Apr 10, 2026

Anton Goosen Se Nuwe Enkelsnit-Uitreiking “Hokaai Hokaai”

Die legendariese liedjieboer en pionier van Afrikaanse rock, Anton Goosen, vier in 2026 nie net sy 80ste verjaardag nie, maar ook ’n merkwaardige mylpaal van meer as vyf dekades se invloed op die Suid-Afrikaanse musiekbedryf. Met die uitreiking van sy nuwe enkelsnit “Hokaai Hokaai” op 10 April 2026, bewys Goosen weer eens waarom hy beskou word as een van die invloedrykste sanger/liedjieskrywers in Afrikaanse musiek.

“Hokaai Hokaai” is ’n liriese en nostalgiese reis deur die hart van die Klein-Karoo, spesifiek die ikoniese Seweweekspoort en die Klein Swartberge. Die lied vang die gevoel van liefde, lig en hoop vas — temas wat diep verweef is met die menslike ervaring.

Die storie van die lied handel oor ’n vryer op sy wit perd wat deur die berge reis, aangelok deur ’n simboliese lig van liefde. Die beeldryke lirieke en natuurlike landskappe skep ’n tydlose romantiese narratief wat aanklank vind by gehore oor generasies heen.

Hoewel “Hokaai Hokaai” oorspronklik reeds in 1989 opgeneem is tydens die Kommissie van Ondersoek-era vir die Winde van verandering-album, was dit nie op die finale album ingesluit nie. Meer as drie dekades later is die oorspronklike opnames herontdek en met vars kreatiewe en moderne energie herskep.

Die nuwe weergawe bevat bydraes van:

  • Lise Swart (sang)
  • Schalk Joubert (basghitaar)
  • Illimar Neitz (elektriese ghitaar en “lapsteel” )

Terwyl die oorspronklike stemme van Lucas Maree, Helena Hettema en Karlien van Niekerk behoue bly, is die produksie kundig afgerond deur die ingenieur Peter Pearlson, ’n jare lange medewerker en vriend van Goosen.

Die musiekvideo is vervaardig deur die akteur Neil Sandilands en die voorbladfoto deur Estie Goosen.

Die titel “Hokaai” beteken letterlik “wag ’n bietjie” of “staan stil” in Afrikaans (en Suid-Sotho) – ’n eenvoudige maar kragtige herinnering om in ’n vinnige wêreld weer stil te staan en die skoonheid van die lewe raak te sien.  Soos Goosen self dit stel: “As die lewe te erg versnel om jou, hokaai ’n bietjie en kyk rondom jou – die skoonheid lê in eenvoud.”

Anton Goosen se loopbaan strek oor meer as vyf dekades en sluit baanbrekende prestasies in:

  • Skepper van die eerste volwaardige Afrikaanse singer-songwriter album (Boy van die Suburbs, 1979)
  • Bekroon as die “Vader van Afrikaanse rock”
  • Skrywer van honderde ikoniese liedjies vir homself en kunstenaars soos Sonja Herholdt, Carike Keuzenkamp, Laurika Rauch ens.
  • 19van sy musikale skeppinge is opgeneem in die F.A.K sangbundel (die meeste deur ’n komponis)
  • Verskeie SAMA’s, Saries, ’n ere-medalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK), Die Aitsa, Fiësta en Kalfiefees Lewensbydras, e.a.

Sy werk het die Afrikaanse musieklandskap onherroeplik verander en dien steeds as inspirasie vir nuwe generasies kunstenaars.

Die uitreiking van “Hokaai Hokaai” vorm deel van ’n groter viering van Goosen se lewe en nalatenskap, insluitend:

  • Sy 80ste verjaardag op 5 Maart 2026
  • Die herdenking van 50 jaar sedert die treffer “Jantjie” bekendgestel is
  • Verskeie optredes landwyd saam met sy musikale medewerkers
  • En ‘n voetnota: Geen KI (AI) is in die opname gebruik nie

“Hokaai Hokaai” is nou beskikbaar op alle digitale platforms, saam met die amptelike musiekvideo op YouTube

Volg vir Anton Goosen op:

PUBLISITEIT & BEMARKING :
Vonk Musiek
Ashley Du Toit
Sel: 083 963 3055
E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

PLATEMAATSKAPPY :
Vonk Musiek
Francois Roux
Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
E-pos : francois@vonkmusiek.co.za