Leon Ferreira se nuwe enkelsnit, “Annekantoe”, is ’n opbouende herinnering dat ’n mens nie altyd jou omstandighede kan verander nie, maar wel die manier waarop jy daarna kyk.
Met sy nuwe enkelsnit, “Annekantoe”, nooi die sanger en liedjieskrywer Leon Ferreira luisteraars om die lewe vanuit ’n ander hoek te benader. Die lied dra ’n sterk boodskap van hoop, geloof en die doelbewuste keuse om selfs gedurende moeilike tye optimisties te bly.
Die idee vir die lied het ontstaan nadat Leon sowat sewe maande gelede kort, positiewe boodskappe op sosiale media begin deel het. Hierdie gereelde Maandagoggend-boodskappe, waarin hy mense aanmoedig om die lewe vanuit ’n nuwe perspektief te beskou, het later die inspirasie vir ’n eie temalied geword.
“Ek het gevoel die gereelde Maandagoggend-boodskap het ’n temalied nodig,” vertel hy.
Die unieke titel is afgelei van die alledaagse uitdrukking “ander kant toe” en weerspieël Leon se eie manier van praat. Tog dra die woord vir hom ’n baie dieper en persoonliker betekenis.
Nadat hy in 2025 ’n stryd teen kanker gevoer en gewen het, moes hy homself telkens herinner om sy fokus doelbewus te verskuif wanneer moedeloosheid begin oorneem het.
“Ek moes elke dag my perspektief skuif om gedurende ’n moeilike jaar in my lewe optimisties te bly. Elke keer wanneer ek begin moed verloor het, moes ek myself oortuig om annekantoe — positief — te dink.”
Hierdie ervaring vorm die emosionele hart van die lied. In die lirieke sing Leon dat wanneer ’n deur toeslaan, ’n ander een weer oopgaan, dat daar hoop is solank daar asem is en dat selfs die donkerste wolk ’n silwer rand aan die ander kant het.
Volgens hom is die betekenis van moeilike omstandighede nie altyd onmiddellik duidelik nie.
“Selfs in die moeilikste tye, wanneer dinge nie verloop soos ons dit beplan het nie, word ’n ander pad duidelik. Ongelukkig sien ons dit dikwels eers in retrospek.”
Een van die treffendste reëls in die lied lui: “Waar daar nog ’n bietjie asem is, is daar nog ’n bietjie hoop.” Dié woorde is geïnspireer deur ’n herinnering aan Leon se ouma, wat met gevorderde longkanker geleef het.
Hy onthou hoe sy, ten spyte van haar beperkte longfunksie en afhanklikheid van suurstof, steeds die masker sou afhaal en sê: “Voor die wind, my kind”, as jy vra hoe dit met haar gaan.
“Met ’n klein bietjie asem het sy hoop gepraat. Ek sal dit nooit vergeet nie.”
“Annekantoe” ondersoek ook die kontras tussen lig en donker. Vir Leon kan die een nie sonder die ander bestaan nie. Dit wat vir een persoon soos ’n teleurstelling voel, kan terselfdertyd vir iemand anders ’n seën wees. Daarom moedig hy mense aan om nie hul omstandighede te vinnig as bloot goed of sleg te beoordeel nie.
“Ons het nie altyd ’n idee wat ‘goed’ en ‘sleg’ regtig is nie. Sien alles as goed, of glo ten minste dat dit ten goede kan meewerk, en jou lewe verander.”
Die lied se boodskap is veral relevant in ’n wêreld waarin mense daagliks met finansiële druk, onsekerheid, konflik en verwarring gekonfronteer word. Leon glo dat positiewe denke juis nou meer waardevol as ooit is.
Hy beskryf die lied nie noodwendig as bemoediging nie, maar eerder as ’n vorm van aanmoediging — ’n oproep aan mense om aktief deel te neem aan hul eie lewe.
“Die lewe gebeur nie met jou nie; die lewe gebeur deur jou. Die bron van lewe is in jou. Leef dit uit soos ’n fontein wat nie omgee waarheen die water loop nie, want dit sal voed waar dit droog is.”
Die sentrale gedagte word duidelik in die koor vasgevang: ’n ander manier van kyk kan die lewe anders laat lyk, terwyl ’n ander manier van dink dieselfde situasie ’n nuwe betekenis kan gee.
Vir Leon speel perspektief ’n groot rol in sy persoonlike lewe én sy loopbaan. Hy glo dat mislukking nie ’n eindpunt of vyand is nie, maar bloot ’n aanduiding dat ’n ander benadering nodig is.
“Mislukking wys jou iets werk nie. Skakel dit uit en probeer iets anders totdat jy die resultaat kry waarna jy mik. Mislukking dui rigting aan.”
Die skryfproses vir “Annekantoe” het by die gevoel en kernboodskap begin, waarna die musiek en lirieke gelyktydig ontwikkel het. Leon beskryf dit as ’n intense proses waartydens hy met sy kitaar rondloop en die lied natuurlik vorm aanneem.
“Annekantoe” verteenwoordig volgens hom ’n nuwe hoofstuk in sy loopbaan, maar steeds ’n hoofstuk wat deel vorm van dieselfde groter verhaal.
Hy hoop dat die lied mense sal herinner dat daar altyd ’n ander koers uit ’n doodloopstraat is — mits hulle bereid is om verder as die onmiddellike probleem te kyk.
“Om vorentoe te kyk, is geloof. As jy jouself aan die ander kant van jou doodloopstraat-probleem kan sien, is daar verseker ’n pad daarheen.”
Die kernboodskap van die lied som hy eenvoudig op:
“Jy kan jou uitkyk oor die lewe verander as jy bereid is om jou uitkykpunt te verander.”
Leon wil uiteindelik hê luisteraars moet verstaan dat geluk nie iets is wat die lewe vanself aan ’n mens verskuldig is nie.
“Die lewe gaan nie uit sy pad gaan om jou gelukkig te maak of gelukkig te hou nie. Om gelukkig te wees, is ’n keuse — jou keuse, elke dag. Dít is vryheid.”
Met “Annekantoe” verander Leon Ferreira persoonlike swaarkry in ’n universele boodskap van hoop. Dit is ’n lied vir elkeen wat al voor ’n toe deur, ’n donker wolk of ’n doodloopstraat te staan gekom het — en ’n herinnering dat daar moontlik reeds ’n nuwe pad wag, net daar aan die annekant.
















