Nov 27, 2026

Tino Verlang Na Sy Jonger Self In Ek Try Verander

In sy nuwe enkelsnit, “Ek Try Verander”, verlang Tino na die mens wat hy was toe hy makliker geluk in klein dinge kon vind. Die lied kan as ’n liefdeslied gehoor word, maar die persoon met wie hy in die lirieke praat, is sy jonger self.

“Die ‘jy’ in die lied is vir my eintlik myself. Ek praat met die persoon wat ek was toe ek jonger was,” vertel Tino.

Die idee het ontstaan uit ’n gesprek met sy vriend Vic Van Wyk, wat musiek as Sickluv maak. Hulle het gepraat oor hoe mense met tyd verander en soms terugverlang na wie hulle vroeër was. Vir Tino het dit herinneringe wakker gemaak aan ’n tyd toe hy minder bekommerd was en makliker geluk kon vind.

Daardie soeke lê ook in die woord “try” in die titel. “Ek probeer verander. Ek sê nie ek het verander nie,” verduidelik hy. “Die titel voel vir my eerlik omdat niemand eintlik net een dag wakker word en alles uitgesorteer het nie.”

Vir Tino gaan dié verandering oor die soeke na rustigheid te midde van die verantwoordelikhede en bekommernisse wat hy mettertyd begin saamdra het. Hy waardeer die mens wat hy vandag is en wil die geluk en helderheid van sy kinderjare deel van sy grootmenslewe maak.

Die beelde in die lirieke gee vorm aan daardie verlange. “Stof en grendels” verteenwoordig vir hom die eenvoud van vroeër, toe plekke en dinge nie perfek hoef te wees om geluk te bring nie. Die waterstrome is simbolies van ’n plek waar hy kan asemhaal, sy kop skoonmaak en weer na aan sy jonger self voel.

Hoewel die kern van die lied redelik vinnig gekom het, het die betekenis vir Tino mettertyd verdiep. Hy beskryf dit as een van die meer persoonlike liedjies wat hy geskryf het. Die vorm van ’n liefdeslied het dit vir hom makliker gemaak om dié gevoelens te verwoord, terwyl luisteraars hulle eie stories daarin kan hoor.

Met die musiek wou hy ook ruimte vir hoop laat. “Ek wou hê die musiek moes nostalgies voel sonder om net hartseer te wees. Daar moes steeds ’n gevoel van hoop wees,” sê hy.

Tino hoop “Ek Try Verander” sal aanklank vind by mense wat self deur verandering gaan of na ’n vroeëre weergawe van hulleself verlang.

“Ek hoop hulle besef dit is okay om dele van jou ou self te mis. Jy hoef nie jou verlede te haat om vorentoe te beweeg nie,” sê hy. “Jy kan groei, verander en volwasse word, maar steeds probeer om daardie kind in jou wat gelukkig was oor klein goed te behou.”

Volg vir Tino op:

PUBLISITEIT & BEMARKING :
Vonk Musiek
Ashley Du Toit
Sel: 083 963 3055
E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

PLATEMAATSKAPPY :
Vonk Musiek
Francois Roux
Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
E-pos : francois@vonkmusiek.co.za