Sonder Onderbroeke Vra Die Moeilike Vrae In Nuwe Enkelsnit, “Sê My Hoe?”

Wat gebeur wanneer jy besef jy probeer om ’n beter mens te wees, maar steeds in dieselfde patrone vasval? Wanneer jy na jou lewe kyk en jouself moet afvra: Is dit regtig wie ek wil wees?
Dit is die ongemaklike, eerlike ruimte waarin Sonder Onderbroeke hul nuwe enkelsnit, “Sê My Hoe?”, laat leef — ’n introspektiewe lied oor identiteit, selfverbetering, skuld en die voortdurende stryd om vrede te maak met die mens wat jy besig is om te word.
Die lied is gesamentlik deur al drie lede van Sonder Onderbroeke geskryf en gekomponeer. Braam was hoofsaaklik verantwoordelik vir die lirieke, terwyl Adriaan en Henro die grootste aandeel in die komposisie gehad het.
“Sê My Hoe?” is reeds byna ’n jaar gelede geskryf en het ontstaan uit ’n gevoel waarmee die groep glo baie mense kan identifiseer: daardie frustrerende plek waar jy voel jy was al voorheen, jy jou bes probeer, maar tog nie noodwendig voel asof jy vorentoe beweeg nie.
Volgens die groep kom die lied nie uit een enkele gebeurtenis of spesifieke verhouding nie, maar eerder uit ’n tydperk van stagnering wat introspeksie afdwing.
“Dit kom uit ’n plek en ’n gevoel van: ‘Ek was al hier, dit voel nie of ek iewers kom nie, maar tog voel dit of ek my bes probeer.’”
Hoewel die lirieke persoonlike elemente bevat, is die emosies doelbewus universeel. Reeds vroeg in die lied word die luisteraar gekonfronteer met die erkenning: “Vergewe my, want ek leer nie uit my foute nie.”
Vir Sonder Onderbroeke lê die krag van dié woorde in die oomblik wanneer ’n mens ophou om verskonings vir jouself te maak.
“Jy weet jy is waar jy is as gevolg van jou eie keuses, jy weet jy het al voorheen dieselfde foute gemaak, en tog gebeur dit weer. Daar is skuld daarin, maar ook frustrasie met jouself. Jy wil beter wees, maar wilskrag alleen maak jou nie noodwendig ’n beter mens nie.”
Dit is juis hierdie teenstrydigheid — die begeerte om te verander teenoor die werklikheid dat verandering dikwels moeiliker is as wat ’n mens wil erken — wat die hart van die lied vorm.
“Mense hou daarvan om te sê: ‘Mense verander nie,’ maar ons is self skuldig daaraan. Ons wil almal beter wees as wat ons is. Die vraag is of ons wel daarin slaag.”
Die treffende reël “My skuld raak duur” verwys na die prys van herhaalde keuses. Volgens die groep raak die gevolge van dieselfde foute mettertyd al groter — emosioneel, binne verhoudings en selfs in die manier waarop ’n mens na jouself begin kyk.
“Jou skuld raak al hoe ‘duurder’ om te dra.”
Ook die woorde “Ek het al vergeet hoe om my sonde te bely” gaan vir die groep minder oor godsdiens as oor die gevaar daarvan om so gewoond te raak aan jou leefstyl en foute dat jy ophou om dit eerlik te ondersoek.
“In ’n besige lewe is dit maklik om verskonings te vind om die moeilike vrae wat jy jouself moet vra, te vermy.”
Hoewel die lied geloofstaal soos sonde en die hemel gebruik, verduidelik die groep dat “Sê My Hoe?” in wese oor ’n mens se stryd met jouself handel.
Die reël “Altyd gedink ek sal jou by die hemel kry” verwys na die beeld wat ’n mens dikwels van jou toekomstige self het — daardie persoon wat jy eendag wou wees wanneer jy “groot” is. Die “hemel” word dus amper ’n aardse bestemming: die plek waar jy uiteindelik die weergawe van jouself bereik waarna jy nog altyd gestreef het.
Maar wat as jy daar aankom en besef jy is steeds nie tevrede nie?
Dit is waar die lied se vrae al hoe skerper word:
“Is jy tevrede met jou lewe, doen jy waarvan jy hou?”
Vir Sonder Onderbroeke is dit nie bloot ’n liriese vraag nie, maar iets waarmee hulle self worstel.
