Nov 28, 2025

Stephan Visagie Stel Nuwe Enkelsnit “Die Nag” Vry – ’N Eerlike Reis Na Stilte En Selfrefleksie

Met sy kenmerkende diepte en eerlikheid, keer Stephan Visagie terug met ’n splinternuwe enkelsnit, getiteld “Die Nag” – ’n lied wat nie net sy luisteraars betower met poëtiese lirieke nie, maar ook die donkerte vier as ’n ruimte vir vrede, introspeksie en genesing.

“Party mense hou nie van die nag nie,” vertel Stephan. “Vir my is dit wanneer als stil word en ek perspektief kry. Die nag is geduldig, die nag luister. Die nag is vir my soos ’n vriend.”

“Die Nag” is ’n eerlike en intieme blik in Stephan se kreatiewe wêreld – ’n plek waar stilte praat en emosies hul eie taal vind.
In die lied besing hy hoe die nag as vertroueling dien; ’n simboliese ruimte waar geheime gedeel word en harte leeggemaak kan word sonder oordeel.

“Die nag oordeel nie,” sê Stephan. “Jy kan vir die nag se stilte enigiets sê. Dis amper soos die Katolieke se confessional – jy praat, bely, maak jou hart skoon en beweeg aan.”

Die lirieke “Dis net die donker wat verstaan” vang presies daardie gevoel van eerlike selfrefleksie vas – ’n plek waar mens jou eie stem weer hoor.

Hoewel Stephan verkies om nie in detail oor die emosionele tydperk te praat wat die lied geïnspireer het nie, erken hy dat “Die Nag” oor tyd gevorm is.

“Ek het redelik lank aan die lied geskryf,” sê hy. “Die lirieke het gedurig verander. Ek dink ek het net ’n dankbare sug geslaak toe die woorde eindelik hul regte plek gekry het.”

Hierdie proses van skryf, wysigings en selfondersoek het gelei tot ’n lied wat eg en rou aanvoel – ’n refleksie van die kunstenaar se eie groei en spirituele reis.

Soos die lirieke self, het die klank van “Die Nag” met tyd gegroei en verander. Die produksie vang ’n fyn balans tussen intimiteit en krag vas – ’n klank wat die luisteraar nooi om in die stilte saam met Stephan te dwaal.
Die lied dra ’n gevoel van rustigheid, maar ook van eerlike konfrontasie met die self.

Stephan hoop dat luisteraars “Die Nag” sal ervaar as meer as net ’n lied – eerder as ’n uitnodiging tot introspeksie.

“Mense lees hul eie storie in musiek,” sê hy. “My hoop is net dat nog mense die nag ervaar soos ek – as ’n tyd van vrede, eerlikheid en perspektief.”

Stephan Visagie is bekend vir sy poëtiese skryfwerk en sielvolle vertolking van emosie deur musiek. Met elke vrystelling herinner hy sy gehoor dat egtheid steeds plek het in moderne musiek. “Die Nag” is nog ’n bewys van sy vermoë om die menslike ervaring eerlik en met dieper betekenis vas te vang.

“Ek is net dankbaar om nog steeds met iets oorspronkliks te kan uitkom,” sê Stephan. “Party keer voel dit jy dink in sirkels en daar sal nie weer iets nuuts by jou opkom nie. Ja, dankbaar.”

Volg vir Stephan Visagie op:

PUBLISITEIT & BEMARKING :
Vonk Musiek
Ashley Du Toit
Sel: 083 963 3055
E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

PLATEMAATSKAPPY :
Vonk Musiek
Francois Roux
Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
E-pos : francois@vonkmusiek.co.za