Optredes

  • KleinGroenBlohm
  • Noord Tot Suid
  • Uiteindelik
Kerk Straat - Engel
Sep 18, 2026

Kerk Straat Gee Nuwe Lewe Aan Karen Zoid Se Geliefde Treffer “Engel”

Daar is sekere liedjies wat nie net deur ’n generasie onthou word nie, maar deel word van mense se stories. Karen Zoid se “Engel” is een van hulle. Nou gee die Afrikaanse band Kerk Straat dié bekende treffer ’n vars rock-aanslag met ’n weergawe wat die hart van die oorspronklike respekteer, maar onmiskenbaar hulle eie stempel dra.

Die besluit om “Engel” aan te pak, het eintlik heel natuurlik ontstaan. Kerk Straat het die lied aanvanklik bloot by hulle lewendige repertoire gevoeg omdat die koor hom so goed tot saamsing leen.

“Dit het eerstens ’n lekker singalong-koor,” vertel die groep. “Die oorspronklike snit is ook baie akoesties, wat vir ons die ruimte gegee het om regtig ons eie stempel daarop te plaas. Toe ons die terugvoer van die crowds begin sien, het ons geweet hier is iets met potensiaal.”

Daardie gehoorreaksie is veral gepas vir ’n lied waarin die idee van saamsing so sentraal staan. Die woorde “as ek sing dan sing jy saam” het vir Kerk Straat ’n nuwe betekenis gekry sedert hulle dit as groep begin uitvoer het.

“Vir ons gaan dit oor daardie gevoel van eenheid en ondersteuning — nie net binne die band nie, maar ook tussen geliefdes. Toe ons die lied live begin speel en mense saam met ons begin sing, kon ons daardie gevoel definitief ervaar.”

Hoewel hulle die verwerking hulle eie gemaak het, was dit belangrik dat die oorspronklike storie nie verlore gaan nie. Hulle probeer daarom nie bepaal wie die “engel” in die lied is of Karen Zoid se bedoeling namens haar herskryf nie.

“Engel is vir wie ook al Karen die song geskryf het. Ons probeer glad nie haar storie verander nie; ons wil dit net op ’n nuwe manier vertolk. Ons love dit wanneer mense hulle eie interpretasie daarvan skep.”

En daarin lê juis een van die redes waarom die lied ná al die jare steeds so sterk aanklank vind. Die emosie is universeel: om iemand lief te hê, bang te wees om hulle te verloor en terselfdertyd te weet dat mense soms moet gaan.

Die reël “Jy is ’n engel en ’n dief” som vir die groep dié teenstrydigheid perfek op.

“As ’n mens wil ontvang, moet ’n mens ook kan gee. Maar die woord ‘dief’ het my onmiddellik laat dink aan iemand wat jou hart gesteel het.”

Net so dra “Hou my vas wanneer jy gaan” vir hulle die pynlike paradoks van liefde: die begeerte dat iemand jou steeds moet vashou, selfs wanneer jy weet hulle is op pad weg.

“Dit gaan absoluut oor liefde. Dit is daardie smeek van ‘bly’, wanneer iemand eintlik moet gaan.”

“Engel” se emosionele trefkrag lê egter nie net in sy groot romantiese temas nie. Die lirieke beweeg gemaklik tussen verlange en eensaamheid en doodgewone verwysings na vriende, nikotien, motors, sop en Afrikaanse kultuur.

Volgens Kerk Straat is dit juis dié alledaagsheid wat die lied so toeganklik maak.

“Dit bring die song terug aarde toe. Terselfdertyd bind dit mense saam, want die beelde is so universeel dat amper enigiemand met die lirieke kan vereenselwig.”

Die verwysing na Koos Kombuis het ook ’n besondere plek in hulle harte. Die groep beskryf hulself as nostalgiese mense wat graag iets van vroeër in hulle eie musiek en stories behou.

“Ons is groot fans van Koos. Die feit dat hy in die song genoem word, het amper gevoel soos ’n bewys dat hierdie lied vir ons bedoel is. Karen skryf ook oor Potchefstroom — ons dorp — en dit het net weer daardie bevestiging gegee.”

