Jun 13, 2025

Anton Myburgh Se Roerende Lied Van Bevryding En Aanvaarding

Met sy rou lirieke, diep empatie en eerlike selfondersoek bied Anton Myburgh se nuwe enkelsnit, “Wat Verby is, is Verby”, ’n roerende oproep tot bevryding van die verlede – en ’n herinnering dat elke dag ’n nuwe begin is.

Die lied begin met die woorde: “As jy nie kan vergeet nie en toue hou jou vas…”, en dis juis daardie “toue” – emosionele letsels, pynlike ervarings en onverwerkte herinneringe – wat Myburgh se inspirasie vorm. “Daar is dinge wat met mense gebeur wat baie erg is,” sê hy. “Wat moeilik vergeet word en jou lewe ingrypend verander. Dit is toue wat jou vashou.”

Myburgh se gebruik van die beeld “verbrande as” spreek van finaliteit – ’n wete dat die verlede nie herskryf kan word nie, ongeag hoe graag ’n mens dit wil doen. “’n Mens kan nie jou verlede verander nie, al wil jy graag,” sê hy eerlik.

Tog gaan hierdie lied nie net oor verlies nie, maar oor groei. In vers 2 sing hy: “Sonder lig is daar geen donker…” – ’n filosofie wat hy nie as ‘n blote teorie beskou nie, maar as ‘n harde lewensles: “Dis nie ’n filosofie nie maar ’n realiteit. ’n Mens moet aanpas en vorentoe gaan.”

Vir Myburgh is aanvaarding van die hede en die loslaat van gister ’n aktiewe keuse. Hy glo: “’n Mens leef nou en nie gister of môre nie.” En hoewel goeie herinneringe gekoester moet word, is sy boodskap duidelik: “Goeie dinge moet onthou word en slegte dinge vergeet word.”

Een van die mees aangrypende reëls kom in vers 3: “Elke afdraaipaadjie ken jy…”. Vir Myburgh simboliseer dit die keuses wat ’n mens maak om pyn te vermy. “’n Mens vermy slegte goed en daarom draai jy af,” verduidelik hy. Tog dra elke afdraaipaadjie by tot die vorming van ’n mens – en in sy geval, tot sy kunstenaarskap.

Sy lirieke spreek van innerlike pyn, skuldgevoelens en die dinge wat ons saam met ons dra. “Slegte goed moet uitgehaal word uit jou geheue, anders word dit te groot om te hanteer,” sê hy. En tog steek daar ook ’n intense deernis agter die woorde: “Ek wil jou seer vir jou weg vat…”. Al wil hy nie verklap vir wie die lied spesifiek geskryf is nie, is dit duidelik dat dit ’n persoonlike huldeblyk is – en dalk selfs ’n genesingsgebed

In vers 6 wys hy sy empatie met ’n ander se pyn: “In jou bloues sien ek seerkry, vir die res van die wêreld smile jy…”. Dit beklemtoon sy vermoë om agter mense se glimlagte te kyk en werklik om te gee. “As jy omgee, sal jy seer aanvoel en weet dat daai persoon binne-in hartseer is.”

Uiteindelik is “Wat Verby is, is Verby” ’n lied oor vryheid – nie net van ander nie, maar van jouself. “Bevryding is die doel,” sê Myburgh. “Bevryding van toue wat ander om jou gedraai het, of wat jy self om jou gedraai het.”

Met hierdie lied skep Anton Myburgh nie net ’n musikale ervaring nie, maar ’n ruimte vir selfrefleksie, genesing en nuwe beginne. Want soos hy sing: “Wat verby is, is verby. Net die hede bly.”

Volg vir Anton Myburgh op:

PUBLISITEIT & BEMARKING :
Vonk Musiek
Ashley Du Toit
Sel: 083 963 3055
E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

PLATEMAATSKAPPY :
Vonk Musiek
Francois Roux
Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
E-pos : francois@vonkmusiek.co.za