Die geliefde Suid-Afrikaanse sangeres Andriëtte stel haar splinternuwe enkelsnit “Uyenze (Doen Dit)” vry – ’n energieke, opbouende liedjie wat luisteraars aanmoedig om hul drome te leef, kanse te vat en weer in hulself te glo.
Die liedjie, geskryf deur Rudi Claase, kombineer ’n moderne popklank met ’n unieke Afrika-gevoel en dra ’n sterk boodskap van hoop, selfgeloof en samehorigheid. Volgens Andriëtte is die inspirasie vir die liedjie diep persoonlik.
“Van my Idols-dae af het Randall altyd gesê daar is ’n bietjie ‘African’ in my, en met Uyenze bring ons dit na vore,” vertel sy. “Ek is trots Afrikaans, maar ek glo ook musiek kan oor grense en tale beweeg.”
Toe sy die liedjie die eerste keer hoor, was dit onmiddellik ’n treffer in haar hart. “Ek was mal daaroor. Dit is die tipe liedjie wat jou sommer net goed laat voel,” sê sy.
Die woord “Uyenze”, wat “Doen dit” beteken, vorm die kern van die liedjie se boodskap. Andriëtte hoop dat luisteraars geïnspireer sal word om nie toe te laat dat vrees of ander mense hul drome breek nie.
“Ek wil hê mense moet voel: Jy kan. Ons almal is hier met ’n doel, en ek hoop hierdie liedjie motiveer mense om weer in hulself te glo,” verduidelik sy.
Die samewerking met Rudi Claase het ontstaan nadat hy haar gevra het om eerlik te deel wat op haar hart lê. “Ek het vir hom gesê ek soek ’n Afrikaanse motiverende liedjie wat oor rassegrense kan strek. Ek wil hê iemand wat Xhosa praat moet ook saam kan sing.”
Die liedjie is in die ateljee opgeneem saam met Dirk van Niekerk, en volgens Andriëtte was die opnameproses besonders. “Dirk weet presies wat hy doen, en hierdie liedjie pas baie lekker by my stem.”
“Uyenze (Doen Dit)” bring ook ’n nuwe klank na haar repertoire. Waar haar musiek tradisioneel meer kontemporêr is, beweeg hierdie enkelsnit effens meer na ’n energieke popklank. Die resultaat is ’n hoë-energie liedjie wat gemaak is om saam gesing te word.
“Dit is daai tipe liedjie wat jou laat saam sing – al is jy ’n introvert,” lag sy.
Andriëtte sien reeds voor haar geestesoog hoe gehore saam die koor uit volle bors sing:
“UYENZE, WAAR’S AL DIE MENSE? WAAR’S AL DIE VOETE?”
“Ek droom daarvan om by ’n fees uit te stap en almal sing Uyenze kliphard saam met my,” sê sy.
Die visuele konsep vir die liedjie se musiekvideo sal dieselfde energie en trots weerspieël. “Ek sien mense van alle kleure wat saam dans en sing – met ligte, rook en selfs vuurwerke. Ons wil iets skep wat mense warm laat voel oor ons land en ons musiek.”
Andriëtte hoop die liedjie sal veral aanklank vind by jong mense met drome, maar ook by mense wat dalk oor die jare hul moed verloor het.
“My gunsteling lyn in die liedjie sê alles: ‘Leef jou drome en weet dat jy kan.’”
“Uyenze (Doen Dit)” is die eerste van nog nuwe musiek wat op pad is. Volgens Andriëtte is daar reeds nog twee liedjies in die pyplyn wat binnekort vrygestel sal word.
In die komende maande kan aanhangers ook uitsien na talle optredes. Sy sal onder andere by die KKNK op 1 April, Oos Wes Tuis Bes in Kaapstad, en NAMPO optree.
“Ek is lus om die land plat te sing,” sê sy met ’n glimlag.
“Uyenze (Doen Dit)” is nou beskikbaar op alle digitale platforms.











