Optredes

  • Langpad Rebelle
  • Tot Daar Waar Die Lig Is
  • Twee Klein Oseane
  • KleinGroenBlohm
  • Noord Tot Suid
Jul 24, 2026

Louis Van Lill Gee ’N Stem Aan Die Stil Helde Van Die See Met Sy Nuwe Enkelsnit

Louis van Lill keer terug met ’n aangrypende nuwe enkelsnit wat diep delf in die hart, stryd en hoop van die visserman. Die lied vra ’n eenvoudige, maar kragtige vraag: “Weet jy dalk hoe werk die hart van ’n visserman?” — en van daar af ontvou ’n eerlike verhaal oor opoffering, familie, geloof en die stille krag van mense wat aanhou, selfs wanneer die lewe soos branders teen hulle slaan.

Die oorsprong van die lied het begin tydens die verfilming van Louis se musiekvideo vir “Seerower”. Volgens Louis was dit die videograaf, Morné, wat op daardie dag genoem het dat daar ’n lied geskryf behoort te word oor hoe swaar dit soms met vissermanne gaan.

“Dit is ’n harde lewe, en nie vir almal nie,” sê Louis. “Vissermanne is hartsmense. Hulle maak planne om te “cope” met hoe die see en die lewe jou kan rondgooi.”

Waar daar dikwels oor die see gesing word as ’n plek van lekkerkry, wind, vakansie en gelukkige herinneringe, kies Louis in hierdie lied om die ander kant van die see te belig — die kant van lang ure, onsekerheid, verantwoordelikheid en gesinne wat by die huis wag. Dit is ’n lied vir die man op die boot wat niemand sien nie, maar wat elke dag sy alles gee sodat daar vrede in die huis en kos op die tafel kan wees.

Sentraal tot die lied staan die beeld van ’n pa wat “buig en breek” vir sy mense. Vir Louis was vaderskap en verantwoordelikheid die kern van die skryfproses.

“Die pa wat buig en breek vir sy gesin is die rede hoekom die lied geskryf is,” sê hy. “Ons lewe vir ons geliefdes, en as vaders sal ons alles doen, al is dit hoe hard. Dit is ons verantwoordelikheid as ouers.”

Die liriek “Hy slaan harder as die branders” vang die karakter van hierdie man vas: iemand wat nie maklik gaan lê nie, iemand wat terugveg teen die lewe, weer opstaan en weer probeer. Die lied se koor dra terselfdertyd ’n boodskap van hoop: “Hou vas aan jou seile, môre is nog ’n dag.”

Vir Louis is dit ’n herinnering dat die son weer sal skyn. “Ons kan net beter wees as gister. Gaan vorentoe, want gister slaap in die verlede. Hou vas aan jou seile — die winde kan soms wild raak.”

Die see speel ’n groot simboliese rol in die lied. Branders, water, wind, hawe en seile word nie net as beelde gebruik nie, maar as draers van emosie. Vir Louis verteenwoordig die see iets magtigs: dit kan voorsien, maar dit kan ook neem. Dit moet gerespekteer word, want dit is vir soveel mense die fondasie van hulle bestaan.

Een van die lied se mees beeldryke lyne, “bid vir my met water in jou hande,” verwys vir Louis na lewe, voorsiening en geloof. “Waar daar water is, is daar lewe,” verduidelik hy. “Die water in die huis, en ook die see se water, voorsien vir ons lewe.”

Nog ’n treffende frase, “Die water ken seer,” dra ’n besonderse gewig. Louis beskryf dit as daardie gevoel wanneer ’n mens na die see staar en dit amper voel asof die water jou diepste geheime ken. Op ’n boot, tussen wind en golwe, is ’n mens dikwels alleen met jou gedagtes, jou probleme en jou gebede — en op ’n manier was die see dit skoon.

Musikaal is die lied intiem en kwesbaar benader. Louis wou nie noodwendig ’n groot, dramatiese produksie skep nie, maar eerder iets wat luisteraars laat dink aan die visserman wat stilweg werk, ver van die oë van die wêreld af.

Alhoewel die lied ’n dieper en meer emosionele rigting inslaan, beskryf Louis die skryf- en opnameproses as ’n besondere en positiewe pad. “Daar is altyd plek en tyd vir iets met mening,” sê hy. “Dit gaan nie altyd happy en lucky nie.”

Met hierdie vrystelling hoop Louis dat vissermanne, pa’s, ma’s en elke hardwerkende mens iets van hul eie storie daarin sal hoor. Dit is ’n lied oor oorlewing, geloof, familie en die mense wat swaar laste stilweg dra sonder om altyd erkenning te kry.

“Ek hoop mense onthou om nooit op te gee nie, al raak dit hoe seer,” sê Louis. “Jy is sterker as wat jy dink.”

Ná hierdie betekenisvolle vrystelling kan luisteraars ook uitsien na ’n ligter, gelukkiger klank van Louis van Lill — of soos hy dit self stel: “Keep it Westcoast.”

Volg vir Louis Van Lill op:

PUBLISITEIT & BEMARKING :
Vonk Musiek
Ashley Du Toit
Sel: 083 963 3055
E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

PLATEMAATSKAPPY :
Vonk Musiek
Francois Roux
Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
E-pos : francois@vonkmusiek.co.za

Optredes

  • Langpad Rebelle
  • Tot Daar Waar Die Lig Is
  • Twee Klein Oseane
  • KleinGroenBlohm
  • Noord Tot Suid