“Dit is baie moeilik, ek dink veral vir ons as Afrikaners, om tyd te spandeer met ons emosies en regtig te sit en dink aan wie ons as mense is.”
Selfs die verwysing na die “eindproduk” word met ’n tikkie sarkasme gebruik. Daar is volgens die groep waarskynlik nooit ’n finale weergawe van ’n mens nie.
“Ek dink nie ons kom ooit regtig by die eindproduk uit nie. Ons moet altyd probeer verbeter.”
Daarom dra die vraag “Is dit wie jy regtig wil wees?” soveel gewig.
Dit gaan nie oor hoeveel jy bereik het, hoe suksesvol jy lyk of hoe indrukwekkend jou lewe van buite af voorkom nie. Dit vra eerder of jy gemaklik is met die persoon wat agter al daardie prestasies oorbly.
“Jy kan baie dinge bereik en steeds nie van die persoon hou wat jy geword het nie. Dit dwing jou om eerlik met jouself te wees.”
Daardie gevoel van innerlike vervreemding word verder beklemtoon deur die kontras tussen die lied se twee wêrelde: om op ’n Sondagaand eerder alleen televisie te kyk as om vriende te sien, en later saam met vreemde mense tot laat in die aand te dans.
Vir Sonder Onderbroeke wys albei tonele eintlik dieselfde ding.
“Eensaamheid beteken nie altyd jy is alleen nie. Jy kan Sondagaand alleen voor die TV sit, maar jy kan ook in ’n vertrek vol mense staan en steeds alleen voel.”
Wanneer die vreemde mense dan met die verteller praat “asof hulle hom verstaan”, raak die lied ook aan die behoefte om êrens te behoort — selfs al is dit net vir ’n oomblik.
“Soms is dit genoeg dat iemand jou vir ’n oomblik laat voel asof jy behoort.”
Hoewel “Sê My Hoe?” temas van skuld, volwassenheid, selfaanvaarding en selfverbetering ondersoek, beskryf Sonder Onderbroeke dit uiteindelik as ’n lied oor identiteit.
Die kernvraag is nie bloot: Hoe word ek beter? nie.
Dit is: Wie is ek besig om te word — en is dit wie ek wil wees?
Die groep hoop die enkelsnit sal luisteraars aanmoedig om dieselfde ongemaklike vrae aan hulself te stel: Is ek gelukkig? Doen ek werklik waarvan ek hou? Is ek die persoon wat ek gedink het ek sou wees? En, indien nie, wat gaan ek daaraan doen?
Vir die groep word alles uiteindelik saamgevat in die reël wat vir hulle die meeste emosionele gewig dra:
“Sê my hoe ek myself moet verander, moet verbeter.”
“Dit is die moeilike deel. Daar is baie advies daar buite, baie opinies, maar of dit gaan werk, hang van jou af.”
Met “Sê My Hoe?” probeer Sonder Onderbroeke dus nie om die antwoord te gee nie. Hulle stel eerder die vraag wat baie mense probeer vermy — en laat elke luisteraar self besluit wat om met die antwoord te doen.

Neil Nachtrein Laat Herinneringe Voortleef Met “Asem In Die Strate”

Daar is sekere herinneringe wat nie verdwyn wanneer ’n mens ouer word nie. Hulle bly agter in die strate waar jy grootgeword het, in die plekke waar jy gespeel het en in die mense wat jou gehelp vorm het. Met sy nuwe enkelsnit, “Asem In Die Strate”, keer Neil Nachtrein terug na ’n tyd van kinderlike onskuld, eerste vriendskappe en die pynlike oomblik wanneer ’n jong mens besef dat die wêreld nie altyd dieselfde gaan bly nie.
Die lied is gegrond op ’n ware gebeurtenis uit Neil se skooljare. Een van sy goeie vriende se ma, wat ook ’n onderwyseres by hul skool was, het een oggend voor skool gaan fietsry en is tragies in ’n tref-en-trap-ongeluk oorlede.
“Ek onthou die kontras van een oggend nog sorgeloos kind wees en die volgende oggend moes hy grootmensbesluite maak,” vertel Neil.
Hoewel die gebeurtenis jare gelede plaasgevind het, het dit onverwags weer in sy kreatiewe wêreld na vore gekom.
