Apr 3, 2026

Zoé Skryf Lied Vir Pretoria Se Geliefde Uitkykpunt Met Nuwe Enkelsnit “Pikkewynstraat”

Die Afrikaanse sangeres en liedjieskrywer Zoé stel vandag haar nuwe enkelsnit “Pikkewynstraat” bekend– ’n diep persoonlike lied geïnspireer deur Pretoria se gewilde romantiese uitkykpunt, Date View, op Pikkewynstraat.

Dié spesiale plek, waar Zoé se goeie vriend haar gereeld op sy motorfiets geneem het, vorm die hart van die lied. “Pikkewynstraat” is geskryf as ’n reaksie toe hierdie vriend na Bloemfontein verhuis het, en handel oor liefde, vriendskap, herinneringe en die pyn van afskeid.

Na die groot sukses van haar vorige treffer “Insecure Meisies”, wat reeds meer as 2 miljoen strome op digitale platforms behaal het en tot #2 op die Maroela Media Afrikaanse Top-20 geklim het, bevestig Zoé met hierdie vrystelling weer haar posisie as een van die mees opwindendste jong stemme in Afrikaanse musiek.

Met “Pikkewynstraat” beweeg sy na ’n meer introspektiewe ruimte. Die lied begin met die treffende openingsreël: “Hy sê ek is soet soos ’n wit wyn sonder die volgende oggend se kop pyn” – die heel eerste reel wat sy geskryf het, en een wat die sagte, eerlike emosie van die hele song vasgevang het.

Pikkewynstraat is in die lied sowel ’n werklike plek as ’n emosionele ruimte: een van die min plekke in Pretoria waar Zoé ’n diep gevoel van kalmte ervaar het. Deur beelde van laatnag-ritte op die motorfiets en die flikkerende stadsliggies skep sy ’n visuele storie wat soos ’n film in die luisteraar se verbeelding afspeel.

Die lied vertel van ’n verhouding wat van vriendskap na iets diepers ontwikkel het. “Ek het eers agtergekom hoe ek regtig voel nadat die song klaar was,” erken Zoé. Rou eerlike lirieke soos “Ek’s dom kyk na hom as net ’n maat” en die herhalende motief “al deur soveel saam as die mure kon praat” beklemtoon die geskiedenis en diepte van die band wat nou voor ’n groot verandering te staan kom.

Bloemfontein bring die sentrale emosie van verlange en afskeid na vore. “Om iemand te moet groet wat deel was van jou daaglikse lewe, verander alles – jou roetine, jou wêreld,” sê sy.

Die refrein se pleidooi “beloof jy sal terug dink aan my” vang die kern vas: hoe tydelik dinge kan wees, maar ook hoe kosbaar sekere mense bly. Tog bly daar ’n fyn balans tussen hartseer en hoop. “Dit het my geleer om mense te waardeer terwyl hulle nog daar is – party vergeet jy nooit nie.”

Met “Pikkewynstraat” hoop Zoé dat luisteraars ’n oomblik sal stil word en besef hoe kosbaar hul naastes is. “Die lewe het seisoene – en jy word nie gewaarborg dat sekere mense vir altyd by jou sal bly nie.”

Vir die persoon wat die lied geïnspireer het, is haar boodskap eenvoudig en opreg:

“Ek mis jou… en jy moet terug trek.”

Volg vir Zoé op:

PUBLISITEIT & BEMARKING :
Vonk Musiek
Ashley Du Toit
Sel: 083 963 3055
E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

PLATEMAATSKAPPY :
Vonk Musiek
Francois Roux
Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
E-pos : francois@vonkmusiek.co.za