Annelie is ’n Afrikaanse kunstenaar met ’n hart vir stories, egte emosie en musiek wat mense laat voel. Gebore in Upington en grootgeword in die mooie Paarl, het musiek van kleins af ’n natuurlike deel van haar lewe geword. Sy kom uit ’n baie musikale familie en het reeds op ’n jong ouderdom besef dat musiek nie net iets is wat sy geniet nie, maar iets waarsonder sy nie kan leef nie. In graad 2 het sy kitaar begin speel, en teen graad 4 het sy reeds ’n hele boek vol liedjies geskryf.
Haar eerste herinnering aan sing en optree kom van haar kleuterskooldae af, toe sy as vierjarige voor ’n saal vol mense gesing het. Al was sy baie skaam, was daardie oomblik die begin van ’n droom wat haar nog altyd sou volg: om te sing. Daar was nooit net een spesifieke oomblik waarin sy besluit het om musiek ernstig aan te pak nie; dit was eerder ’n droom wat saam met haar grootgeword het. Tydens haar eerste jaar op universiteit het sy egter besluit om haarself daar buite te sit, haar musiek meer ernstig op te neem en haar droom met oorgawe na te jaag.
Annelie se musiekstyl is ’n mengsel van Afrikaanse pop met ’n tikkie country. Sy hou van liedjies wat ’n storie vertel — musiek met betekenis, gevoel en eerlikheid. Vir haar gaan ’n goeie liedjie nie net oor woorde wat rym nie, maar oor ’n boodskap wat mense kan raak. Tog is sy net so lief vir ’n liedjie wat mense laat dans, want vir haar is daar min dinge so spesiaal soos om ’n gehoor te sien saamsing, saamvoel en saam beweeg op haar musiek.
Haar invloede kom uit verskillende plekke: van haar familie en geloof, tot kunstenaars wat haar deur die jare raad gegee het. ’n Spesiale oomblik wat sy altyd sal onthou, was toe sy in graad 7 op ’n kerkkamp kitaar gespeel het en ’n tannie die volgende oggend vir haar gesê het dat sy weet Annelie gaan eendag sing. Daardie woorde het haar dertienjarige hart diep geraak en haar laat glo dat haar droom moontlik is. Kunstenaars soos Dodo en Appel het ook vir haar waardevolle raad oor die musiekbedryf gegee. Nog ’n belangrike persoon in haar musikale reis is haar vervaardiger, kitaarspeler en goeie vriend, Ollyvans. Hy ken haar as mens en musikant, pak elke idee saam met haar aan en skep vir haar ’n veilige ruimte — op én van die verhoog af.
Annelie se eerste liedjie, “Deuntjie”, is reeds in matriek geskryf, maar eers tydens Covid weer herontdek en opgeneem. Sy het dit in 2023 as onafhanklike kunstenaar vrygestel. Al dra “Deuntjie” ’n diep storie en gevoel, beskryf sy daardie tyd as ’n fase waarin sy nog jonk en naïef in haar musiek was. Haar eerste groot vrystelling met ’n groter produksie en musiekvideo was “Enkelvoud” — ’n liedjie wat vir haar baie deure oopgemaak het en haar laat voel het dat sy op die regte pad is. Vandag is “Enkelvoud” steeds vir baie mense ’n gunsteling, en dit bly vir Annelie besonder spesiaal. Een van haar grootste hoogtepunte tot dusver was toe dié liedjie meer as ’n miljoen streams op Spotify bereik het.
Nog ’n liedjie wat baie persoonlik vir haar is, is “Wat As”. Sy het dit binne ’n uur in haar kamer geskryf, met woorde wat natuurlik gevloei het. Vir Annelie is dit een van haar liedjies met die mooiste lirieke, en dit het haar ook die geleentheid gegee om tydens die vervaardiging met country-klanke te eksperimenteer.
Annelie het ook reeds op verskeie platforms en verhoë verskyn. Sy is gekies as ’n “wild card” op die laaste seisoen van Die Kontrak — ’n ervaring wat haar met wonderlike mense in kontak gebring het en haar verder in haar loopbaan gehelp het. Optredes by feeste wat deur Dirkie Produksies aangebied is, soos Afrikaans op die Platteland en die Kouebokkeveld se Oesafdans, tel ook onder haar hoogtepunte.
Sy het al saam met Brandon Miles gewerk aan die duet “Laaste Wens”. Brandon is nie net vir haar ’n ongelooflik talentvolle kunstenaar nie, maar ook ’n goeie vriend. Die skryfproses, opname en musiekvideo bly vir haar ’n besonder lekker herinnering. Sy het ook saam met Ollyvans die duet “Stellenbosch in die Somer” vrygestel — ’n liedjie waarvan die natuurlike skryf- en opnameproses dit een van haar persoonlike gunstelinge gemaak het.
Wat Annelie uniek maak, is haar egtheid. Haar musiek vertel stories waarby mense aanklank kan vind. Sy het grootgeword met kunstenaars soos Theuns Jordaan en Juanita du Plessis, wat musiek met betekenis gemaak het, en dit het haar eie benadering tot musiek diep gevorm. Hoewel Afrikaanse musiek saam met die nuwe generasie aanhou ontwikkel, wil Annelie iets van die ou Afrikaans behou: musiek wat jy op die langpad kan luister, langs ’n kampvuur kan sing en met verskillende generasies kan deel.
Sedert haar begin as kunstenaar het sy baie gegroei — as skrywer, sangeres en verhoogkunstenaar. Waar optredes aan die begin vir haar senutergend was, is dit vandag een van haar grootste vreugdes. Sy het haar klank gevind en groei steeds in wie sy is, beide as mens en as kunstenaar.
Vir Annelie is musiek die konstante in alles. Of sy in die kar ry, tennis of golf speel, saam met familie is, hartseer voel of gelukkig is — musiek is altyd daar. Dit gee haar die ruimte om haar gedagtes en emosies lewe te gee. Deur haar musiek wil sy hê mense moet iets voel: geluk, nostalgie, verliefdheid, opgewondenheid of selfs hartseer. Meer as enigiets wil sy hê haar musiek moet mense help vergeet van die daaglikse stres van die lewe en hulle herinner dat Afrikaans steeds groot is — en dat die jong generasie mooi daarna sal kyk.
Soos baie kunstenaars, moes Annelie ook uitdagings oorkom. Sy het geleer dat beloftes in die musiekbedryf nie altyd realiseer nie, en dat harde werk, selfstandigheid en deursettingsvermoë noodsaaklik is. Hierdie lesse het haar sterker gemaak en haar geleer om self vir haar drome te werk.
Haar drome is groot. Sy wil die land plat toer en in elke dorp vir mense sing. Sy wil aanhou skryf, eendag ’n volle album vrystel en op groot verhoë soos Afrikaans is Groot en Krone optree saam met van Suid-Afrika se beste kunstenaars. Maar bo alles wil Annelie net aanhou sing.
Buite musiek is Annelie ’n plat-op-die-aarde mens wat lief is vir die lewe. Haar vriende en familie sal haar beskryf as eerlik, vrolik en iemand wat graag lag en ander mense gelukkig wil maak. Haar fondasie is sterk in die Here, en haar geloof lei haar in elke besluit wat sy neem. Sy speel graag golf, is mal oor tennis, hou van die natuur en die see, en geniet dit om te surf. Haar vriende, familie en geliefdes is haar veilige hawe — die plek waar sy werklik gelukkig is.




