Des 5, 2025

Vrede Bring ’N Nuwe Enkelsnit “Huistoe”

Die alternatiewe Afrikaanse duo Vrede maak nóg ’n kragtige musikale merk met die vrystelling van hul nuutste enkelsnit, “Huistoe” – die titelsnit van hul opkomende debuut-vollengte album. Die lied is ’n diep, eerlike en spirituele verkenning van keuses, groei, en die onkeerbare reis waarop elke mens hulle bevind.

Volgens Storm het die inspirasie vir Huistoe gekom uit ’n plek van terugkyk – nie met spyt nie, maar met waardering.
Ek wou ’n song skryf wat jou laat terugdink aan jou keuses in jou lewe en hoe dit jou help vorm het tot wie jy vandag is,” verduidelik hy.
Die twee beklemtoon dat baie mense wonder hoe hul lewens sou lyk as hulle ander paadjies gekies het. Tog gaan Huistoe nie oor verlange na ’n ander uitkoms nie, maar oor die lesse wat elke besluit saambring.

Vir Vrede is die lied ’n simboliese herinnering dat elke persoon deel is van mekaar se reis.
Ons almal loop mekaar huistoe,” deel hulle. “Dit beteken dat ons mekaar ondersteun op hierdie aardse reis – ’n reis wat nie die finale bestemming is nie, maar deel van iets groter.”

Die herhalende vraag in die lirieke, “Sou ek iets verander?”, dien as ’n uitnodiging vir luisteraars om self-reflektief te wees oor hul eie keuses, ervarings en die wysheid wat hulle vir die volgende generasie kan nalaat.

Die boodskap is eenvoudig maar kragtig:
“Elke keuse wat jy maak is die regte keuse. Vir elke deur wat jy toemaak, word daar nóg een oopgesluit.”

Huistoe reflekteer nie net die duo se persoonlike groei nie, maar ook hul musikale rigting.
Dis ’n klank waarin ons baie gemaklik voel en graag meer van wil doen in die toekoms,” sê hulle.
Die energieke “doekoetaka”-drompatroon en die invloed van die wêreldbekende kunstenaar Sam Fender speel ’n sleutelrol in die lied se unieke atmosfeer.

Een van die mees uitstaande elemente van die snit is die saxofon-bydrae deur niemand minder as Hiram Koopman nie.
Dit is ’n massiewe voorreg om met so ’n legende te werk,” sê die band trots.

Die snit is opgeneem by Laughing Lamp Studios, onder die kundige leiding van Terius Human.

Wanneer gevra word hoe hulle hul musiek beskryf, antwoord Vrede eenvoudig:
“Hartsmusiek gemaak met die hand.”

Huistoe vorm die grondslag van hul debuutalbum en dui op ’n nuwe, verfynde klank waarmee Vrede hulself in die Afrikaanse musieklandskap vestig.

Benewens die enkelsnit beplan Vrede verskeie vertonings in Desember en Januarie, waar gehoorlede Huistoe vir die eerste keer lewendig kan ervaar. ’n Musiekvideo vir die lied is reeds in die beplanning, en ’n albumbekendstelling word beoog vir Mei 2026.

Huistoe sal vanaf 5 Desember op alle digitale platforms beskikbaar wees, insluitend Spotify, Apple Music, YouTube Music, Deezer en vele meer.

Op die vraag of hulle enigiets sou verander aan die pad wat hulle tot hier gebring het, antwoord die band:
Definitief nie. Ons het baie geleer uit ons keuses, maar ons is dankbaar vir elkeen daarvan.

Met Huistoe hoop Vrede om ’n gevoel van vrede, doel en aanvaarding agter te laat.
Ons reis is vooraf bepaal,” sê hulle. “Al voel dit soms of jou keuses die wêreld kan verander, is die waarheid dat jou pad reeds geteer is.

Volg vir Vrede op:

PUBLISITEIT & BEMARKING :
Vonk Musiek
Ashley Du Toit
Sel: 083 963 3055
E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

PLATEMAATSKAPPY :
Vonk Musiek
Francois Roux
Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
E-pos : francois@vonkmusiek.co.za