Die week was lank, die werk is gedoen en die dansvloer wag. Met sy nuwe enkelsnit, “Naweek Daar Buite”, nooi Jan Rhaap luisteraars om die week se gejaag vir ’n rukkie agter te laat en plek te maak vir lekker geselskap, dans en saamkuier. Met banjo, konsertina en ’n goeie skeut humor vang dié ligte kuierlied daardie oomblik vas wanneer die moegheid begin plek maak vir die opgewondenheid van die naweek.
Die titel kom uit Jan se eie mond — lank voordat dit ’n liedjie geword het. Dit is iets wat hy gereeld oor naweke sê, veral wanneer hy op die verhoog staan, om mense daaraan te herinner dat dit tyd is om te ontspan en die kuier te geniet.
“Ek het lanklaas ’n lekker ligte kuierliedjie uitgebring en gevoel dis nou weer tyd. Die titel was beslis die begin van alles,” vertel hy.
Vir Jan is “daar buite” egter meer as net ’n dansvloer of ’n gunstelingkuierplek. Dit is ’n uitnodiging om uit jou eie wêreld te tree en weer deel te neem aan die lewe om jou. Hy weet hoe maklik mense in hul daaglikse roetine vasgevang raak, en wou met hierdie lied die eenvoudige lekkerte van tyd saam met familie en vriende vier.
“Vriende is vir my baie belangrik. Dis die mense wat jou die beste ken en saam met wie jy net jouself kan wees,” sê hy.
Dié gees van saamwees loop regdeur die lirieke. Van “Bel al jou pelle” tot “Die meel is op die vloer” en die uitbundige “vanaand bars die kuite”, skets die lied ’n kuier waar die lang werksweek uiteindelik plek maak vir dans en ontspanning.
Die meel op die dansvloer is ook nie sommer net ’n beeld nie. Jan verduidelik dat mense, veral op die platteland, voor ’n dans meel op die vloer strooi om die oppervlak lekker glad te maak. Dit is juis sulke herkenbare besonderhede wat hy graag met ’n tikkie humor in sy musiek gebruik.
“Ek is lief daarvoor om komiese beelde te gebruik, veral in ’n ligte lied soos dié,” vertel hy. Die doel is eenvoudig: om ’n glimlag te ontlok en luisteraars lus te maak om te dans en te kuier.
Die vervaardiging is deur Olly Vans behartig. Saam wou hulle die speelsheid van die lirieke in die opname vasvang, met ’n klank wat sommer dadelik afwagting vir die naweek skep. Die banjo en konsertina gee die snit sy kenmerkende Afrikaanse karakter — en dit was juis dié kombinasie wat alles in die ateljee op sy plek laat val het.
“Ek dink toe die banjo en konsertina saamkom, het alles net mooi bymekaar gepas. Ek en Olly was van die eerste oomblik af baie opgewonde om aan hierdie liedjie te werk. Dit het van die begin af net lekker gevoel,” sê Jan.
Hoewel die lied gaan oor die verligting ná ’n harde week, is Jan gelukkig om aan albei kante van die naweek iets te doen waarvoor hy lief is.
“In die week boer ek, en naweke sing ek,” vertel hy.
Boerdery is sy ander groot passie, terwyl naweke hom die geleentheid gee om sy musiek met mense te deel. Wanneer hy nie optree nie, behoort daardie tyd aan sy gesin. Sy eie ideale “naweek daar buite” is daarom ongekompliseerd: ’n kampplek, sy mense naby en tyd om saam met sy seuntjie vis te vang.
Daardie liefde vir sy gesin en die lewe wat hy lei, lê ook aan die hart van wat hy met sy musiek wil doen.
“My plan is eenvoudig: om my lewe deur my musiek met mense te deel, en solank hulle wil luister, sal ek aanhou skryf en sing.”
Met “Naweek Daar Buite” deel Jan Rhaap dié keer die ligter oomblikke: die werk wat klaar is, die pelle wat bymekaarkom en die eerste tree op die dansvloer. Die uitnodiging staan — daar is ’n naweek daar buite.












