Afrikaanse rockgroep Millennium is terug met ’n splinternuwe enkelsnit wat luisteraars van die eerste sekonde af op ’n wilde, energieke rit neem. “Gly mamma gly” is ’n catchy, tong-in-die-kies rocksnit met ’n sterk road-trip gevoel, ’n stewige skeut humor en ’n storielyn wat klink soos iets wat net in die vroeë oggendure kon gebeur.
Die liedjie begin om vieruur in die oggend ná ’n lang week — moeg van sigarette, padkos en drank — en ontwikkel vinnig in ’n tipiese Millennium-storie vol chaos, karakter en kleur. Volgens die band is die song gebaseer op ’n ware gebeurtenis wat een aand in die skrywer se lewe afgespeel het.
“Dit kom uit ’n ou verhaal wat een aand in my lewe gebeur het,” vertel Millennium. “Die aand het in Pretoria en Alberton afgespeel, en daarom is Alberton deel van die storie. As jy in Alberton kuier, moet jy wake up wees.”
Met sy vinniger 12-bar blues-gevoel en partytjie-energie is “Gly mamma gly” ontwerp om mense te laat glimlag, lag en saamsing. Die refrein is eenvoudig, aansteeklik en perfek vir ’n live show — presies die tipe sing-along oomblik wat Millennium graag op ’n album insluit.
Die frase “gly mamma gly” beteken binne die konteks van die song dat wanneer dit tyd is om te gly, jy moet huis toe gaan of vinnig uit ’n situasie moet wegkom. Dit is speels, stout en vol karakter, maar steeds slim gebalanseer sodat jonger luisteraars dit kan geniet terwyl ouer gehore die grappies tussen die lyne raaksien.
“Dit is soms nogal moeilik om nie oor die lyn te trap met te stout lirieke nie,” sê die band. “Ons probeer dit só balanseer dat jonger mense dit ook kan luister, maar die ouer mense vang steeds die grappie.”
Hoewel humor ’n groot deel van die liedjie se persoonlikheid vorm, sê Millennium dit is nie noodwendig die belangrikste element in hul musiek nie. Tog glo hulle dit is altyd lekker om een of twee humoristiese songs op ’n album te hê. “Gly mamma gly” voeg volgens die groep bloot nog meer verskeidenheid by hul rockklank.
Die skryf- en opnameproses van die liedjie het vinnig gebeur. Die song is binne ongeveer ’n halfuur geskryf en in een dag opgeneem. Daardie spontane energie is duidelik hoorbaar in die finale weergawe — rou, pret en reguit op die punt af.
Millennium beskryf “Gly mamma gly” as ’n catchy tune vir mense wat van Afrikaanse rock, kroegstories, blues-energie en ’n lekker stout glimlag hou. Die band hoop luisteraars voel eenvoudig happy wanneer hulle die song vir die eerste keer hoor.
Aanhangers kan ook uitsien na ’n musiekvideo vir “Gly mamma gly”, wat perfek pas by die visuele aard van die lirieke. Die liedjie speel amper soos ’n kortfilm af — van die lang pad en vreemde ontmoeting tot die volgende oggend se chaos en die noodsaaklike besluit om vinnig te gly.
Ná hierdie vrystelling kan luisteraars nog meer van Millennium verwag, insluitend ’n nuwe song saam met Daan van “Brooklyn Bachelor”, wat ook ’n lekker blues-gevoel gaan hê.
Met “Gly mamma gly” wys Millennium weer dat hulle nie bang is vir stories met karakter nie — stories wat lag, rock, ritme en ’n bietjie gevaar saambring.
“Gly mamma gly” is nou beskikbaar.