“Ek kan nie help om te dink dat die kreatiewe realm tydloos is nie. Die lied is gebaseer op iets wat jare gelede in ons kinderjare gebeur het, wat nou om een of ander rede weer na vore gekom het.”
“Asem In Die Strate” begin met ’n terugblik na die somer waarin die karakters sestien geword het — ’n tyd wat eintlik gevul moes wees met vryheid, drome en sorgeloosheid. In plaas daarvan word dit die jaar waarin een van hulle se lewe in duie stort.
Teen hierdie agtergrond word die vriendskap tussen die twee seuns die emosionele hart van die lied. Dit is die tipe vriendskap waarin twee jongmense mekaar kies en glo dat hulle saam enigiets kan trotseer.
“Daar is darem geen gevoel soos daardie eerste ware vriendskap nie,” sê Neil. “Jy is nie my familie nie, maar jy kies my en ek kies jou, en dis ek en jy teen die wêreld.”
Die lirieke neem luisteraars deur ’n reeks helder herinneringe: gesteelde sigarette, ’n draad agter die busloods, die reuk van die koshuiskombuis, ’n treinbrug, sente op die spoor en strate wat meer lewenslesse geleer het as enige handboek.
Volgens Neil is dit juis hierdie klein besonderhede wat ’n luisteraar in die karakter se wêreld intrek.
“Dit is wat my aangryp wanneer ek na musiek luister — wanneer jy jouself in die karakter se skoene kan indink. Dit voel altyd asof dit die besonderhede is wat jou intrek en die emosie aanvuur.”
Die strate is daarom nie bloot die agtergrond van die verhaal nie. Dit word amper ’n karakter op sy eie — ’n plek waar kinders gespeel, geloop, geval en rondgehang het totdat die straatligte hulle huis toe gestuur het.
Plekke en die herinneringe wat daaraan vasgeheg word, speel reeds lank ’n belangrike rol in Neil se musiek. In 2019 het hy die album “Op Plekke Waar Ons Eens Was” bekendgestel, en met “Asem In Die Strate” keer hy weer terug na die ruimtes waar mense se stories en herinneringe agterbly.
Die reël “Nie een van ons kom lewend hier uit nie” dra ’n besondere gewig binne die lied. Dit is ’n harde waarheid wat geen kind behoort te verstaan nie, maar wat die karakters noodgedwonge veel te vroeg moet konfronteer.
“Dis die lewe,” verduidelik Neil. “Dis ’n onregverdige besef vir ’n kind, maar ons kan nie vir altyd kind bly nie.”
Die lied ondersoek ook hoe ’n mens dikwels eers later besef dat alledaagse oomblikke eintlik laaste kere was — die laaste keer wat vriende saam in die dam geswem het, die laaste fietsrit deur die strate, die laaste krieketwedstryd in die park en selfs die laaste groet.
“As kind is jy naïef en onskuldig. Jy dink die wêreld gaan vir altyd dieselfde bly. Wie sou kon weet dis die laaste keer?”
Die titel en refrein, “Vanaand bly jou asem in die strate hang”, vang die kern van die lied se emosie vas. Dit verwys na die manier waarop mense wat ons verloor nooit volkome uit ons lewens verdwyn nie. Hulle leef voort in herinneringe, in die mens wat ons geword het en in die plekke wat ons met hulle gedeel het.
“Wanneer jy iemand so naby aan jou soos ’n ouer verloor, dink ek nie daardie persoon gaan ooit volkome weg nie,” sê Neil. “Hy of sy bly deel van wie jy is en hoe jy gevorm is. Vir die karakter voel dit asof die persoon se herinnering steeds deel is van sy fisiese wêreld.”
Vir die verteller verteenwoordig die beeld ook die spore wat ’n mens as kind agterlaat — spore wat jare later steeds êrens in die strate bly lê.
Hoewel daar ’n duidelike hartseer deur die lied loop, is “Asem In Die Strate” nie net ’n lied oor verlies nie. Dit is hoofsaaklik ’n lied oor onthou, asook die verlies van onskuld wat dikwels deel is van grootword.
“Die blote herinnering aan kindwees bring die nostalgie, en die verlies bring sy eie hartseer,” verduidelik Neil. “Dit het vanself mooi saamgesmelt.”
