Johnny se June is die amptelike temalied van die teaterproduksie Johnny se June
Christiaan Baartman en Marissa Claasen gee die verhaal van Johnny Cash en June Carter ’n Afrikaanse stem met “Johnny se June”, die amptelike temalied van die teaterproduksie Johnny se June. Die duet kombineer Afrikaanse pop met country-rock en vertel van ’n liefde wat te midde van verslawing en die beproewings van die lewe op die pad bly standhou.
Johnny se June benader die egpaar se komplekse lewensverhaal uit June se perspektief. Die intieme verhoogproduksie ondersoek die spanning tussen liefde en die swaarkry wat daarmee saam kan kom. Dié emosionele wêreld vorm die vertrekpunt vir “Johnny se June”, waarin onvoorwaardelike liefde en die wil om aan te hou sentraal staan.
Baartman het die snit spesiaal vir die produksie geskryf en by Bearded Man Studios vervaardig. Hoewel die verhaal gewigtige temas aanraak, is die lied lig en toeganklik, met ’n aansteeklike melodie en ’n klank wat doelbewus op kommersiële radio gemik is. Die country-rock-aanslag sluit aan by die wêreld van Johnny en June, terwyl die Afrikaanse pop-elemente die lied maklik laat luister.
Die samewerking bring Baartman se kenmerkende rasperstem en melodiese aanvoeling saam met Claasen se vermoë om ’n karakter se emosies deur haar vertolking oor te dra. Haar teaterervaring en stemwerk gee uitdrukking aan die diepte en kwesbaarheid van June se verhaal.
Baartman het meer as 20 jaar se ervaring as sanger, liedjieskrywer en vervaardiger. Sy loopbaan sluit 14 nommer-een-treffers in, met meer as 35 enkelsnitte wat in die afgelope vier jaar verskyn het en meer as twee miljoen gesamentlike strome oor alle platforms. Hy is ’n Ghoema-wenner en voormalige Huisgenoot Tempo-liedjieskrywer van die jaar. Met meer as 2 000 lewendige vertonings regoor die land is hy ook ’n ervare verhoogkunstenaar.
Claasen is bekend vir haar vertolking van Nina van Rooyen in Fiela se Kind, asook haar rolle as Sharon Basson in Binnelanders, Anna de Wee in Arendsvlei en Debbie Joubert in Suidooster. Haar werk sluit ook die internasionale reeks In Your Dreams en hoofrolle in verhoogproduksies soos Sirkus L’amour en Hospitale, Kateters en Familielede in. As stemkunstenaar werk sy met oorklankings, advertensies en animasie.
Met “Johnny se June” bied Baartman en Claasen aan Afrikaanse radio en musiekliefhebbers ’n duet waarin ’n saamsingmelodie ruimte maak vir ’n emosionele verhaal. Dit gee die temas van Johnny se June ’n musikale tuiste en plaas June se belewenis van liefde en deursettingsvermoë binne bereik van ’n breër luisteraarsgehoor.














