Die dinamiese kunstenaar Gift Matjila stel met trots sy splinternuwe album, Van Oukraal tot Kalahari, bekend – ’n projek wat diep gewortel is in kultuur, herinneringe en die tydlose krag van Afrikaanse musiek.
Hierdie unieke album bestaan uitsluitlik uit ikoniese FAK-liedjies wat met ’n vars, moderne klank herverwerk is. Vir Gift is hierdie projek meer as net ’n versameling liedjies – dit is ’n persoonlike reis terug na sy grootwordjare en die mense en oomblikke wat hom gevorm het.
“Ek het Afrikaans grootgeword. Hierdie album is vir my baie spesiaal, want elke lied dra ’n storie en ’n gevoel,” sê Gift.
Een van die hoogtepunte op die album is Die Oukraal Liedjie – ’n snit wat vir Gift besondere emosionele waarde het. Die lied herinner hom aan sy laerskooldae, waar hy gereeld saam met ’n goeie vriend plaas toe gegaan het.
“Ek onthou hoe die hele familie altyd saamgesing het as iemand Die Oukraal Liedjie begin sing – oumas, oupas, pa’s en ma’s. Dit was nie net ’n lied nie, dit was samesyn. Dit bly vir my ongelooflik kosbaar.”
Die musiekvideo vir Die Oukraal Liedjie is by die ikoniese Voortrekkermonument geskiet en vertel die speelse storie van twee jong mans wat meeding om ’n nooi se aandag deur tradisionele boeresport-kompetisies – ’n visuele viering van kultuur, erfenis en jeug.
Nog ’n uitstaande snit is Halala Afrika, wat die ryk en diverse geskiedenis van Afrika vier. “Hierdie lied dra ’n trots en ’n storie wat baie groter is as ekself. Dit maak dit vir my besonders,” verduidelik Gift.
Met Van Oukraal tot Kalahari bring Gift Matjila ’n eerlike en vars perspektief op klassieke Afrikaanse musiek. Die album balanseer nostalgie met ’n kontemporêre aanslag, en maak dit toeganklik vir beide jong en ou gehore.
“Afrikaans is vir my ’n kans – ’n keuse om meer te wees. Dit is wie ek is, en dit is die taal wat my gevorm het.”