Die produksie is doelbewus rondom die emosie van die storie gebou. Neil het die lied op akoestiese kitaar geskryf, waarna die verwerking verder ingekleur is met Hammond B3-orrel en elektriese kitaar.
“Ek bly maar lief vir die akoestiese kitaar, en dis waarmee ek skryf. Die kitaarparty het eerste gekom en dit het die storie ’n platform gegee.”
Die enkelsnit sluit tematies aan by van sy vorige liedjies, waaronder “1998” en “Altyd Jonk”. Volgens Neil kom die drie snitte uit dieselfde emosionele aar en kan dit amper as verskillende hoofstukke uit dieselfde tydperk beskou word.
Met “Asem In Die Strate” herinner Neil Nachtrein luisteraars daaraan dat ’n mens die verlede nie altyd onthou soos dit gevoel het toe dit gebeur het nie. Tyd verander die manier waarop ons na mense, plekke en oomblikke kyk, maar sommige herinneringe bly so lewendig dat dit voel asof hulle steeds rondom ons asemhaal.
Neil hoop die lied laat luisteraars terugdink aan hul eie grootwordjare, die mense wat langs hulle geloop het en die plekke wat hulle help vorm het.
Hy beskryf dit as: “’n Stukkie heimwee om alleen te geniet of met iemand te deel.”
En wanneer die laaste note verdwyn, bly die lied se aangrypendste beeld steeds agter:
“Vanaand bly jou asem in die strate hang.”

Fanus Pienaar Vind Sy Vrede In Die Bosveld Met “Daar Sal Jy My Kry”

Met die vrystelling van sy nuwe enkelsnit, “Daar Sal Jy My Kry”, nooi Fanus Pienaar luisteraars na die plek waar hy die meeste homself voel — tussen grondpaaie, kameeldoringbome, kampvure en die onvervangbare stilte van die Bosveld.
Die opgewekte, eg Suid-Afrikaanse lied vier avontuur, vriendskap en die eenvoudige vreugdes van die lewe, maar dra terselfdertyd ’n besonder persoonlike boodskap oor identiteit, behoort en nalatenskap. Vir Fanus is dit veel meer as net ’n lekker saamsinglied; dit is ’n liefdesbrief aan die plek wat sy lewe gevorm het.
“Die idee het eintlik uit my eie lewe ontstaan. Die Bosveld is al van kleins af deel van wie ek is. My oupa en my pa het my liefde vir die natuur en die Krugerwildtuin gekweek, en later het ek self op ’n wildsplaas en in Tzaneen gewoon. Ek wou ’n lied skryf wat nie net oor ’n plek gaan nie, maar oor die gevoel wat daardie wêreld vir my gee,” vertel hy.
Daardie liefde word duidelik weerspieël in die lied se lirieke, wat luisteraars dadelik na ’n bekende Bosveld-toneel vervoer: goeie vriende wat saam om ’n harde koolvuur kuier, ’n yskoue bier, koedoes tussen die bome, buffels in die lang gras en grondpaaie wat onder die Afrika-son uitstrek.
Volgens Fanus is dit juis in hierdie wêreld waar hy die gelukkigste en die meeste tuis voel.
“Daar is iets besonders daaraan om saam met goeie vriende om ’n kampvuur te sit, stories te vertel en net die eenvoud van die lewe te geniet. Dis die wêreld waarin ek myself altyd weer vind.”
Die Bosveld verteenwoordig vir hom egter nie net lekker kuier en avontuur nie. Dit is ook ’n plek van innerlike rus, waar die geraas van die alledaagse lewe stil word en hy weer perspektief kan kry.
“Wanneer ek in die Bosveld is, voel dit of die geraas van die wêreld stil raak. Dis waar ek weer asemhaal, perspektief kry en herinner word aan wat regtig belangrik is. Dis ook waar ek die grootheid van ons Skepper beleef.”
Fanus wou met die lied die besondere beelde en klanke vasvang wat die Bosveld vir hom definieer — die stof op ’n grondpad, die reuk van ’n vuur, die roep van ’n visarend en die diere wat deel vorm van hierdie unieke landskap. In sy persoonlike beskrywing van die lied vertel hy dat hierdie beelde nie bloot lirieke is nie, maar herinneringe en ervarings wat diep in sy eie lewe gewortel is.
Die koedoe en buffel dra ook elkeen ’n besondere simboliek.
