Die Afrikaanse rockgroep Millennium is terug met “Ry” — ’n rou, energieke punk-rock roadtrip anthem wat vryheid, vriendskap, lang paaie en die hartklop van rock & roll vasvang.
Met die begin beeld “plakkers op kitaare sonder snare” skets Millennium die begin van ’n band se droom: nie perfek nie, nie uitgewerk nie, maar vol passie. Dit is die storie van jong musikante wat dalk nog nie alles het nie, maar reeds weet dat musiek in hul bloed is. Die lied vang ook baie van Millennium se eie geskiedenis vas — vier manne, lang hare, groot drome en ’n pad vorentoe sonder om hulself in enige boks te sit.
“Ry” is geïnspireer deur regte toer-ervarings: duur verblyf, lang paaie, hitte, warm bier en die avonture wat kom saam met shows in dorpe soos Stellenbosch, Paarl, Wellington, Worcester, Robertson en Swellendam. Vir Millennium is hierdie plekke meer as net name in ’n liriek; dit is dorpe waar hulle al gespeel, gereis en herinneringe gemaak het.
Die refrein — eenvoudig, direk en aansteeklik: “Ry, ry, ry” — is geskryf om mense te laat voel asof hulle hul vensters wil afdraai, saam sing en vir ’n oomblik alles wat swaar is agterlaat. Volgens die band gaan dit oor aanhou beweeg, aanhou leef en die lewe vat soos dit kom.
Vir Millennium beteken rock & roll vandag steeds eerlikheid, energie en om sonder verskoning jouself te wees. “Ry” rebelleer teen die idee dat iemand anders vir jou moet sê hoe om te leef of wie om te wees. Dit is ’n verklaring van vryheid, identiteit en die begeerte om ’n merk te los — op die verhoog, op die pad en in die Suid-Afrikaanse musiektoneel.
Die kreatiewe proses het begin met ’n riff deur baskitaarspeler Morné Baard, waarna die lirieke deur hoofsanger Hendre Baard gevolg het, met Morné wat ook aan die koor help bou het. Die resultaat is ’n song met ’n sterk live gevoel, klassieke rock-elemente en ’n solo-afdeling waar die instrumente die emosie verder dra.
Millennium beskryf “Ry” as ’n lied vir die langpad — iets om saam met jou beste pelle te speel terwyl jy die lewe geniet. Dit is gelyktydig ’n partytjie-lied, ’n road song en ’n verklaring van wie die band is.
Na “Ry” kan aanhangers meer musiek van Millennium verwag wat steeds getrou bly aan hul identiteit: eerlike Afrikaanse rockmusiek, nuwe vibes en songs wat mense herinner dat jy enigiets kan doen solank jy jouself bly.















