Optredes

  • KleinGroenBlohm
  • Noord Tot Suid
  • Uiteindelik
Leon Ferreira
Okt 9, 2026

Leon Ferreira Se Nuwe Lied “Onaantasbaar” Is ’N Kragtige Herinnering Aan Wie Jy Is — En Wie S’n Jy Is

“Daar’s ’n rede hoekom jy nog hier is.”

Met sy nuwe lied, “Onaantasbaar”, bring Leon Ferreira ’n diep persoonlike en geloofsgedrewe boodskap van hoop vir elkeen wat al gewonder het waarom die lewe soms soos ’n aanhoudende geveg voel.

Die lied probeer nie voorgee dat geloof ’n mens van moeilike tye, donker oomblikke of laagtepunte vrywaar nie. Inteendeel. “Onaantasbaar” kyk die stryd vierkantig in die oë en herinner die luisteraar dat die geveg waarin jy jou bevind, nie die finale sê het oor wie jy is nie.

Vir Leon lê daar juis iets betekenisvol in die moeilike plekke waardeur ’n mens soms moet gaan.

“Al ons Bybelse helde het deur moeilike tye gegaan op pad na die hoogtepunt in hul roeping,” sê hy en verwys onder meer na Dawid, Daniël, Josef, Sadrag, Mesag en Abednego.

Dit is dié spanning tussen swaarkry en roeping, donkerte en lig, kwesbaarheid en geloof wat aan “Onaantasbaar” sy hartklop gee.

Sentraal tot die lied is die gedagte dat daar iets binne die gelowige geplant is wat nie deur omstandighede of duisternis vernietig kan word nie.

Vir Leon is dit eenvoudig: Christus in hom — die hoop van heerlikheid en die onverganklike Saad van God self.

Die herhalende woorde “gemerk, bewaak, onaantasbaar” word daarom veel meer as net lirieke. Dit word ’n verklaring van identiteit.

“God se liefde en trou kan jou nie vir ’n nano-sekonde verlaat nie,” verduidelik Leon.

Die lied gaan egter selfs verder as die gedagte van beskerming. Dit sê ook: “Nie net beskerm nie, jy is gesien.”

Volgens Leon lê daar enorme betekenis daarin om te verstaan hoe persoonlik God se liefde werklik is.

“Ons besef nie regtig hoe intens persoonlik God se liefde vir ons is nie. God het nie net almal lief nie — Hy het elkeen lief.”

Die titel “Onaantasbaar” kan op die oog af klink asof dit verwys na ’n lewe waarin niks jou kan seermaak nie. Maar die lied vertel ’n ander verhaal. Daar is donkerte. Daar is laagtepunte. Daar is ’n stryd.

Vir Leon gaan die begrip eerder oor die ewige identiteit van die geestelike mens.

“Ons word so oorweldig deur die bewustheid van ons fisiese bestaan dat ons amper kontak verloor met die realiteit van ons gees. Die geestelike mens is die een wat die ewige lewe het — onaantasbaar, selfs ná die dood.”

Die lig wat deur die lied loop, is daarom nie iets wat bloot van buite af kom nie.

“Die lig van God is in elkeen van ons. Lig het nie die donker se toestemming nodig om te skyn nie. Waar lig val, daar stop die donker.”

Een van die lied se sterkste gedagtes is die verklaring dat ’n mens selfs in jou laagste oomblik steeds kan staan.

Leon verduidelik dat dié “staan” nie noodwendig letterlik is nie.

“Dit praat van weier om op te gee, selfs wanneer die stryd verlore lyk.”

“Onaantasbaar” beskryf die mens wat sy identiteit in Christus ontdek as ’n “ontwrigting vir duisternis” — iemand wie se bestaan hoop bring in ruimtes waar wanhoop posgevat het.

“Mense herken jou Christus-identiteit, jou Goddelike vertroue. Dis iets wat hoop bring waar wanhoop gesaai is. Dit ontwrig donker denke,” sê Leon.

