Daar is min dinge so eg Suid-Afrikaans soos ’n bakkie, ’n daktent, ’n visstok, ’n koelboks en ’n goeie storie met ’n knipoog. Met sy nuwe enkelsnit “Koop vir jou ’n Bakkie”, saam met die geliefde Robbie Wessels, nooi Dassie luisteraars om saam te lag, saam te sing en sommer net weer die pad natuur toe te vat.
Die liedjie is ’n humoristiese, tong-in-die-kies kuierlied wat draai om die idee van ’n manne-naweek, ’n bietjie vryheid, stokperdjies, kamp, 4×4, visvang en die kuns om balans in ’n verhouding te behou. Maar agter die grappige lirieke lê daar ook ’n herkenbare en warm storie.
Volgens Dassie is die lied geïnspireer deur sy eie ouers.
“Die liedjie is geskryf oor my ma en pa,” vertel hy. “Toe ek klein was, was my pa lief vir pyp rook en visvang; my ma is weer lief daarvoor om by die huis te wees met ’n glasie wyn, ’n boek of ’n series.”
Die beeld van die ouman op die voorstoep, wat rustig aan sy pyp trek en raad uitdeel, vorm die hart van die lied. Hy word die karakter wat met ’n glimlag wysheid deel oor hoe elke mens iets nodig het wat hom gelukkig hou.
Die bekende lyn “elke ouman kort ’n speelding om gelukkig te kan bly” verwys volgens Dassie na stokperdjies en belangstellings soos kamp, 4×4 en visvang. Vir hom is dit nie bloot ’n grap nie, maar ook ’n persoonlike passie.
“So lief as wat ek vir musiek is, is dit wat ek doen in my aftyd,” sê hy. “Ek werk in die 4×4-bedryf waar ek bakkies uitrus vir kamp en 4×4, so dit is ’n baie groot passie vir my.”
Met lirieke soos “los haar by die huis” en “gooi net weg jou slippies van wat alles kos”, speel die lied doelbewus met humor wat luisteraars sal laat glimlag. Dassie erken dat sommige vroue dit baie gaan geniet, terwyl ander dalk “’n bietjie omgekrap” kan wees, maar beklemtoon dat die lied nie bedoel is om verhoudings te bespot nie.
“Dit is ’n humoristiese skryfstyl en sonder niks uit nie,” sê hy. “Ek glo daaraan om mense bymekaar te bring om lekker saam te sing en te lag. Hierdie is nie ’n bespotting van verhoudings nie.”
Die lied se boodskap bly uiteindelik lig, vrolik en vol Suid-Afrikaanse karakter. Dit gaan oor ’n eenvoudige manne-wegbreek, maar ook oor herkenning, kompromie en die klein
dinge wat mense gelukkig maak. Selfs die bos blomme in die lied dra ’n boodskap van vrede maak en mekaar bederf.
“Jy gaan nou weg om jou hart te bederf, en elke vrou hou van blomme, so bederf haar ook maar ’n bietjie,” verduidelik Dassie.
Die samewerking met Robbie Wessels maak die lied nog meer besonders. Vir Dassie is dit ’n volsirkel-oomblik.
“Ek het grootgeword met Robbie Wessels en het lief geraak vir stories vertel en ’n humoristiese skryfstyl as gevolg van hom,” sê Dassie. “Daarom is hierdie vir my ’n full circle-oomblik om die liedjie saam met hom te kon opneem.”
Hoewel die lied baie draai om koop—’n bakkie, ’n daktent, ’n visstok en ’n koelboks—vat die brug die dieper boodskap mooi saam: geluk kan jy nie koop nie, liefde is meer werd as geld. Dit is presies waar die lied se balans lê: dit spot, dit lag, dit vertel storie, maar dit herinner luisteraars ook dat die beste dinge in die lewe dikwels in eenvoudige oomblikke lê.
Dassie hoop dat mense die lied saam sal sing, daaroor sal lag en hulself daarin sal herken.
“Man, ek wil hê mense moet identifiseer,” sê hy. “Basies kan ‘mamma’ en ‘pappa’ saamkom en die liedjie en storie saam geniet.”
As Dassie die lied in een sin moet opsom, is dit eenvoudig:
“Kom uit in die natuur, vat die tyd om jouself te geniet en te rus — koop vir jou ’n bakkie.”
“Koop vir jou ’n Bakkie” is ’n lekker-luister, saamry, saamlag en saamsing-lied wat die gees van Suid-Afrikaanse kuierkultuur, kampvuurhumor en padvat-vryheid perfek vasvang.














