Daar is ’n groot verskil tussen ’n plek waar jy woon en ’n plek waar jy hoort. Met hul samewerking, Oos Wes Tuis Bes, neem Kabous en Logan Pietersen luisteraars terug na daardie plek waar jou wortels lê, jou mense jou ken en selfs die kleinste dinge jou herinner: hier is ek tuis.
Met lirieke soos “Hier is die land waar jou wortels lê” en die treffende refrein “Van die Oos tot die Wes, bly jou huis maar die bes”, is die lied ’n warm, eerlike liefdesbrief aan Suid-Afrika – maar sonder om voor te gee dat die lewe hier altyd maklik is.
Vir Kabous, wat die lied geskryf het, kom dié boodskap uit persoonlike ervaring. Hy het drie jaar oorsee gewerk en in dié tyd besef dat finansiële sukses nie noodwendig kan opmaak vir die mense en oomblikke wat ’n mens agterlaat nie.
“Ek het baie vinnig agtergekom dat geld eintlik maar niks beteken as jy nie mense het om dit mee te deel nie. Geld kan geen tyd terugkoop nie, en tyd is die mees onbekostigbare ding op aarde,” vertel hy. Wat hom veral van Suid-Afrika laat verlang het, was die warmte van sy mense – van ’n vriendelike groet by die betaalpunt tot iemand wat jou sommer in ’n parkeerarea raakgesels.
Dit is juis daardie besef wat deur Oos Wes Tuis Bes loop. Die lied probeer nie ’n perfekte prentjie van die land skilder nie. Inteendeel, die woorde “Geld is maar min, waar liefde nog bly” erken dat die lewe uitdagings het, maar herinner luisteraars terselfdertyd aan dit wat nie met geld gekoop kan word nie: familie, vriendskap, liefde en ’n gevoel van behoort.
“Liedjies moet altyd die waarheid praat,” sê Kabous. “Die lewe is nie altyd maanskyn en rose nie. Geld is nie alles nie.”
Vir Logan het die lied se konsep van die begin af aanklank gevind. Hoewel hy en Kabous reeds vir ’n geruime tyd van mekaar geweet en mekaar se loopbane ondersteun het, het hulle nog nooit ontmoet voordat Kabous hom oor die lied genader het nie. Logan sê hul gedeelde waardes en beginsels het die samewerking natuurlik laat voel – en hul stemme het boonop besonder goed by mekaar gepas.
Kabous het op sy beurt reeds na Logan se musiek geluister en raakgesien dat hulle baie van dieselfde waardes en geloofsoortuigings deel. Logan se kenmerkende rasperstem het hom selfs gehelp om die lied in ’n bepaalde rigting te hoor terwyl hy dit geskryf het.
Daardie natuurlike verbinding tussen die twee kunstenaars word veral hoorbaar wanneer hul stemme in die koor bymekaar kom. Kabous onthou die eerste keer wat hulle dit saam in die ateljee gesing het as die oomblik waarop hulle eenvoudig geweet het dat die lied sy hart gevind het.
Hoewel Oos Wes Tuis Bes diep persoonlik is, reik die boodskap veel verder as net die twee kunstenaars se eie stories. Die lied beweeg van ouers, vriende en wortels na die Springbokke, Nkosi Sikelel’ iAfrika en uiteindelik die trotse verklaring: “Net RSA in ons DNA.”
Vir Kabous is daardie gedeelte ’n viering van dit wat Suid-Afrikaners ondanks hul verskille met mekaar verbind.
“Suid-Afrika is so ’n diverse land. Al het ons ras-, taal- en kultuurverskille, is die trotse Suid-Afrikaner ingeweef in ons almal se menswees,” verduidelik hy.
Die lied ontken ook nie die donker wolke nie. In die brug hoor ’n mens: “Al kom daar donker wolke, is daar steeds ’n silver rand.” Vir Kabous lê daardie silwer rand dikwels in Suid-Afrikaners se vermoë om selfs deur moeilike tye hul humor te behou. Vir Logan is hoop weer te vind in iets so eenvoudig soos om ná ’n moeilike dag ’n vuurtjie aan te steek, lekker kos te maak en musiek te luister of te speel.
“Hier skyn die son altyd ná ’n moeilike dag. Ons ken nie opgee nie,” sê Logan.
Een van die lied se sterkste gedagtes is dat “die gras nie so groener daar aan die ander kant” is nie. Kabous weet eerstehands hoe dit voel om ver van die huis te wees. Hy het drie jaar in China gewoon en sê sy ervaring, asook dié van familielede wat al jare oorsee werk, het telkens dieselfde waarheid bevestig: daar is net geen plek soos jou huis nie.
Logan het self nog nie in ’n ander land gewoon nie, maar het wel vir lang tye weg van familie en vriende gebly – genoeg om te verstaan hoe ’n plek sonder jou mense vreemd kan begin voel.
Daarom is Oos Wes Tuis Bes nie bedoel as ’n oordeel oor Suid-Afrikaners wat kies om oorsee te woon of werk nie. Dit is eerder ’n herinnering om te onthou waar jou wortels lê en wat jou gevorm het. Soos Kabous dit stel: of jy hier gelukkig is of elders jou geluk gaan soek, dra jou “proudly South African” steeds in jou hart saam.
Vir Logan is “tuis” uiteindelik alles wat bekend, veilig en gemaklik voel – die plek waar jou wortels kans gekry het om te groei. Wanneer hy weg is, is dit die eenvoudige dinge
wat hy eerste mis: sy bed, sy diere en hul stoep. Kabous vind daardie gevoel weer in sy tuisdorp, Cullinan, waar die rustigheid vir hom die ideale atmosfeer skep om te skryf.
En dalk is dit presies waarom Oos Wes Tuis Bes so maklik herkenbaar voel. Dit gaan nie net oor ’n land op ’n kaart nie. Dit gaan oor ’n braaivleisvuur op ’n somersaand, ’n bekende stoep, jou familie se stemme, ’n Springbok-wedstryd, ’n vriendelike glimlag van ’n vreemdeling en die son wat ná ’n moeilike dag weer deurbreek.
Logan hoop luisteraars stap uiteindelik met ’n “tuisgevoel” weg – met herinneringe aan hul mooiste oomblikke, hul beste sonsondergange en die reuk van braaivleisvure.
Kabous se wens is ewe eenvoudig, maar treffend: bewaar die kosbare tye saam met jou mense, want môre is dit dalk die herinneringe wat oorbly.
Met Oos Wes Tuis Bes herinner Kabous en Logan Pietersen Suid-Afrikaners dat “huis” nie noodwendig beteken dat alles perfek is nie. Dit is die plek waar liefde bly, waar jou mense is, waar jou geskiedenis leef – en waar, van die Oos tot die Wes, jou hart steeds weet waar dit hoort.