“Vir my verteenwoordig die koedoe die stilte en vrede van die Bosveld — sag, nederig en amper onsigbaar tussen die doringbome. Die buffel simboliseer weer die krag, vasbyt en kameraadskap wat jy net in die Bosveld leer ken. Albei is anders, maar albei hoort onlosmaaklik daar. Dis presies soos die Bosveld self — tegelyk sag en sterk.”
Hoewel “Daar Sal Jy My Kry” ’n vrolike ritme en aansteeklike refrein het, lê daar ook ’n dieper emosionele laag onder die oppervlak. Die brug van die lied, waarin Fanus sing dat sy as eendag in die hart van die Bosveld gestrooi moet word, is vir hom die mees persoonlike gedeelte.
“Daardie gedeelte gaan nie oor die dood nie, maar oor hoe diep my liefde vir daardie wêreld is. Die Bosveld het so ’n groot deel van my lewe geword dat dit amper soos my tweede tuiste voel. As ek eendag moet rus, sal dit vir my ’n voorreg wees om simbolies deel van daardie plek te bly. My geliefdes weet ook dat dit een van my wense is.”
Hierdie sentiment word in die lirieke versterk deur die beeld van ’n laaste rusplek tussen kameeldoringbome in die hart van die Bosveld.
Fanus het doelbewus probeer om ’n balans te skep tussen die lied se opgewekte kuiergevoel en die stiller oomblikke van nadenke.
“Ek het die lied geskryf soos ek die Bosveld ervaar. Daar is ongelooflik baie pret, lag en kuier, maar daar is ook oomblikke van stilte waarin jy diep nadink. Ek dink die lied weerspieël daardie balans baie natuurlik.”
Die titel en herhalende woorde, “Daar sal jy my kry”, dien amper as ’n verklaring van wie Fanus werklik is. Dit vertel van ’n man wie se hart by die natuur, opregte vriendskappe en eenvoudige, betekenisvolle oomblikke lê.
“Hierdie lied is waarskynlik die eerlikste weerspieëling van wie ek as mens is. Ek hou van die eenvoudige dinge in die lewe, van die natuur, goeie mense en egte oomblikke. As jy wil weet wie Fanus Pienaar regtig is, begin by hierdie lied.”
Vir die perfekte luisterervaring stel Fanus ’n kampvuur saam met goeie vriende in die Bosveld voor — verkieslik in die Krugerwildtuin, van die Timbavati-omgewing tot by Olifantskamp. Tog glo hy dat die lied oral gehoor kan word waar mense die vryheid van die oop pad en goeie geselskap geniet.
Die visuele aard van die lirieke het ook ’n duidelike prentjie vir die musiekvideo geskep. Fanus sien groot Bosveld-landskappe, grondpaaie, wild, sonsondergange en mense wat saam om ’n kampvuur kuier. Die doel is om ’n egte, ongekunstelde visuele verhaal te vertel wat die warmte en emosie van die lied verder versterk.
Uiteindelik hoop Fanus dat “Daar Sal Jy My Kry” vir luisteraars meer as net ’n nuwe lied sal word.
“Ek wil hê dit moet ’n herinnering wees aan hul eie spesiale plek, hul eie mense en hul eie stories. As ’n hele gehoor saam die refrein sing en almal dink aan hul eie Bosveld-herinneringe, of as iemand dit kliphard op ’n grondpad luister en daardie gevoel van vrede beleef, dan het die lied presies gedoen waarvoor ek dit geskryf het.”
Met sy aansteeklike refrein, herkenbare Suid-Afrikaanse beelde en opregte emosionele kern, is “Daar Sal Jy My Kry” ’n viering van die Bosveld én van die plekke waar mense telkens weer hulself vind.

Tino Vang Liefde, Verlange En Die Mooi Van Die Kaap Vas In Nuwe Enkelsnit “Boland”

Met sy nuwe enkelsnit, “Boland”, neem Tino luisteraars op ’n nostalgiese reis deur wingerde, berge, jong liefde en die herinnering aan iemand wat lank nadat sy weg is, steeds in jou gedagtes bly leef.
“Boland” is ’n warm, romantiese liefdeslied waarin opregte emosie en ’n lekker saamsing-refrein moeiteloos bymekaarkom. Die lied vertel van ’n liefde wat deur afstand en tyd verander het, maar nooit heeltemal verdwyn het nie. Dit vra die eenvoudige, maar diep emosionele vraag: “Waar is jy?”
