Daar is min dinge wat ’n Suid-Afrikaanse naweek so vinnig laat begin soos die reuk van kole, iets kouds in die hand, rugby op die televisie en mense wat rondom ’n vuur saamkuier. Dit is presies dié bekende wêreld wat WG Nel in sy nuwe enkelsnit, “Braai Brannas Rugby”, vasvang — ’n opgewekte, nostalgiese lied oor die eenvoudige dinge wat uiteindelik die meeste beteken.
Die lied is deur Eduard Pretorius geskryf en deur Tertius Human van Laughing Lamp vervaardig, en het WG van die eerste luister af verras.
“Toe Eddie vir my sê hy het ’n song, was ek nogal benoud,” vertel WG met ’n lag. “Maar toe hy dit speel, hoor ek dit is eg hý. Die ritme en lirieke het net vir my gesê: somersong!”
Wat WG veral in Pretorius se skryfwerk raakgehoor het, was die gevoel van plattelandse kameraadskap, gemeenskap en ’n terugblik na sorgvryer dae. Die lied skilder ’n toneel wat vir talle Suid-Afrikaners onmiddellik bekend sal voel: kinders wat rondhardloop, honde wat blaf, tannies wat lag, rugby op die televisie en vriende wat rondom die vuur saamkom.
Vir WG bring dié beelde herinneringe aan sy eie kinderdae terug.
“Dit vat my terug na Saterdae waar familie en vriende by my ouers kom kuier het,” vertel hy.
Selfs die verwysing na Kurt Darren se bekende treffer “Kaptein” dra volgens WG by tot die nostalgie van die lied. “Ek dink almal kan terugdink aan ’n braai en onthou hoe ‘Kaptein’ speel. Dit was seker een van die grootste treffers wat Kurt en Suid-Afrika nog die lug ingestuur het.”
Hoewel “Braai Brannas Rugby” op die oppervlak pure lekkerkry is, lê daar ook ’n eenvoudige waarheid onder die humor en geesdrif: ’n goeie lewe word nie noodwendig gemeet aan hoeveel jy besit nie, maar aan die mense met wie jy dit kan deel.
Die woorde “Nie ryk nie, maar ons het genoeg” is vir WG veral relevant in ’n wêreld waarin mense voortdurend na die volgende teken van sukses jaag.
“Die gejaag na sukses en geld los ’n mens maklik op ’n plek waar jy jouself vra waarvoor jy dit nou eintlik doen,” verduidelik hy. “Die wêreld kan jou vinnig weer aarde toe bring as jou kop begin swel.”
Daarom staan die gedagte dat dit nie gaan oor wat jy het nie, maar oor wie langs jou sit, vir hom sentraal tot die lied.
“Ek het ’n diep liefde vir mense, en veral vir my familie en vriende. Alle sukses beteken net iets as jy mense het met wie jy dit kan deel.”
WG se ideale braaivuur hoef ook nie met ’n spesifieke gastelys te kom nie. Vir hom gaan dit eerder oor die mense wat op daardie stadium iets positiefs tot sy lewe bydra.
Daardie ongekunstelde benadering loop deur die hele lied. Waar ander dalk na die perfekte tafel, duurste vleis of indrukwekkendste onthaal mik, verkies WG iets baie eenvoudiger.
“Gemak is belangriker as ‘fancy’. Mense moet hulself kan wees.”
Die lied erken egter ook die werklikheid wat dikwels saam met die lekker kuier rondom ’n vuur kom. Tussen die grappies, rugby en musiek word daar ook oor werk en geld gepraat — die soort gesprekke wat deel is van die alledaagse lewe.
“Ons leef in ’n vrek duur tyd,” sê WG. “Om die vuur is gewoonlik waar manne so ietwat dieper raak en ook weer dankbaar raak vir wat ’n mens het.”
En wanneer daar rugby op die televisie is, is WG beslis nie altyd net ’n stil toeskouer nie. Die karakter Oom Frik, wat luidkeels sy mening oor die skeidsregter gee, lê soms ongemaklik naby aan die waarheid.
“As ek diep genoeg in ’n wedstryd inleef, raak ek Oom Frik!” lag hy.
Van die drie bestanddele in die lied se titel — braai, brannas en rugby — is daar egter een waarsonder WG die moeilikste sal klaarkom.
“Vrek… as ek móés kies, sal dit braai wees!”
Vir hom dra die beeld van “vriende, vuur en vlae wat waai” ook iets groter as net ’n gewone Saterdagkuier. Hy sien onmiddellik die energie van ’n groot rugbystryd voor hom — mense wat saamstaan, saam sing, saam skree en vir ’n paar uur hul verskille vergeet.
Dit is juis waarom WG nie “Braai Brannas Rugby” net as ’n partytjielied beskou nie. Dit is terselfdertyd ’n nostalgiese terugblik én ’n lied oor mense en saamwees.
“Sommer al drie,” sê hy. “Die luisteraar kan daarvan maak wat hy wil — ek sal hom as al drie kan luister.”
Met sy gemaklike ritme en herkenbare lirieke probeer die enkelsnit ook nie om Suid-Afrikaanse kultuur of humor kunsmatig groter te maak as wat dit is nie. WG meen die uitvoering het juis natuurlik gekom omdat die wêreld van die lied vir hom so bekend voel.
“Ek het nie te veel daaroor gedink nie. Dit is ’n lekker song wat redelik natuurlik gekom het.”
En dalk is dit presies waarom “Braai Brannas Rugby” so maklik tuis voel: dit gaan nie oor ’n perfekte Suid-Afrikaanse lewe nie. Dit gaan oor die een wat ons ken — waar geld soms min is, die ref soms verkeerd is, die wors op die vuur lê, die musiek speel en die regte mense langs jou sit.
Dit is ’n herinnering dat ’n mens soms nie veel nodig het om weer te besef hoe goed die lewe kan wees nie.
Net ’n vuur. ’n Bietjie tyd. En mense met wie jy dit kan deel.














