Des 19, 2025

Deon Groot Vier Liefde, Lewe En Menswees Met Sy Nuwe Album Seisoene

Afrikaanse sanger en liedjieskrywer Deon Groot maak 2025 n groot jaar vir hom met sy splinternuwe album Seisoene – ’n projek wat sy groei as kunstenaar op veerkragtige en intieme wyse vasvang. Met 16 snitte wat wissel van romantiese ballades en beeldryke lirieke tot humoristiese satire en energieke danssnitte, is Seisoene ’n album wat luisteraars deur elke emosionele landskap neem wat die lewe bied.

Deon beskryf die album as ’n natuurlike uitvloeisel van sy eie emosionele en kreatiewe siklusse. “Mens hardloop deur die seisoene,” verduidelik hy. “Jou verhoudings, jou gemoed, jou goeie dae en jou moeilike dae – elke lied het op sy tyd gevoel soos ’n stuk van daardie reis.”

Sedert sy aansluiting by Vonk Musiek het Deon ’n nuwe kreatiewe vryheid gevind wat sy skryfstyl merkbaar gevorm het. “Dit’s asof daar ’n lig aangegaan het. Ek kon skryf soos ek voel, sonder om myself te verloor. Ek kon eksperimenteer, en steeds eg bly.

Seisoene is Deon se eerste volskaalse album sedert die Covid-era – ’n periode waarin hy intens geskryf het en sy eie klank verfyn het. Die projek het reeds in 2022 begin vorm aanneem. Alhoewel die album aanvanklik net 10 liedjies sou bevat, het hy dit uitgebrei tot 16 om die volle ‘seisoensiklus’ te voltooi.

“Ek wou meer gee,” sê hy. “Meer stories, meer gevoel, meer menswees. Daar is sowat vier liedjies per seisoen – en ek wou nie hê enigeen moes afgeskeep word nie.”

Liedjies soos Soetgeur en Plek in my hart bied ’n sagter blik op Deon se kunstenaarskap. Soetgeur is geïnspireer deur sy vrou – spesifiek die oomblik toe hy haar vir die eerste keer gesoen het.

“Dit gaan oor die kenmerke wat uitstaan – die soetgeur van sagte hare, iemand se oë, ’n glimlag,” vertel hy. “Dis die klein goed wat geld nie kan koop nie.”

Aan die ander kant van die spektrum sit ’n karakter soos Fabio – beide in ’n eksplisiete en radio-vriendelike weergawe. Dit is ’n tong-in-die-kies kommentaar op mense wat die kollig jaag of hulself groter voorstel as wat hulle is.

“Almal ken ’n Fabio,” lag hy. “Maar dalk is ons almal soms ’n bietjie Fabio.”

Snitte soos Reën, Hand op die bybel en Die Een (’n remastered weergawe) bring weer ’n ernstige, introspektiewe toon na vore. Deon se gunsteling-lyntjie van die hele album kom juis uit Reën:
“Ek plant my saad van hoop, want hierdie hart is GROOT.”
Vir hom gaan dit oor groei, volharding en die moed om jou eie grond te bewerk – letterlik en figuurlik.

Tydens die skryf en opname van die album het Deon baie oor homself geleer. Hy erken dat die musiekbedryf se menings en verwagtinge soms oorweldigend kan wees, maar dat hy uiteindelik teruggekeer het na sy eie instinkte.

“Ek moes besef: ek is die skrywer. Ek is die een wat die stories leef. Dis goed om kritiek te hoor, maar ek kan nie myself daarin verloor nie.”

Hierdie eerlikheid oor sy proses loop soos ’n goue draad deur die album.

As luisteraars net een lied moes kies om sy nuwe klank te leer ken, beveel Deon sonder huiwering die titelsnit Seisoene aan.
“Dit omvat alles – dit’s diep, dit’s mooi, dit’s dansbaar. Dit vat jou deur al die elemente wat op die album leef.”

Met sy ikoniese refrein “Vier seisoene, ’n duisend soene…”, bied die lied ’n universele verhaal van liefde wat volhard deur die seisoene van die lewe.

Uiteindelik wens Deon dat luisteraars iets baie spesifiek by Seisoene sal wegneem:

“Dat jy genoeg is. Dat jy mag voel. Dat jy mag wees wie jy is – sonder verskoning.”Vir aanhangers is daar goeie nuus: Seisoene is net die begin van wat voorlê.
Deon bevestig dat daar toere, optredes, skeepvaarte, spesiale projekte op pad is.

“Ons bou reeds aan die volgende hoofstuk,” verklap hy.

Met Seisoene bewys Deon Groot dat hy nie bang is om sy hart op die tafel te sit nie – of dit nou in die vorm van ’n liefdesballade, ’n dansbare oorwurm of ’n satiriese karakter is. Die album vier elke faset van menswees: die mooi, die rou, die snaaks, die pynlike en die vreugdevolle.

Dit vier… die seisoene wat ons almal ken.

Volg vir Deon Groot op:

PUBLISITEIT & BEMARKING :
Vonk Musiek
Ashley Du Toit
Sel: 083 963 3055
E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

PLATEMAATSKAPPY :
Vonk Musiek
Francois Roux
Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
E-pos : francois@vonkmusiek.co.za