Die oorsprong van die lied strek terug na 2022, toe Tino nog in Stellenbosch gestudeer het. Wat as ’n eenvoudige kitaar-riffie in sy koshuiskamer begin het, het oor vier jaar saam met hom gegroei.
“Ek het nie daardie dag geweet wat die lied vier jaar later sou word nie,” vertel hy. “Dit is vir my nogal spesiaal om terug te kyk en te besef hoe ’n klein riffie in ’n koshuiskamer oor tyd gegroei het tot die lied wat mense vandag hoor. Die emosie agter die lied kom uit ’n regte plek – uit liefde, verlange en iemand wat vir ’n lang tyd in my gedagtes gebly het.”
Hoewel “Boland” as ’n liefdesverklaring begin, beskryf Tino dit hoofsaaklik as ’n verlange-lied wat uit ware liefde gebore is. Die lied is geïnspireer deur ’n meisie van die Boland vir wie hy baie lief was en oor wie hy deur die jare steeds gewonder het.
“Sy is een van daardie mense oor wie ek nog gewonder het: Waar is sy nou? Hoe gaan dit met haar? Is sy gelukkig? Wanneer ek sing: ‘Ek het jou lief met al my hart’, kom dit uit iets wat op ’n stadium baie werklik vir my was.”
Die Boland is nie bloot die agtergrond waarteen die verhaal afspeel nie, maar word amper ’n karakter op sy eie. Tino het in dié omgewing grootgeword en later in Stellenbosch gestudeer. Die berge, wynlande, lang paaie en Kaapse atmosfeer vorm daarom ’n belangrike deel van sy persoonlike verhaal.
“Die Boland is nie vir my net ’n mooi plek op ’n kaart nie. Dit is deel van my storie. Daar is iets van haar wat ek in die Boland sien, en iets van die Boland wat my aan haar herinner. Sy is vir my so mooi soos die Boland, en die Boland is vir my so mooi soos sy.”
Hierdie sterk visuele element kom duidelik na vore in lirieke soos: “Ek sien jou naam in my chardonnay” en “jou spore lê nog in my straat.” Volgens Tino gaan dié beelde oor
hoe iemand só diep in jou herinneringe kan voortleef dat jy hulle in die alledaagse dinge rondom jou begin raaksien.
“Dit is amper asof jy ’n glas wyn voor jou het, maar jou gedagtes is by iemand anders. Jy kyk daarna en skielik is daardie persoon weer daar. Dit is daardie soort verlange waar iemand fisies ver is, maar emosioneel steeds baie naby voel.”
Die herhalende vraag, “Waar is jy?”, spruit uit ’n baie persoonlike tyd in Tino se lewe. Terwyl hy in Johannesburg in die ateljee was, ver van die Kaap en die Boland, het die meisie voortdurend in sy gedagtes opgekom.
“Ek het heeltyd gewonder waar sy is, wat sy doen en of sy gelukkig is daar onder in die Kaap. ‘Waar is jy?’ is dus nie net ’n mooi liriek nie. Dit kom uit ’n regte vraag wat in my kop geleef het. Soms verloor jy kontak met iemand, maar jy verloor nie noodwendig die nuuskierigheid of die omgee nie.”
Ten spyte van die verlange en nostalgie dra “Boland” ook ’n onderliggende gevoel van hoop. Tino wou hê luisteraars moes die spanning ervaar tussen iemand mis en tog hoop dat julle paaie dalk weer eendag sal kruis.
“Dit is nie net hartseer nie. Daar is ook hoop. Iemand is dalk nie meer deel van jou daaglikse lewe nie, maar daar is steeds iets in jou wat wonder. Jy mis hulle, maar jy hoop ook hulle is gelukkig.”
Met lirieke soos “Vat my daar waar jou liefde dreun, waar Cupid ons skiet en ons word een” wou Tino ’n romantiese en amper filmiese gevoel skep. Vir hom is dit presies hoe die Boland voel.
“Die Boland voel vir my klaar soos ’n film – die berge, wingerde, sonsondergange, lang paaie en wynplase. Ek wou hê die liefde in die lied moet dieselfde groot gevoel hê. Wanneer ek oor liefde skryf, hou ek daarvan om beelde te gebruik wat mense kan sien én voel.”