Maar daardie lig begin volgens hom by bewustheid.

“Jy moet egter eers self daarvan bewus raak. Die lied se hele doel is om deel van daardie bewusmaking te wees.”

Selfs die beeld “geestelike swaartekrag trek jou in” wys terug na dieselfde fondament: om gegrond te raak in wie jy werklik is.

“Dis om geestelik gegrond te wees. Om te besef wie jy is en wat jou identiteit in Christus werklik beteken.”

Die woorde “jou bestaan bly hoop, jou stem bring lig” dra vir Leon as kunstenaar besondere betekenis.

“As kunstenaar het ek ’n platform, ’n invloedsveld waar ek hoop en lig kan bring deur wat ek sing en sê.”

Tog glo hy dié verantwoordelikheid is nie net vir kunstenaars beskore nie.

“Dit geld vir elke mens, want elkeen van ons is hier om die mense rondom ons met hoop en lig te bedien.”

Dit was juis die lied se sterk boodskap oor identiteit en behoort wat Leon van die begin af aangegryp het.

“Die gevoel dat ek deel is van ‘iets’ baie groter as myself en dat ek onaantasbaar is — nie as gevolg van wie ek is nie, maar as gevolg van wie s’n ek is.”

Ook in die opnameproses het Leon doelbewus ruimte gemaak vir die menslikheid agter die sterk verklarings.

“Daar is dele in die vokale benadering wat kwesbaar uitgekom het gedurende die opname. Ons het besluit om die meeste daarvan te hou en nie na perfeksionisme te streef nie. Ek is opgewonde dat dit hoorbaar is.”

Vir hom is daar iets betekenisvol in die kontras tussen kwesbaarheid en die gedeeltes wat soos vaste geloofsverklarings klink.

“Dis makliker om die sterk verklarings in oorgawe te sing as om toe te laat dat die kwesbaarheid deurkom.”

En dalk is dit presies waar die kern van “Onaantasbaar” lê: geloof beteken nie dat daar geen geveg is nie. Dit beteken dat die geveg nie toegelaat word om jou identiteit te bepaal nie.

“Die geveg is om ons gedagtes onder beheer te hou. Om nie toe te laat dat omstandighede ons aandag aftrek van die waarheid van wie ons is en wie s’n ons is nie.”

Wanneer Leon die lied sing, dink hy nie net aan mense wat reeds sterk in hul geloof staan nie. Hy dink aan elkeen wat lank reeds voel asof hulle in ’n stryd gewikkel is, maar steeds nie heeltemal verstaan waarom nie.

“Dis amper almal van ons.”

En vir die persoon wat “Onaantasbaar” dalk op een van hul donkerste dae hoor, is daar een boodskap wat Leon hoop bo alles sal bly:

“Opgee is nie ’n opsie nie, want jy is gekies omdat jy het wat dit vat!”

Wanneer die woorde “gemerk… bewaak… onaantasbaar” uiteindelik weer en weer weerklink, word dit vir Leon self ’n oomblik van nuwe moed.

“Ek skep moed. Ek sien kans. Ek gee die volgende tree…”

Dit is uiteindelik ook die hart van “Onaantasbaar” — ’n lied vir mense wat steeds in die geveg is, steeds kies om te staan en steeds Sy lig dra.

En as Leon die hele boodskap in net een sin moet saamvat, is dit:

“Daar’s ’n rede hoekom jy nog hier is!”

Volg vir Leon Ferreira op:

PUBLISITEIT & BEMARKING :
Vonk Musiek
Ashley Du Toit
Sel: 083 963 3055
E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

PLATEMAATSKAPPY :
Vonk Musiek
Francois Roux
Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
E-pos : francois@vonkmusiek.co.za

Optredes

  • KleinGroenBlohm
  • Noord Tot Suid
  • Uiteindelik