Wanneer die musiek stil raak, wie bly om jou lied verder te sing? Vir Andriëtte lê die antwoord by die mense wat haar onvoorwaardelik liefhet. Met haar nuwe enkelsnit, “As Die Musiek Stop”, geskryf deur Rudi Claase, deel sy ’n persoonlike boodskap oor liefde wat aanhou kies om te bly, herinneringe wat deur musiek voortleef en die hoop om weer jou eie melodie te vind.
Vir Andriëtte was die verbintenis met die lied van die begin af daar. Claase se vermoë om emosie in woorde vas te vang, is iets wat haar telkens opgewonde maak.
“As Rudi Claase skryf, word ek opgewonde, want sy lirieke tref diep en dis waarvan ek hou,” vertel sy. “En die musiek het al vantevore gestop vir my. Ek is net so dankbaar dat musiek ’n mens deur enige emosie dra.”
Dat Claase dié komposisie aan haar toevertrou het, beskou sy as ’n voorreg. Die titel het vir haar ook ’n betekenis wat veel verder as die laaste noot van ’n lied strek. Dit vra wat oorbly wanneer die wêreld om jou verdwyn: Sal iemand jou steeds kies en by jou wees wanneer dinge nie meer maklik is nie?
“Ons lewe in ’n kitswêreld waar mense maklik opgee omdat dinge soms harde werk word, maar ware liefde werk voort en kies altyd weer om te bly.”
Dié liefde het vir Andriëtte konkrete gesigte. Sy dink aan haar ouers se onvoorwaardelike ondersteuning en aan haar man, wat haar bly bemoedig en liefhê het toe die musiek, soos sy dit beskryf, al vir haar gestop het. Hy het nie opgegee nie en het haar gehelp glo dat sy weer sou kon terugkom. Haar familie en gebed is, sê sy, dit wat die musiek in haar laat aanhou speel. Sy wil die lied graag aan haar man, haar ouers en haar broer opdra.
“As Die Musiek Stop” raak ook aan die besondere manier waarop musiek mense en herinneringe naby kan bring. Wanneer Andriëtte die openingswoorde sing, dink sy aan haar oumas. Vir haar is musiek een van die min dinge wat ’n mens vir ’n oomblik kan laat voel asof iemand wat nie meer hier is nie, weer by jou is.
Sy ervaar iets soortgelyks wanneer sy na Theuns Jordaan se Roeper-album luister: dit laat haar verlang, laat haar goed voel en neem haar terug na haar “hartsplekke”.
Tog gaan die lied nie net oor die mense wat ’n mens dra nie, maar ook oor die verantwoordelikheid om dieselfde vir ander te doen.
“Soms moet iemand die lied vir jou kan voltooi en jy dan weer op ’n volgende geleentheid die lied vir hulle kan voltooi. Ons is hier om die note vir mekaar in te vul.”
Die lirieke verwoord ook die gedagte dat iets van ’n mens deur ander kan voortleef: “As die musiek stop sal jy verder sing / En vir die wêreld my hart en my woorde bring.” Andriette – As Die Musiek Stop … Vir Andriëtte is dié nalatenskap nie net musikaal nie. Dit lê ook in die waardes, maniere, tyd en liefde wat sy aan haar kinders en die mense rondom haar gee — tot by die “liefdeskos” wat sy met haar hart op die tafel sit.
Musikaal beskryf sy die snit as sterk, gevoelvol en geskik vir saamsing. Sy het Claase se verwerking vertrou en praat met groot waardering oor Murray Lubbe se werk aan die produksie. Claase se skryfwerk gee haar, sê sy, die ruimte om ’n sterk vokale vertolking met ’n diep emosionele boodskap te verbind.
Een van die betekenisvolste oomblikke tydens die opname was juis ’n eenvoudige besef: dat sy haar stem kon gebruik om nóg ’n boodskap oor te dra.
Andriëtte beskryf haar huidige persoonlike en kreatiewe hoofstuk as positief. Sy sing haar hart uit en waardeer dat die musiek nou vir haar mooi is. Met hierdie vrystelling hoop sy om luisteraars aan te moedig om ook die lewe en liefde meer bewustelik in te neem en te waardeer.
Hoewel “As Die Musiek Stop” verskillende betekenisse kan hê vir iemand wat liefde, verlies of verlange beleef, is daar een gevoel wat sy graag ná die laaste noot wil laat agterbly: hoop.
“Hou aan hoop en droom, en al kan jy nie die musiek hoor nie, weet dit hou nooit regtig op met speel nie.”












