Optredes

  • Oos Wes Tuis Bes!
Mar 27, 2026

Kerk Straat Vat Suid-Afrika Terug Na Die “MK Dae” – ’N Era Waar Die Klein Ou Ook ’N Stem Gehad Het

Met hul nuutste enkelsnit, “MK Dae”, herroep die Afrikaanse rockgroep Kerk Straat ’n ’n kulturele oomblik waar musiek nie net vermaak was nie, maar ’n noodsein. Waar stories rou, eerlik en onverskonne vertel is. Waar die “klein ou” ook ’n beurt gekry het om te sê wat hy wou sê.

Vir die groep simboliseer die MK-era veel meer as net nostalgie. Soos die hoofkitaar speler Jason Coetzee,verduidelik:

“MK was nie net ’n musiekkanaal nie. Dit was ’n plek waar kunstenaars soos Fokofpolisiekar, Karen Zoid en ef-el hul stemme gevind het. Vir baie Suid-Afrikaners was MK ’n noodroep: ons musiek, ons stemme — nóú. Dit was ’n klein vuurtoring wat sy lig in ’n bepalende kulturele oomblik laat skyn het.

Daardie gees van egtheid, durf en kulturele identiteit is presies wat Kerk Straat met “MK Dae” weer wil aanwakker.

Volgens die groep voel iets wesenlik anders in vandag se musiek- en medialandskap. Die tromspeler Caleb Bediako, meen:

“Wat ontbreek, is die opregte konneksie tussen kunstenaar en luisteraar. In die MK-era het musiek iets beteken. Jy kon die honger en die eerlikheid hoor. Mense het nie net musiek verbruik nie – hulle het daaraan behoort.”

Die lied spreek hierdie verlange direk aan in die refrein:
“Ek mis die MK Dae waar,
Die klein ou ook ’n beurt gekry het
Om te sê wat hy wou sê.”

“MK Dae” was vir die groep ’n bevrydende ervaring. Sanger en ritmekitaar-speler Francois Viviers beskryf dit as een van die mees onbevange kreatiewe prosesse wat hulle nóg beleef het:

“Ons het geen perke aan die skryf- of opnameproses gestel nie. Ons het ons harte en siele in die lied ingegooi. Om musiek te maak sonder om voortdurend te wonder wat mense gaan dink, was nie net bevrydend nie — dit was ’n seën.”

Die resultaat is ’n snit wat balans vind tussen nostalgie en selfondersoek; tussen kritiek en erkenning. Jason verduidelik dat die lied nie net vingers wys nie:

“Dit kom uit ’n plek van selfondersoek. Dit vra ook of jy self soms deel raak van dit wat jy kritiseer.”

Soos baie van Kerk Straat se werk, gebruik “MK Dae” subtiele satire om groter temas aan te spreek – van aktivisme tot oppervlakkigheid in die bedryf en sosiale media. Die skerp lyn:
“En jys ’n aktivis, teen alles wat verkeerd is / Maar jys die grootste probleem”
is volgens die groep gemik op die kultuur van voorgee – waar beeld dikwels belangriker raak as inhoud.

Christo Franken, die groep se baskitaarspeler, voeg by:

“As jy ’n boodskap het, is musiek ’n uitstekende manier om dit te deel. Maar sonder eerlikheid is daar geen ware standpunt nie.”

“MK Dae” tref veral dié generasie wat grootgeword het in die oorgang tussen analoog en algoritme – diegene wat nog onthou hoe dit gevoel het toe platforms ruimte geskep het vir stemme eerder as handelsmerke. Tog glo die groep die boodskap is tydloos: die verlange na egtheid en die vryheid om te sê wat jy wil sê, behoort aan elke generasie.

Die kernlyn van die lied som dit op:
“Voor almal ook genoeg van my het, wil ek net sê wat ek wil sê.”

Dit is ’n oproep om eerlik te wees – nou – voordat die geraas jou stem verswelg.

Is “MK Dae” kritiek, waarneming of uitlaatklep? Volgens die groep is dit al drie. Dit is ’n spieël  wat gelig word vir hulself,  asook vir die samelewing. Dit bevraagteken ’n bedryf waarin selfs onbeskofte mense vrolik moet lyk, en waar verhoudings dikwels oor voordeel, nie egtheid, gaan nie.

Tog bly die kernboodskap hoopvol.

“Ons hoop om weer iets aan te steek,” sê Caleb. “Opwinding. Emosie. ’n Gevoel van tuiskoms. As ons mense kan herinner hoekom hulle verlief geraak het op Afrikaanse rock – en wys dat die storie nog lank nie verby is nie – dan het ons geslaag.”

As Kerk Straat vandag iets sonder filters kon sê?

“Die musiek waarin ons vandag belê, is die musiek wat ons kinders eendag live gaan beleef. Ons wil hê hulle moet iets kan voel. Regtig voel.”

Met “MK Dae” bewys Kerk Straat dat nostalgie nie net ’n terugblik is nie – dit is ’n herontwaking. ’n Herinnering dat betekenis altyd harder praat as die beeld wat voorgesit woerd. En dat daar steeds plek is vir die klein ou om op te staan en te sê wat hy wil sê.

Volg vir Kerk Straat op:

PUBLISITEIT & BEMARKING :
Vonk Musiek
Ashley Du Toit
Sel: 083 963 3055
E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

PLATEMAATSKAPPY :
Vonk Musiek
Francois Roux
Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
E-pos : francois@vonkmusiek.co.za

Optredes

  • Oos Wes Tuis Bes!