Die lied se moderne karakter word verder versterk deur die natuurlike vermenging van Afrikaans en Engels in reëls soos: “Jy’s beautiful, jy’s ’n piece of art.” Volgens Tino was dit ’n eerlike weerspieëling van hoe hy en baie ander jong Suid-Afrikaners praat.
“Ek wou nie hê die lirieke moet geforseerd of té formeel klink nie. Dit moes klink soos iets wat ek regtig vir iemand sou sê. Dit is eenvoudig, eerlik en modern.”
Tino beskryf die liefde in “Boland” as jong liefde wat mettertyd in verlange verander het. Die lied leef volgens hom in die ruimte tussen dit wat was, dit wat kon wees en dit wat dalk nog moontlik is.
Die woorde “Ek wil jou weer ontmoet” dui daarom nie noodwendig op ’n begeerte om terug te keer na presies hoe dinge was nie, maar eerder op die behoefte om te ontdek wie daardie persoon vandag geword het.
“Ek dink die lied leef tussen afsluiting en ’n nuwe begin. Daar is nog vrae. Soms wil jy iemand nie noodwendig terughê soos dinge was nie – jy wil net weet wat sou gebeur as julle mekaar weer ontmoet.”
Hoewel die lied se verse persoonlik en beeldryk is, bly die refrein eenvoudig en universeel. Juis daarin lê “Boland” se sterk saamsing-element.
“Nie almal ken my storie of die meisie agter die lied nie, maar almal ken die gevoel van ‘Waar is jy?’ Almal het dalk iemand oor wie hulle al gewonder het. Die lied kan dus diep persoonlik vir my wees, maar steeds iets word wat ander mense saam kan sing.”
“Boland” wys ’n meer persoonlike en emosionele kant van Tino. Dit bring sy liefde vir die streek, sy studentedae in Stellenbosch, sy manier van skryf en sy eie lewenservarings saam in een verhaal.
“Ek wil hê mense moet leer dat daar baie meer emosie en storie agter my musiek is as wat hulle dalk op die oppervlak sien. Ek is iemand wat diep voel, baie onthou en mense en plekke lank saam met my dra. Ek hou daarvan om musiek te maak wat mense laat saamsing, maar ek wil ook eerlike stories vertel.”
Hy hoop veral dat mense wat self in die Boland woon, die lied as hulle eie sal aanneem.
“Ek hoop iemand ry deur Stellenbosch, Paarl, Worcester, Wellington of enige deel van die Boland en sit die lied harder. Ek wil hê hulle moet die plekke wat hulle ken in die musiek voel en hoor dat die lied met opregte liefde vir die streek geskryf is.”
Met sy warm klank, beeldryke lirieke en onvergeetlike refrein is “Boland” ’n ode aan jong liefde, herinneringe wat nie verdwyn nie en plekke wat vir altyd deel van ’n mens se hart bly.
“Ek hoop mense voel iets warm wanneer hulle daarna luister, maar ook iets wat effens aan die hart trek. Ek hoop hulle dink aan daardie een persoon oor wie hulle nog soms wonder. En dalk kry hulle selfs lus om iemand te bel en te vra: ‘Hoe gaan dit regtig met jou?’”

Brandon Miles Se “Soentjies” Vang Die Stout, Speelse Kant Van Moderne Flirt Vas

’n Bekende kinder-sêding, WhatsApp-waagmoed, vonke op die dansvloer en ’n tikkie stoutigheid vorm die hart van Brandon Miles se nuwe lied, “Soentjies”.
Met “Soentjies” wys Brandon Miles ’n ligter, speelser kant van homself. Die lied neem die bekende sêding “tong uitsteek is soentjies vra” en gee dit ’n moderne draai waarin flirt, WhatsApp-boodskappe en daardie ongemaklike maar opwindende oomblikke tussen twee mense die storie vorentoe dra.
Die idee vir die lied het juis ontstaan uit die kontras tussen hoe onskuldig dié sêding as kind klink en hoeveel meer betekenis dit kan kry wanneer ’n mens ouer word.
Vir Brandon lê die lekkerte daarin dat iets so bekend op ’n nuwe manier gebruik kan word. Die frase is onskuldig genoeg om nostalgies te voel, maar terselfdertyd flirterig genoeg om perfek by die wêreld van “Soentjies” te pas.
