Nov 27, 2026

Andriëtte En Milah Bring Die Boland Tot Lewe Met Skryf’it-Wenlied “Bittermooi Boland”

’n Ma se woorde, ’n dogter se melodie en twee stemme wat hul liefde vir die Boland met die wêreld deel.

Soms loop ’n lied ’n merkwaardige pad voordat dit by die stemme uitkom waarvoor dit bestem was. Só is die verhaal van “Bittermooi Boland”, die nuwe samewerking tussen die bekroonde Afrikaanse sangeres Andriëtte Norman en die jong Wellingtonse kunstenaar Milah Redelinghuys. Die lied, wat as die wenner van die FAK-Skryf’it-liedjieskryfkompetisie van 2026 aangewys is, word op Vrydag 27 November 2026 saam met ’n musiekvideo uitgereik.

Met beeldryke lirieke deur Aniel Redelinghuys, toonsetting deur haar dogter Milah en die besondere stemkombinasie van Andriëtte en Milah, is “Bittermooi Boland” ’n ode aan die landskap, mense, seisoene en eenvoud van die lewe in dié geliefde streek. Dit vertel van ’n plek waar berge en wingerde nie bloot deel van die omgewing is nie, maar deel vorm van wie die mense is wat dit hul tuiste noem.

Toe Aniel Redelinghuys oorspronklik die woorde van “Bittermooi Boland” neergepen het, het sy reeds Andriëtte Norman se stem in gedagte gehad. Die lirieke het egter vir ’n geruime tyd in haar skryflêer bly lê totdat sy en Milah eendag deur haar ou gedigte begin blaai het op soek na materiaal vir Milah se volgende enkelsnit.

Met die lees van “Bittermooi Boland” was Milah se reaksie eenvoudig: “Ma, ek wil hom sing!”

Vir Milah was dit die herkenbaarheid van haar ma se woorde en die liefde vir die omgewing waarin sy grootgeword het wat haar dadelik aangespreek het.

“Dit was die mooi lirieke en die feit dat dit gebaseer is op die pragtige Boland wat ons huis noem. Dis my tuiste en iets waarvoor ek baie lief is, so dit was natuurlik iets waaroor ek wou sing,” vertel Milah.

Ma en dogter het die refrein stukkie vir stukkie begin sing voordat Milah een aand agter die klavier ingeskuif en die woorde verder begin toonset het.

“Ek speel nie rerig baie goed klavier nie, maar my pa was mal daaroor. Die lied het vanself gekom,” onthou sy.

Die plan was aanvanklik om “Bittermooi Boland” as Milah se derde enkelsnit van die jaar uit te reik, totdat die geleentheid ontstaan het om vir die FAK-Skryf’it-liedjieskryfkompetisie in te skryf.

Uit meer as 1 100 inskrywings en deur ’n kompetisie met vyf gevestigde musiekpersoonlikhede as mentors, het die lied uiteindelik sy weg gevind na presies die kunstenaar vir wie Aniel dit oorspronklik geskryf het – Andriëtte Norman.

Die verhaal het op 24 September 2026 by die Toeka tot Toekoms-erfenisfees by die Voortrekkermonument ’n besondere hoogtepunt bereik toe “Bittermooi Boland” as die algehele wenlied aangewys is.

“Ons was almal op die verhoog en het saam gevier! Ons het op en af gespring. Dit was baie lekker en ’n besondere groot voorreg,” vertel Milah oor dié onvergeetlike oomblik.

Vir Andriëtte het “Bittermooi Boland” van die eerste luister af ’n persoonlike betekenis gehad. As iemand wat in die Kaap grootgeword het, het die lirieke herinneringe aan haar kinderjare, bekende landskappe en die mense na aan haar hart wakker gemaak.

“Die woorde het my nostalgies laat voel oor my grootwordjare, oor waar ek vandaan kom, en oor die goed wat naby aan my hart lê: die omgewing rondom my en die reuke waaraan ek gewoond is,” verduidelik Andriëtte.

Hoewel sy aanvanklik as mentor by die lied betrokke geraak het, was dit juis Milah se stem op die oorspronklike demo wat haar laat besef het dat die lied as ’n duet vertolk moet word.

“Sy sing met soveel gevoel en het so ’n volwasse stem vir haar ouderdom. Ek het gedink ons kan hierdie beskrywing van die Boland uit twee oogpunte doen: uit ’n jonger oogpunt en uit my oogpunt, wat ’n bietjie ouer is,” sê Andriëtte.

Vir Andriëtte, wat ná ’n tydperk in Pretoria teruggekeer het Kaap toe, dra die lied se wens dat die Boland vir altyd haar huis sal wees ook ’n dieper, persoonlike betekenis.

“Al die plekke wat ek hier rondom my sien, laat my voel dis huis: die berge, die Boland om my, die wynplase, die aktiwiteite, die mense en my familie wat reg rondom my bly. Almal hier is hartsmense.”

