Die geur van sy vrou se hare het Deon Groot van hul eerste ontmoeting af bygebly. Dié herinnering was die inspirasie vir “Soetgeur”, ’n liefdeslied oor die klein dingetjies wat jou verlief laat raak — en wat steeds saak maak lank nadat die eerste skoenlappers bedaar het.
Deon het sy vrou by ’n fees ontmoet, waar sy agter die kameras gewerk het. Wanneer hy aan daardie ontmoeting terugdink, is daar een herinnering wat uitstaan.
“Dis die eerste ding wat ek kan onthou van my vrou,” sê hy oor die geur wat in die lied se openingsreël beskryf word: “Ek ruik die soetgeur in, jou sagte hare.”
Die lied vertel egter nie net van daardie eerste aantrekkingskrag nie. Dit gaan ook oor die onsekerheid van iemand wat lank alleen was en skielik voor die moontlikheid van liefde te staan kom.
“Ek was vrek lank alleen. Ongetroud. Nooit regtig tuis gevoel met iemand nie,” vertel Deon.
Juis daarom is die reël “kon my hart vir niemand gee” vir hom so betekenisvol. Ná jare se alleenwees was dit moeilik om sy hart oop te maak. Toe hy uiteindelik iemand ontmoet vir wie hy lief kon wees, wou hy nie daardie kans laat verbygaan nie.
Hulle het tydens die Covid-19-pandemie saam begin woon en moes, soos soveel ander paartjies, hul weg deur ’n moeilike tyd vind. Vir Deon lê die waarde van hul verhouding nie daarin dat alles altyd maklik verloop nie, maar dat hulle dit saam laat werk.
Dié liefde laat hom steeds met verwondering na sy vrou kyk. Die vraag “Wie is jy en waar kom jy vandaan?” is dus nie bloot ’n herinnering aan die begin van hul verhouding nie. Hy vertel dat sy hom vandag nog verras en dat haar teenwoordigheid die lewe se moeilike paaie vir hom makliker maak.
Ook die woorde “so tussen die lyne” het ’n besondere betekenis. Deon en sy vrou weet dikwels met net ’n kyk wat die ander een dink. Terwyl hulle gesels, sê hul oë soms meer as hul woorde.
Met “Soetgeur” besing Deon nie ’n foutlose verhouding nie. Die woorde “Perfeks nie wat ek soek / Jy kry dit net in ’n boek” maak dit duidelik: hy soek nie ’n onbereikbare ideaal nie, maar iemand wat eg is. Vir hom is dit belangriker dat twee mense eerlik met mekaar kan wees en saam kan groei as om voor te gee dat alles altyd reg is.
Die reël “Vir ’n appel en ’n ui kan mens ’n lekker lewe lei” spruit ook uit hul eie ervaring. Selfs wanneer geld min is of hulle deur moeilike tye gaan, is daar dinge wat vir Deon meer waarde het.
“Egtheid. Mooi menswees. Dit maak die lewe lekker deur enige stryd,” sê hy.
Hoewel die onderwerp hom na aan die hart lê, wou Deon ’n lekker, lewendige lied skryf wat mense ook die mooi in hul eie verhoudings laat raaksien. Hy sonder veral die brug uit as ’n gedeelte wat hy glo tydens optredes by gehore sal aanklank vind.
“Soetgeur” sluit volgens Deon aan by “Die Een”, “Plek in My Hart” en “Breek die Mure”. Die liedjies handel onder meer oor die mure wat ’n mens om jou hart bou, die aantrekkingskrag wat daardie mure laat verbrokkel en die moed wat dit verg om iemand naby jou toe te laat. Met “Soetgeur” wil hy luisteraars ook herinner waarom dit die moeite werd is om die liefde wat hulle gevind het, te koester.
Hy hoop dat elke luisteraar iets van sy of haar eie verhaal in die lied sal herken. Vir mense wat reeds liefde gevind het, is dit ’n herinnering om die mens langs hulle opnuut te waardeer. Vir dié wat nog wag, gaan dit oor die hoop om iemand te ontmoet by wie hulle werklik hulself kan wees.
Vir Deon begin dié verhaal by ’n eenvoudige herinnering: die geur van sy vrou se hare. “Soetgeur” vertel van alles wat daaruit gegroei het.










