Optredes

  • KleinGroenBlohm
  • Noord Tot Suid
  • Uiteindelik
Sep 11, 2026

Nicholis Louw Kry Die Dansvloer Aan Die Brand Met Nuwe Enkelsnit “Bokkie”

’n Persoonlike liefdeslied, ’n aansteeklike sokkie-ritme en daardie onmiskenbare Nicholis Louw-energie kom saam in ’n goedvoel-liedjie wat gemaak is om mense op hul voete te kry.

Nicholis Louw is terug met “Bokkie”, ’n opgewekte, speelse nuwe enkelsnit wat die hart van ’n Suid-Afrikaanse kuier vasvang – van ’n meelvloer waar die stof staan tot ’n strand waar vriende om die vuur saamkuier.

Maar agter die prettige ritme en dansvloer-energie skuil ’n baie persoonlike inspirasie.

“Bokkie” is deur Nicholis se vrou geïnspireer en vir haar geskryf. Sy is die vrou wat hy in gedagte het wanneer hy sing van sy “Bokkie” wat kan sokkie – en volgens hom is daar eenvoudig niemand wat by haar kom nie.

“My vrou inspireer so baie van my musiek, en ‘Bokkie’ is weer deur haar geïnspireer, vir haar en oor haar geskryf,” vertel Nicholis.

Die karakter in die liedjie is energiek, spontaan en gereed vir enige avontuur. Nicholis beskryf haar as “fun-loving, kinderlik en ready for action” – die soort mens wat nie lank hoef te wag voordat sy die dansvloer oorneem nie.

Dit is juis hierdie gevoel wat “Bokkie” sy besondere energie gee.

Met visuele beelde van goue lokkies, denim, glinsterende oë, ’n dansvloer en stof wat in die lug hang, plaas die liedjie die luisteraar reg in die middel van die kuier. Vir Nicholis was dit belangrik dat mense nie net die lied hoor nie, maar die toneel in hul verbeelding kan sien en hulself daarin kan plaas.

“Vir hierdie tipe liedjie is dit baie belangrik, omdat mens wil hê dat die luisteraar moet ‘deelneem’ en hulself in daardie posisie moet sien,” sê hy.

Selfs die liedjie se openingswoorde, “O, die vet weet”, dra iets van Nicholis self. Dit is ’n uitdrukking wat hy gereeld gebruik en hy wou van die begin af hê dat dit die eerste woorde van die lied moes wees.

“Dis ’n unieke liriek en dis iets wat ek gereeld sê. So dit maak dit outentiek aan my.”

En dan is daar natuurlik die sokkie.

Dans vorm van die begin af die hart van “Bokkie”. Nicholis het nog altyd ’n liefde vir prettige, opgewekte musiek gehad, en dié enkelsnit gee luisteraars min kans om stil te bly. Die storie beweeg moeiteloos tussen ’n dansbaan, ’n meelvloer en selfs die seesand – want vir Nicholis gaan die lied nie oor een spesifieke plek nie, maar eerder oor daardie bekende Suid-Afrikaanse gevoel van saamkuier.

“Enige plek – of dit nou ’n skuur met ’n meelvloer is, of ’n strand waar ’n klomp pelle om ’n vuur sit.”

Hoewel “Bokkie” waarskynlik talle mense gaan laat glo dat Nicholis self ’n kampioen op die dansvloer is, erken hy laggend dat dit nie heeltemal die geval is nie.

“Jong, so hinke-pinke. Ek is nie die wêreld se beste danser nie.”

Dit het selfs sy weg tot in die liedjie gevind met die gedagte dat, as hy net kon byhou, sy Bokkie die hele aand sou dans. En wanneer dit by die grootste fout op die sokkievloer kom, is sy raad eenvoudig: moenie op jou dansmaat se tone trap nie.

Die woord “Bokkie” dra natuurlik ook ’n betekenis waarmee talle Suid-Afrikaanse paartjies hulself sal kan vereenselwig. Vir Nicholis is dit een van die mees algemene troetelname tussen geliefdes – en dit sluit aan by die manier waarop hy sy musiek benader.

“Ek skryf altyd my liedjies sodat enigiemand, of die meeste mense wat dit luister, hulself daarmee kan vereenselwig.”

Hoewel sy eie vrou die inspirasie was, behoort elke luisteraar dus hul eie “Bokkie” in die storie te kan herken.

Dit is ook wat hy hoop mense sal voel wanneer hulle die lied vir die eerste keer hoor: daardie onmiddellike “ah yeah”-oomblik wanneer ’n liedjie begin en jou dadelik op ’n bekende, gemaklike frekwensie plaas.

“Daai ‘feels like home’-frekwensie,” soos Nicholis dit beskryf.

Die groot saamsing-oomblik behoort volgens hom die onweerstaanbare “My Bokkie, oe sy kan sokkie” te wees, saam met die liedjie se “oe-oe”-gedeeltes. En wanneer “Bokkie” by ’n groot kuier begin speel, het Nicholis net een wens:

Dat almal na die dansvloer toe stroom en die partytjie behoorlik afskop.

“Bokkie” behou die prettige temas en opgewekte ritme waarvoor Nicholis bekend is, terwyl dit steeds deel vorm van sy voortdurende musikale ontwikkeling.

“My musiek gaan konstant deur ’n deurlopende evolusie, maar vir my bly dit belangrik dat die musiek altyd vir die luisteraar onmiskenbaar ‘Nicholis’ bly.”

En as daar een reaksie is wat hy ná iemand se eerste luister wil hoor?

“Speel hom weer, laat ek hoor?!”

Met “Bokkie” kry luisteraars ’n persoonlike liefdesverhaal, ’n tikkie humor, hope karakter en ’n ritme wat gemaak is vir Suid-Afrikaanse dansvloere.

Denim en tekkies aan.

Die Bokkie wil sokkie.

Volg vir Nicholis Louw op:

PUBLISITEIT & BEMARKING :
Vonk Musiek
Ashley Du Toit
Sel: 083 963 3055
E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

PLATEMAATSKAPPY :
Vonk Musiek
Francois Roux
Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
E-pos : francois@vonkmusiek.co.za

Optredes

  • KleinGroenBlohm
  • Noord Tot Suid
  • Uiteindelik