Party reise begin met ’n oorvol kop en die behoefte om eenvoudig te begin ry. Ander begin met ’n vriend se ondeunde plan, ’n hart wat skielik vinniger klop of die besef dat iemand jou lewe verander het. Met sy nuwe vrystelling, Roadtrip, bring die Afrikaanse sanger-liedjieskrywer WG Nel dié oomblikke bymekaar in ’n versameling liedjies oor die mense, herinneringe en verhoudings wat die reis die moeite werd maak.
Die projek word in November met “Gevaarlik Raak”, “Hartklop” en “Kremetart Hart” voltooi. Hoewel elke lied op sy eie staan, weerspieël die versameling verskillende dele van ’n lewensreis: die behoefte om weg te breek, die vreugde van saamkuier, die opwinding van verlief raak en die verantwoordelikhede wat met grootword saamkom.
“Ek dink die balans tussen liefde, vriende en verantwoordelikheid sal deurkom deur die songs,” sê WG.
Die titelsnit, “Roadtrip”, gee aan dié reis sy vertrekpunt. Die idee het ontstaan toe WG oorwerk gevoel het en net sy foon wou afsit en begin ry. Waarheen, was minder belangrik as die kans om vir ’n rukkie uit die gejaag te ontsnap. Dit is daardie behoefte aan asemhaalruimte wat die lied sy persoonlike oorsprong gee. WG Nel – Roadtrip – Mediaverkla…
By “Van Tonder” kom die vriende saam. Die karakter is ’n samestelling van werklike mense, stories en ervarings: die soort vriend wat maklik ’n groep om hom bymekaarmaak, ander laat goed voel en altyd humor en energie saambring. Onder die kuiergees lê ’n waardering vir mense wat verstaan hoe kosbaar tyd saam is. WG Nel -Van Tonder – Mediaverkl… Die produksie van sowel “Roadtrip” as “Van Tonder” is deur Hugo Ludik by Muse Studio behartig. WG Nel – Roadtrip – Mediaverkla… WG Nel -Van Tonder – Mediaverkl…
“Braai Brannas en Rugby”, geskryf deur Eduard Pretorius en vervaardig deur Tertius Human van Laughing Lamp, bring die bekende wêreld van braaikole, rugby en saamkuier na die versameling. WG Nel – Braai,Brannas en Rugby… Vir WG was die opname egter nie bloot ’n sorglose kuier nie. Dit het sy stemvermoë uitgedaag en was ook die eerste lied wat hy opgeneem het wat hy nie self geskryf het nie. Hy moes dus op ’n nuwe manier sy eie stem binne iemand anders se storie vind.
Met “Gevaarlik Raak” kry die vriendskappe ’n ondeunder kant. Hier probeer volwasse mans weer die vryheid en kinderlike pret van hul jonger dae beleef — al herinner hul lywe en verantwoordelikhede hulle gou dat hulle nie meer sestien is nie.
“Maar ons bly tog kinders in ons harte,” sê WG.
Die lied speel juis af waar die grens tussen ’n goeie idee en ’n swak plan begin vervaag. Eddie, Jakkals en Gertjie is ook nie bloot denkbeeldige karakters nie: agter dié drie name skuil vier van WG se vriende — twee Eddies, ’n Jaco en ’n Gerhard — wat volgens hom soms meeding om te sien wie se slegste plan die beste storie gaan oplewer.
Die gevolge is ewe herkenbaar: seer lywe, gemiste oproepe en die besef dat iemand dalk vergeet het om by die huis te laat weet dat alles nog reg is. WG se gunstelingdeel is die manier waarop die karakters se stories ontwikkel, veral Gertjie se vordering van prop trap tot glas breek. Olly Vans het die produksie behartig, en dié opname was WG se eerste ateljeesamewerking met hom.
Waar “Gevaarlik Raak” met die hart se jeugdigheid spot, keer “Hartklop” terug na daardie eerste, oorweldigende gevoel van verlief wees: sweterige hande, ’n vinnige polsslag en die wete dat jy ’n lewe saam met iemand wil bou.
Die lied het reeds lank op sy beurt gewag, maar die gevoel wat WG daarmee wou vasvang, was altyd duidelik. Die herhalende hartklopfrase het ontstaan uit die idee om die klank van ’n vinnig kloppende hart na te boots en só die opwinding van jong liefde deel van die ritme te maak.
Vir WG is dié gevoel persoonlik. Hy dra die lied aan sy vrou, Anisca, op en onthou die laat aande toe hulle saam fliek gekyk het — nog net vriende, met gevoelens wat niemand hardop uitgespreek het nie. Om ’n vriendskap in iets meer te laat groei, bring immers ook die vrees dat ’n mens dit kan verloor.
“Hartklop” gaan egter nie net oor die groot oomblik wanneer iemand sy liefde verklaar nie. Dit gaan ook oor aanvaarding en die eenvoudige voorreg om saam te wees: daardie stil ure wat ’n mens wil uitrek voordat die son opkom en die alledaagse lewe weer aandag vra. Tertius Human se produksie bring volgens WG die nodige balans tussen storievertelling en ’n lewendige ritme.
Op “Kremetart Hart” kry liefde ’n ander beeld: ’n groot, standvastige boom met ruimte binne-in.
WG se liefde vir kremetarte het jare gelede tydens ’n besoek saam met ’n vriend aan die Musina-omgewing ontstaan. Die bome se indrukwekkende teenwoordigheid het hom aangegryp, maar ook die holtes waarin ’n mens soms kan inklim. Vir hom het dit ’n beeld geword van die oop plek in ’n geliefde se hart.
Die liefdestoneel wat hy aanvanklik geskryf het, was denkbeeldig, amper soos iets uit ’n film. Die emosie daaragter is egter herkenbaar: om iemand naby genoeg toe te laat om jou hart te genees, beteken ook dat jy die risiko loop om seer te kry. WG beskryf dié ingesteldheid as “hoopvol versigtig” — bereid om jou gemaksones te verlaat, al is daar geen waarborg oor die uitkoms nie.
Hy het die basis van die lied jare gelede geskryf en dit later na Olly Vans geneem. Olly het as medeskrywer help skaaf om die kremetartbeeld sterker deur die lirieke te trek en het ook die produksie behartig. Die eindresultaat is ’n lied wat WG as waarskynlik sy gunsteling tot nog toe beskryf.
Hoewel “Kremetart Hart” geskryf is voordat hy Anisca ontmoet het, herken hy vandag sy eie liefdesverhaal daarin.
“Vandag is sy my kremetart hart,” sê hy.
Dit is uiteindelik die wêreld van Roadtrip: vriende wat jou laat lag, herinneringe wat jou terugneem en ’n geliefde by wie jy kan tuiskom. Die verantwoordelikhede raak meer en ’n mens se idee van pret verander, maar daar bly plek vir spontane planne, jong verliefdheid en mense wat die lewe ligter maak.
Met die drie afsluitende snitte wat in November verskyn, nooi WG Nel luisteraars om hul eie stories in dié reis te herken. Want die langpad gaan nie net oor waarheen jy op pad is nie, maar ook oor wie saamry.











