Ons almal ervaar daardie see-koors teen die einde van die jaar — wanneer die werk staan en stapel, en ’n mens nét ’n bietjie motivering kort om die laaste take oor die streep te kry. Hierdie universele hunkering na die kus is die hartklop agter Baartman se splinternuwe EP wat oor die komende paar weke aan die publiek bekendgestel word.
Die EP skop af met ’n vurige rock-en-roll-weergawe van Koos Kombuis se legendariese lied, “Almal wil ’n huisie by die see hê”, wat op 21 November vrygestel word. Die lied word vergesel deur Baartman se gewilde treffer van verlede jaar, “See Toe”, ’n song wat die opgewondenheid en vooruitskouing van ’n naderende kusvakansie perfek vasvang.
Die inspirasie vir hierdie projek spruit uit Baartman se eie liefde vir die see — ’n passie wat diep gewortel is sedert hy jare gelede vir die eerste keer Sodwana besoek het om tydens ’n Billfish-kompetisie op te tree. Die ervaring om die oop see van so naby te beleef, was volgens hom een van die mees onvergeetlike oomblikke van sy lewe. Hieruit het die visie ontstaan om ’n EP te skep wat vissers, oseaanliefhebbers en vakansiegangers aanspreek, en wat die unieke emosie van die see op ’n treffende manier verwoord.
Een van die EP se hoogtepunte is die energieke en vrolike snit “Vissie Vissie”, ’n samewerking tussen Baartman en die geliefde kunstenaar Fatman. Die lied, wat op 12 Desember uitgereik word, sprankel met humor, ritme en ’n onmiskenbare liefde vir die see en vir diepseehengel. Saam daarmee word Baartman se weergawe van Zirk Bergh se gewilde lied, “’n Huisie by die See”, ook bekendgestel as deel van die volledige EP-pakket.
Hierdie projek vorm ’n heerlike, afgeronde produk wat perfek is vir die laaste paar werksdae voor die vakansie — én vir vissers wat ’n bietjie nuwe energie vir die jaar wil bymekaarmaak.
Die EP se energieke en positiewe benadering is ideaal vir radio- en TV-speellyste, en word ondersteun deur ’n kragtige sosiale-media-veldtog wat deurgaans momentum sal bou rondom elke vrystelling.
Baartman, wat al meer as 20 jaar in die musiekbedryf is, verstaan die volledige spektrum van kunstenaarskap — van skep en produksie, tot bemarking en live-optredes. Sy ervaring en passie, gekombineer met die unieke vermaaklikheidswaarde van Fatman, maak dat ons vas glo “Vissie Vissie” op pad is na groot sukses











