiekvideo wat hierdie spesiale storie visueel vasvang.

As kunstenaar het WG Nel die afgelope ruk ‘n kommersiële klank gevolg, maar met “Kaggelvuur” wou hy iets skep wat dieper sny. Hy hoop dat luisteraars hulself in die liedjie sal sien en daardie klein, egte oomblikke in hul eie verhoudings sal waardeer. Hy wil hê mense moet sê: “Ek ook,” en hul geliefdes tag as ‘n manier om hul waardering vir daardie spesiale, alledaagse oomblikke te wys.

Wat die toekoms betref, bly WG Nel oop vir nuwe rigtings en moontlikhede. Hy neem alle terugvoer ter harte en is gefokus op musiek wat mense nie net een keer nie, maar oor en oor wil luister. Hierdie  is dalk net die begin van ‘n nuwe, dieper dimensie in sy musiekloopbaan. “Kaggelvuur” is nou beskikbaar op alle digitale platforms.

Volg vir WG Nel op:

PUBLISITEIT & BEMARKING :
Vonk Musiek
Ashley Du Toit
Sel: 083 963 3055
E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

PLATEMAATSKAPPY :
Vonk Musiek
Francois Roux
Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
E-pos : francois@vonkmusiek.co.za