En wanneer hy gevra word of die WhatsApp-flirt in die lied dalk deur persoonlike ervaring geïnspireer is, is sy antwoord eenvoudig — en met ’n lag: “No comment.”
Dit is juis daardie herkenbaarheid wat Brandon met die lied wou vasvang. Die storie speel met iemand wat agter haar foon vol selfvertroue is, terg en flirt, maar van aangesig tot aangesig skielik nie meer heeltemal weet wat om te doen nie.
“Ek wil hê hulle moet relate,” sê Brandon. Vir hom is dit ’n situasie wat baie mense sal herken: iemand kan oor die foon baie braaf wees, maar in persoon is die storie skielik heeltemal anders.
Die lied se wêreld begin met die soort oomblik waar baie flirtstories begin — ’n kyk, ’n oogknip, die dansvloer of selfs ’n kuier om ’n braai. Van daar af ontwikkel die storie na nommers uitruil, boodskappe stuur en die tergery wat al hoe meer laat wonder of daar dalk iets ernstiger agter die grappies skuil.
Brandon wou van die begin af hê dat “Soentjies” nie net ’n storie vertel nie, maar ook mense laat beweeg.
“Ek wil hê mense moet kan dans. Ek wil hê die flirtiness moet hulle kan inspireer om mekaar te vat vir ’n dans.”
Die balans tussen stout en onskuldig was egter net so belangrik. Toe die lied geskryf is, wou Brandon seker maak dat dit steeds lig en vriendelik genoeg bly dat verskillende generasies dit kan geniet. Die pret moes nooit die hart van die lied oorskadu nie.
Dit is ook waarom die kontras tussen aanlyn selfvertroue en persoonlike skaamte so sterk deur die storie loop. Brandon meen mense sê maklik dinge oor ’n foon wat hulle dalk nooit van aangesig tot aangesig sou sê nie. “Soentjies” steek daarmee die draak, maar hou terselfdertyd ’n spieël op vir ’n baie moderne manier van flirt.
Vir hom moet ’n lied ook ’n duidelike storie hê wat luisteraars in hul verbeelding kan volg.
“Ek dink enige lied moet ’n vaste storie kan vertel, sodat dit meer relatable is.”
Dit is presies wat “Soentjies” doen: ’n mens kan amper die dansvloer, die WhatsApp-boodskappe, die tergery en die ongemaklike eerste oomblikke saam sien afspeel.
En hoe dink Brandon gaan mense reageer wanneer hulle dit hoor?
“Hulle gaan lag, dink ek, en sê: ‘Jaaaa, daai was my vrou!’”
Wanneer hy die persoonlikheid van die lied moet opsom, probeer hy dit nie ingewikkeld maak nie.
“Net lekker Brandon Miles,” sê hy laggend.
Dit is ook een van die dinge wat “Soentjies” vir hom anders laat voel as van sy vorige musiek: “Hy laat selfs mý smile as ek hom sing.”
Die gedagte wat vir hom die storie die beste saamvat, is: “Never judge a book by its cover.” Iemand wat oor ’n boodskap skaam of braaf voorkom, is nie noodwendig dieselfde persoon wanneer julle uiteindelik voor mekaar staan nie.
En as jy wonder wanneer die perfekte tyd is om “Soentjies” hard te speel, het Brandon klaar die antwoord:
“Jy kan hom speel wanneer sy ogies maak of soentjies blaas.”
Onder al die tergery, glimlagte en flirt lê daar uiteindelik ’n eenvoudige boodskap: iets onskuldig kan ook ’n bietjie stout wees.
Aanhangers wat van hierdie ligter kant van Brandon Miles hou, kan boonop uitsien na meer daarvan. Op die vraag of daar nog musiek in dié speelse trant op pad is, is sy antwoord beslis:
“Definitely.”
En as “Soentjies” self een laaste WhatsApp-boodskap aan iemand spesiaal kon stuur?
“Moenie so bang wees nie — môre is nou hier.”
Met “Soentjies” bewys Brandon Miles dat flirt nie ingewikkeld hoef te wees nie. Soms begin ’n hele storie met ’n kyk, ’n boodskap, ’n dans — of bloot iemand wat tong uitsteek en kyk wat volgende gebeur.

Laai

Optredes

  • KleinGroenBlohm
  • Noord Tot Suid
  • Uiteindelik