Tydens hul samewerking het Andriëtte ook heelwat van haar jonger self in Milah herken. Sy beskryf die jong kunstenaar as gedrewe, saggeaard en plat op die aarde, met ’n stem wat emosie en diepte dra.

Die oorspronklike karakter van die lied is deurgaans behou. Met Melissa van der Spuy se betrokkenheid by die verwerking en vervaardiger Olly van Schalkwyk se insette in die ateljee, het die lied ’n meer moderne produksie gekry sonder om die oorspronklike komposisie se bekoring prys te gee.

Van ryp-rooi wingerde en granate wat in die oggendson skitter tot someraande onder die sterre, die Bergrivier en die eerste winterreën – “Bittermooi Boland” skilder die streek deur die wisseling van sy seisoene en die alledaagse oomblikke wat die lewe daar besonders maak.

Vir Milah is hierdie beelde deel van haar daaglikse bestaan in Wellington.

“Ons is omring deur wingerde en dis vir my so mooi hoe die wingerde elke seisoen verander. Die lirieke praat van die sterbeligte aande wat saam kom kuier as ons braai. Dis regtig so ’n mooi beeld van die twee spesiale goed hier – die mooi sterre en die lekker kuier saam met vriende.”

Die refrein verwoord die verlange en verbondenheid wat soos ’n goue draad deur die lied loop:

“Neem my na die Boland
waar son en berg saam blom.
My hart is in die Boland…”

Hoewel die lied spesifiek oor die Boland handel, strek die boodskap verder as die streek se geografiese grense. Dit herinner luisteraars aan hul eie wortels, die waarde van saamwees en die besondere betekenis van ’n plek wat hulle huis kan noem.

Milah Redelinghuys is ’n 16-jarige sangeres van Wellington wat reeds op ’n jong ouderdom betekenisvolle treë in die musiekbedryf gegee het. Sy het haar sangvermoë deur deelname aan verskeie sangkompetisies ontwikkel, ook op nasionale vlak, en is in 2025 as die algehele wenner van SingSterre aangewys.

In 2026 het Milah haar eerste twee enkelsnitte uitgereik, met haar ma, Aniel, as liriekeskrywer van haar oorspronklike musiek.

Haar debuut, die gospellied “Holy Holy Holy”, het binne die eerste paar dae ná vrystelling meer as 10 000 strome op YouTube Music ontvang, ondanks ’n beperkte radiobekendstellingsveldtog. Daarna het “Jy is Poetry” gevolg, ’n Afrikaanse alternatiewe rocksnit met ’n boodskap oor identiteit, eiewaarde en die unieke doel waarmee elke mens geskep is.

Die kreatiewe verhouding tussen ma en dogter vorm ’n belangrike deel van Milah se ontwikkeling as kunstenaar.

“Dit is vir my baie lekker om saam met haar te werk en ook om te sien hoe sy die kuns van lirieke laat lewe kry en ek die musiek daarby kan sit,” vertel Milah.

Met “Bittermooi Boland” voeg Milah nie net ’n derde enkelsnit by haar groeiende musiekloopbaan nie, maar kry sy ook die geleentheid om haar talent langs een van Afrikaans se gevestigde vrouestemme ten toon te stel.

Die gepaardgaande musiekvideo gee visueel gestalte aan die beelde wat so treffend in die lirieke beskryf word. Met ’n tradisionele oestafelfees op ’n Wellingtonse plaas as middelpunt, vier die video die streek se natuurskoon, leefstyl, gasvryheid en gemeenskapsgevoel.

Fairview Wine and Cheese het die produksie ondersteun deur hul perseel vir gedeeltes van die verfilming beskikbaar te stel, asook produkte vir die tradisionele oestafel te borg.

Vir Andriëtte was dit belangrik dat die musiekvideo nie net die natuurskoon van die Boland uitbeeld nie, maar ook die warmte van sy mense en die kosbaarheid van saamwees.

“Ons wou stukke van die Boland wys wat mense nostalgies maak. Ek wil hê mense moet onthou hoe mooi die Boland is, en hoe mooi die lewe is, en dat ons dit moet inneem.”

Uiteindelik is “Bittermooi Boland” die verhaal van ’n ma wat haar liefde vir ’n plek in woorde vasgevang het, ’n dogter wat daardie woorde ’n melodie gegee het en twee kunstenaars wat uit verskillende generasies dieselfde liefde besing.

Dit is ’n viering van herkoms, vriendskap, familie en die voorreg om iewers te behoort.

Volg vir Andriëtte op:

PUBLISITEIT & BEMARKING :
Vonk Musiek
Ashley Du Toit
Sel: 083 963 3055
E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

PLATEMAATSKAPPY :
Vonk Musiek
Francois Roux
Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
E-pos : francois@vonkmusiek.co.za