Daar is sekere herinneringe wat nie verdwyn wanneer ’n mens ouer word nie. Hulle bly agter in die strate waar jy grootgeword het, in die plekke waar jy gespeel het en in die mense wat jou gehelp vorm het. Met sy nuwe enkelsnit, “Asem In Die Strate”, keer Neil Nachtrein terug na ’n tyd van kinderlike onskuld, eerste vriendskappe en die pynlike oomblik wanneer ’n jong mens besef dat die wêreld nie altyd dieselfde gaan bly nie.
Die lied is gegrond op ’n ware gebeurtenis uit Neil se skooljare. Een van sy goeie vriende se ma, wat ook ’n onderwyseres by hul skool was, het een oggend voor skool gaan fietsry en is tragies in ’n tref-en-trap-ongeluk oorlede.
“Ek onthou die kontras van een oggend nog sorgeloos kind wees en die volgende oggend moes hy grootmensbesluite maak,” vertel Neil.
Hoewel die gebeurtenis jare gelede plaasgevind het, het dit onverwags weer in sy kreatiewe wêreld na vore gekom.
“Ek kan nie help om te dink dat die kreatiewe realm tydloos is nie. Die lied is gebaseer op iets wat jare gelede in ons kinderjare gebeur het, wat nou om een of ander rede weer na vore gekom het.”
“Asem In Die Strate” begin met ’n terugblik na die somer waarin die karakters sestien geword het — ’n tyd wat eintlik gevul moes wees met vryheid, drome en sorgeloosheid. In plaas daarvan word dit die jaar waarin een van hulle se lewe in duie stort.
Teen hierdie agtergrond word die vriendskap tussen die twee seuns die emosionele hart van die lied. Dit is die tipe vriendskap waarin twee jongmense mekaar kies en glo dat hulle saam enigiets kan trotseer.
“Daar is darem geen gevoel soos daardie eerste ware vriendskap nie,” sê Neil. “Jy is nie my familie nie, maar jy kies my en ek kies jou, en dis ek en jy teen die wêreld.”
Die lirieke neem luisteraars deur ’n reeks helder herinneringe: gesteelde sigarette, ’n draad agter die busloods, die reuk van die koshuiskombuis, ’n treinbrug, sente op die spoor en strate wat meer lewenslesse geleer het as enige handboek.
Volgens Neil is dit juis hierdie klein besonderhede wat ’n luisteraar in die karakter se wêreld intrek.
“Dit is wat my aangryp wanneer ek na musiek luister — wanneer jy jouself in die karakter se skoene kan indink. Dit voel altyd asof dit die besonderhede is wat jou intrek en die emosie aanvuur.”
Die strate is daarom nie bloot die agtergrond van die verhaal nie. Dit word amper ’n karakter op sy eie — ’n plek waar kinders gespeel, geloop, geval en rondgehang het totdat die straatligte hulle huis toe gestuur het.
Plekke en die herinneringe wat daaraan vasgeheg word, speel reeds lank ’n belangrike rol in Neil se musiek. In 2019 het hy die album “Op Plekke Waar Ons Eens Was” bekendgestel, en met “Asem In Die Strate” keer hy weer terug na die ruimtes waar mense se stories en herinneringe agterbly.
Die reël “Nie een van ons kom lewend hier uit nie” dra ’n besondere gewig binne die lied. Dit is ’n harde waarheid wat geen kind behoort te verstaan nie, maar wat die karakters noodgedwonge veel te vroeg moet konfronteer.
“Dis die lewe,” verduidelik Neil. “Dis ’n onregverdige besef vir ’n kind, maar ons kan nie vir altyd kind bly nie.”
Die lied ondersoek ook hoe ’n mens dikwels eers later besef dat alledaagse oomblikke eintlik laaste kere was — die laaste keer wat vriende saam in die dam geswem het, die laaste fietsrit deur die strate, die laaste krieketwedstryd in die park en selfs die laaste groet.
“As kind is jy naïef en onskuldig. Jy dink die wêreld gaan vir altyd dieselfde bly. Wie sou kon weet dis die laaste keer?”
Die titel en refrein, “Vanaand bly jou asem in die strate hang”, vang die kern van die lied se emosie vas. Dit verwys na die manier waarop mense wat ons verloor nooit volkome uit ons lewens verdwyn nie. Hulle leef voort in herinneringe, in die mens wat ons geword het en in die plekke wat ons met hulle gedeel het.
“Wanneer jy iemand so naby aan jou soos ’n ouer verloor, dink ek nie daardie persoon gaan ooit volkome weg nie,” sê Neil. “Hy of sy bly deel van wie jy is en hoe jy gevorm is. Vir die karakter voel dit asof die persoon se herinnering steeds deel is van sy fisiese wêreld.”
Vir die verteller verteenwoordig die beeld ook die spore wat ’n mens as kind agterlaat — spore wat jare later steeds êrens in die strate bly lê.
Hoewel daar ’n duidelike hartseer deur die lied loop, is “Asem In Die Strate” nie net ’n lied oor verlies nie. Dit is hoofsaaklik ’n lied oor onthou, asook die verlies van onskuld wat dikwels deel is van grootword.
“Die blote herinnering aan kindwees bring die nostalgie, en die verlies bring sy eie hartseer,” verduidelik Neil. “Dit het vanself mooi saamgesmelt.”
Die produksie is doelbewus rondom die emosie van die storie gebou. Neil het die lied op akoestiese kitaar geskryf, waarna die verwerking verder ingekleur is met Hammond B3-orrel en elektriese kitaar.
“Ek bly maar lief vir die akoestiese kitaar, en dis waarmee ek skryf. Die kitaarparty het eerste gekom en dit het die storie ’n platform gegee.”
Die enkelsnit sluit tematies aan by van sy vorige liedjies, waaronder “1998” en “Altyd Jonk”. Volgens Neil kom die drie snitte uit dieselfde emosionele aar en kan dit amper as verskillende hoofstukke uit dieselfde tydperk beskou word.
Met “Asem In Die Strate” herinner Neil Nachtrein luisteraars daaraan dat ’n mens die verlede nie altyd onthou soos dit gevoel het toe dit gebeur het nie. Tyd verander die manier waarop ons na mense, plekke en oomblikke kyk, maar sommige herinneringe bly so lewendig dat dit voel asof hulle steeds rondom ons asemhaal.
Neil hoop die lied laat luisteraars terugdink aan hul eie grootwordjare, die mense wat langs hulle geloop het en die plekke wat hulle help vorm het.
Hy beskryf dit as: “’n Stukkie heimwee om alleen te geniet of met iemand te deel.”
En wanneer die laaste note verdwyn, bly die lied se aangrypendste beeld steeds agter:
“Vanaand bly jou asem in die strate hang.”
