Wanneer ’n mens egter ’n bekende Afrikaanse lied aanpak, is daar altyd die uitdaging om iets nuuts daarmee te doen sonder om te verloor wat mense in die eerste plek liefgehad het. Kerk Straat is deeglik bewus daarvan.

“Afrikaanse luisteraars is eintlik nogal puriste, so dit is ’n baie fyn lyn. Vir ons was die eenvoud van die oorspronklike weergawe ’n uitnodiging. Dit het vir ons ’n raamwerk gegee waarbinne ons meer van ons eie styl kon insit.”

Die groep het die oorspronklike sleutel effens verlaag sodat dit beter by die vokale pas, nuwe instrumentale elemente bygevoeg en die lied uiteindelik behoorlik “uitgerock”.

“Hoe dit nou klink, is presies hoe ons dit sou speel as ons die lied net een keer gehoor het en daarna self moes probeer speel.”

Die musiek is deur die emosie van die lirieke gelei. Waar die verteller stil word en alleen wag, en later weer alleen agterbly, het elke lid daardie eensaamheid op sy eie manier benader. Die doel was nie om die luisteraar te vertel presies wat om te voel nie, maar om ’n musikale wêreld te skep waarin meer mense hulself kan herken.

Sekere lirieke tref die bandlede ook persoonlik. Vir Christo staan die eenvoudige maar ontblotende woorde “Ek huil gewoonlik as ek baklei” uit.

Vir Jason is dit “Toe word ek stil en wag alleen.”

“Sometimes you will be fighting your own inner thoughts, and it can be scary, but sometimes all you need is the right person to come along,” verduidelik Jason. Hy vertel ook dat woorde van aanmoediging van ’n geliefde dikwels jare later nog by hom bly — iets wat die reël oor iemand se woorde wat aan jou “klou” besonder persoonlik maak.

Die oomblik waarop Kerk Straat geweet het die verwerking het uiteindelik werklik húlle “Engel” geword, het eers ná die opname gekom.

“Die dag nadat ons alles in die studio opgeneem het, het ek die song op ons groep gestuur. Vir die eerste keer kon ons almal ’n tree terugstaan, daarna luister en regtig besef dat ons ons stempel daarop gesit het.”

En sou hulle ooit die kans kry om Karen Zoid self iets oor die lied te vra?

Hulle eerste antwoord kom met ’n glimlag: “Of sy nie ’n nuwe weergawe saam met ons wil release nie — ’n collab!”

Maar daaragter lê opregte bewondering vir die oorspronklike kunstenaar en haar skryfwerk.

“Op ’n dieper noot sou ons graag meer wou weet oor haar inspirasie en kreatiewe proses. Die oorspronklike weergawe is baie toned down en gestroop, en dit vat baie braafheid en sekerheid om ’n lied só aan te bied.”

Met hulle weergawe van “Engel” probeer Kerk Straat dus nie om ’n geliefde klassieke Afrikaanse lied te vervang nie. Hulle bied eerder ’n nuwe manier om dit te beleef — harder waar dit harder kan wees, groter waar die emosie daarvoor vra, maar steeds getrou aan die kwesbaarheid wat die oorspronklike so besonders gemaak het.

Wanneer die laaste “roep ek jou naam” uiteindelik wegsterf, het die groep net een eenvoudige wens vir die luisteraar:

“Ons hoop hulle wil die song sommer dadelik nog ’n keer luister — en dat hulle hierdie nuwe interpretasie van ’n ou treffer geniet.”

“Engel” deur Kerk Straat is ’n nostalgiese ontmoeting tussen ’n geliefde Afrikaanse lied en die klank van ’n band wat nie bang is om hul eie hart daarop te sit nie.

Volg vir Kerk Straat op:

PUBLISITEIT & BEMARKING :
Vonk Musiek
Ashley Du Toit
Sel: 083 963 3055
E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

PLATEMAATSKAPPY :
Vonk Musiek
Francois Roux
Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
E-pos : francois@vonkmusiek.co.za

Optredes

  • KleinGroenBlohm
  • Noord Tot Suid
  • Uiteindelik