’n Speelse mengsel van seekos, sonsondergange, stout woordspel en daardie onmiskenbare Weskus-gees
Met snoek op die kole, mossels vir die mense van Gauteng, ’n glasie in die hand en ’n sonsondergang oor die kaai, nooi Louis van Lill luisteraars om nader te staan en deel te word van ’n behoorlike Weskus-kuier in sy nuwe liedjie, “Platter for 2”.
Die liedjie is ’n lekker loslit mengsel van ’n liefdeslied, braailied en kuieranthem – propvol humor, flirtasie en die geure en karakters van die Weskus. Van calamari en perlemoen tot Stellenbosch-wyn, dromme, baskitaar en ’n 2-step: “Platter for 2” voel soos ’n somersaand wat stadigaan in ’n jol verander.
Hoewel die liedjie nou sy plek in Louis se musiek vind, het die idee daarvoor reeds jare gelede ontstaan toe hy deel was van die groep Dans Frikkie Dans.
“Dit was ’n song wat ek geskryf het toe ek in Dans Frikkie Dans gespeel het, maar ons het dit nooit gespeel nie. Die band het opgebreek voor ek dit vir die members kon pitch. En elke restaurant het mos ’n platter for 2,” vertel Louis met ’n lag.
Die Weskus is veel meer as net die agtergrond vir die liedjie. Dit vorm die hart daarvan – iets wat gereeld ook in Louis se skryfwerk na vore kom.
“Die Weskus is die kern van baie van my songs. Die Weskus is die beskus. Die mense is net anders, die dorpies is uniek en daar is soveel stories en geskiedenis. Daar is baie karakters en natuurlik lekker seekos. Kom kuier hier by ons, dan sal jy dit verstaan.”
Daardie uitnodiging loop soos ’n draad deur “Platter for 2”. Wanneer Louis sing “Jy sal maar saam moet kom braai”, praat hy nie net met een persoon nie.
Almal is welkom.
Volgens hom gaan die Weskus oor die mense, hul stories, vriendelikheid, gees en gasvryheid – en hul vermoë om van ’n eenvoudige saamkuier iets besonders te maak.
“Die Weskus-mense hou van entertain. Dis hulle stories, hulle vriendelikheid en hulle gees. Gasvryheid is ’n Suid-Afrikaanse ding, maar hier aan die Weskus ervaar jy dit op ’n baie spesiale manier.”
’n Bietjie kos, ’n bietjie flirt en baie Weskus
Met lirieke soos “squeeze my suurlemoen, eet my soos perlemoen” en later “squeeze my waatlemoen, ek gaan jou nog oopbek soen”, steek Louis nie die speelse aard van die liedjie weg nie.
Inteendeel – dit was van die begin af deel van die plan.
“Dis bietjie stout, maar dit pas by die tema,” sê hy. “Dit is geskryf met die doel om ’n bietjie flirtatious te wees. Die woorde het net lekker gepas.”
Selfs die mengsel van Afrikaans en Engels – met frases soos “Whatever floats your boat”, “grilled or fried” en “hot or mild” – is ’n natuurlike verlenging van die wêreld waarin die liedjie afspeel.
“Dis maar hoe ons deesdae praat, met die mengels. Van die goed wou ek juis Engels hou, want dit is hoe ’n mens dit sê en dit val lekker op die tong.”
En as “Platter for 2” werklik op ’n tafel voor Louis neergesit moes word?
Dan moet daar beslis kreef, roommossels, ’n lekker stukkie vars vis, calamari, prawns en – as jy gelukkig genoeg is – perlemoen op wees.
Maar die kos is net die begin.
Sonsondergange waar herinneringe gemaak word
Tussen al die humor en stoutigheid skuil daar ook ’n sterk romantiese element in die liedjie. Die beeld van ’n sonsondergang op die kaai roep vir Louis nie net een spesifieke plek op nie, maar ’n hele reeks Weskus-dorpies en herinneringe.
Paternoster, Langebaan en Velddrif is van die plekke waar daardie gevoel vir hom leef.
“Oorals langs die Weskus kry jy die mooiste sunsets teen die kaai. Dit skep daardie vakansiegevoel waar mense saam kuier, couples verlief raak en memories gemaak word.”
Dit is juis dié vermoë van die Weskus om herinneringe te skep wat Louis graag met die liedjie wou vasvang. Hy glo ’n mens hoef nie noodwendig self van die Weskus af te kom om iets van jou eie in die lirieke raak te hoor nie.
“Ek glo almal sal ’n memory of ’n beeld uit die song kan saamneem.”
Van die braai tot op die dansvloer
Teen die einde van “Platter for 2” word die kuier al hoe groter. Die stokkies kom uit, die dromme word geslaan en die baskitaar word nader geroep:
“Hansie gryp jou lekker bass.”
Hansie is nie ’n denkbeeldige karakter nie. Die verwysing is na Hannes Carstens, Louis se voormalige baskitaarspeler en vriend van Lambertsbaai, wat tans in Langebaan woon.
“Hy was ons bassist – ’n lekker ou en ’n baie snaakse vriend van ons.”
Die musiekinstrumente en band-verwysings is doelbewus deel van die liedjie gemaak om die gevoel van ’n lewendige kuier te versterk.
“Dit was met die doel geskryf om die band nader te trek en deel te maak van die lied.”
En wat van die geheimsinnige “klontjie” wat jou volgens die lirieke die 2-step gaan wys?
Louis hou die antwoord net so speels soos die res van die liedjie:
“Enige iemand kan die klontjie wees. Hang af hoe baie olie jy gevat het,” skerts hy.
Dit is daardie ongekunstelde humor wat “Platter for 2” sy karakter gee. Niks probeer te ernstig wees nie. Die liedjie wil jou laat glimlag, laat dans, aan goeie herinneringe laat terugdink – en verkieslik jou motor in die rigting van die Weskus laat draai.
“Dis ’n lekker feel-good song vir die somer en lekker stout, soos baie van ons Suid-Afrikaners is. Jy kan daarop dans, jy kan terugdink aan mooi memories en net die vibe vang.”
As Louis net één reaksie ná die eerste luister kon kies, is dit ook nie dat mense bloot honger of verlief moet wees nie.
Hy wil hê hulle moet Weskus toe wil kom.
“Hulle moet Weskus toe wil kom en tyd hier kom spandeer om self te sien hoe en wat.”
En wanneer dit by sy eie ideale “platter for 2” kom, is daar net een persoon met wie hy dit wil deel: sy vrou.
“Sy eet maar min, so ek score,” lag hy. “Ons sal ’n biertjie en rekorderlig skink.”
Uiteindelik som dit ook die hart van “Platter for 2” op: dit gaan nie net oor wat op die bord of in die glas is nie. Dit gaan oor die mense rondom die tafel.
Wanneer Louis van Lill dus sing “Jy sal maar saam moet kom braai”, kan luisteraars die uitnodiging maar ernstig opneem.
“Verwag goeie tye, baie lag, samesyn, goeie geselskap en natuurlik superlekker kos wat met liefde en baie moeite gemaak word.”
“Platter for 2” is Louis van Lill se uitnodiging om nader te staan, jou skoene losser te maak en vir ’n rukkie die Weskus-lewe saam met hom te proe – sout in die lug, sonsondergang op die kaai en al.













